Sy Genade Kan Jou Deurdra

Sy Genade Kan Jou Deurdra

Deur Krista / 21 April 2020 / Gee Hoop Mini-Reeks

Vir party beteken hierdie tyd van sosiale afstand algehele isolasie. Hulle werk van die huis af, het virtuele vergaderings met vriende en kollegas en stroom aanlyn eredienste.

As ‘n ma van vyf kinders, is dit allesbehalwe die geval sover dit my huidige realiteit betref!

Hier in Pole, waar ons woon en werk as sendelinge, het ons realiteit die afgelope paar weke na algehele inperking verskuif. Die Poolse regering het baie vinnig opgetree: skole is gesluit en ek moes eensklaps drie verskillende graadvlakke in Pools (wat nie my huistaal is nie!) tuis onderrig.

Toe het die Poolse regering die landsgrense gesluit. As buitelanders wag ons nog op ons verblyfpermitte, en dit noodsaak ons om in hierdie tyd nog meer op die Here te vertrou. Ons het gister gehoor dat die laaste vlugte na Kanada en die Verenigde State hierdie week sou vertrek. Dis vir ons ‘n gewigtige realiteit dat dit fisies onmoontlik is om na ons vaderland terug te keer indien enigiets met ons ouers sou gebeur.

‘n Toer wat ek en my man beplan het vir ons huweliksherdenking (met kindertoesig vir ‘n week ingesluit) is gekanselleer. Ons kan nou met $10 000 beboet word as ons, buiten vir kruideniersware, werk, doktersbesoeke of noodsaaklike COVID-19 verligting, ons huise verlaat.

Te midde van hierdie gewigtige realiteite worstel ek daarmee dat ek, as ‘n ‘sendelingma’, nie in hierdie tyd méér doen om mense van Jesus te vertel nie. Terwyl ander betrokke is by aanlyn Bybelstudies, kerkdienste en verhoudings, verg die versorging van die agt mense in ons huishouding alles van my. Dit het my genoodsaak om weer die grootste gebod in oënskou te neem: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’  Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’  Geen ander gebod is groter as dié twee nie” (Markus 12:30-31).

Het ek die Here met my hele hart lief?

Dit is so belangrik om in hierdie tye met ons Redder, Verlosser en Vriend verbonde te bly. Wanneer ek daagliks tyd met sy Woord deurbring en bid, gee dit my ‘n ewigheidsperspektief op die huidige pandemie. Net Hy kan Waarheid, lewe en hoop in my hart inspreek.

As ek die woord ‘naaste’ lees, dink ek aan die mense wat in die huis langsaan bly. Die Here help my om te besef hierdie gebod is om ook my vyf kinders, my man en myself lief te hê. Dit kan nogal ‘n uitdaging raak om so ingeperk saam met ons gesinne te bly. Ons het sy genade net soveel (indien nie meer nie) nodig om diegene in ons eie huise lief te hê! 1 Timoteus 5:8 herinner my dat wat God op hierdie tydstip van my vra, is om my gesin te versorg: “As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as ‘n ongelowige.”

Ek en my kinders het nou die dag prente van reënboë geteken en dit toe by ons bejaarde buurvrou, wat ‘n weduwee is, afgegee. Sy was so bly dat sy gebel het om dankie te sê en gevra dat ek vir die seuns ‘n drukkie moes gee. Ons het haar laat weet dat sy ons moet laat weet as sy enige hulp, of selfs kruideniersware, nodig het.

Ongeag of jou stryd tydens die pandemie eensaamheid en isolasie is, of om   saamgebondel en uitgeput te wees, dit is net God se genade wat jou kan deurdra!

Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. – Galasiërs 6:9

Krista

Krista Taylor,

Leier van die LGG Poolse tak – Wroclaw, Pole

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse