Styg Bo Die Pyn

Deur Angela | Julie 20, 2018 |Waarheid Oorwin

Op die oomblik sien ek baie vrouens wat ongelooflike pyn ervaar. Vriende wat ek geseënd is om te ken, aanlyn kennisse, en vrouens wat ek nog nooit ontmoet het nie, wat almal hulle verhale van pyn deel. Elke situasie is anders. Elke verhaal hartverskeurend. Nie een verhaal is dieselfde nie, en nogtans het hulle een ding in gemeen: hulle is gebroke.

 Net so is ek ook.

Vir jare het ek geworstel om oor die pyn, woede en hartseer te kom van dinge wat aan my gedoen is of vir my gesê is. Julle sal nie glo wat mense kan sê wanneer hulle agter ‘n rekenaarskerm kan wegkruip nie.

Ek het toegelaat dat onvergewensgesindheid vesting in my gedagtes inneem. Ek het toegelaat dat my hart hard word en ek het “beskermende” mure opgebou sodat niemand my weer so kan seermaak nie. Met tye het ek gevind dat ek, soos Dawid, baie “kry my vyand” gebede gebid het.

Maar, ek het toegelaat dat dit ongesond word. In plaas van om stappe tot genesing te neem. Ek het gevind dat ek vassit in die pyn. Ek het die trauma oor en oor in my gedagtes herhaal.

In plaas van om myself te sien as iemand teenoor wie ‘n onreg gedoen is, het ek myself as ‘n slagoffer begin sien.

Wanneer ek dit gedoen het, het Satan daardie etiket oor my gedagtes geplaas en dit het my identiteit geword.

Jare na die gebeurtenis, kon ek steeds nie aanbeweeg nie. Dit het steeds my alledaagse lewe en my huidige verhoudings beïnvloed.

Ek het nodig gehad dat God my genees.

Miskien bevind jy jouself in ‘n soortgelyke situasie.

Ek glo dat God almal van ons kan genees op verskillende maniere. Vir sommige kan dit wonderdadig wees. Ander moet met iemand praat en berading soek. Of dit mag beteken dat jy medikasie moet neem. Die vorms van genesing kan wissel.

Satan het hard gewerk in my lewe om dit wat met my gebeur het te verander in wie ek is.

My identiteit word nie gevind in my letsel nie, my identiteit word gevind in Christus en wat Hy vir my gedoen het.

Dit is die verskil.

Wanneer ek myself sien as ‘n slagoffer, het ek geen krag om te oorkom nie. Ek het geen geleentheid om te genees nie.

Ek hou van Josef se woorde aan sy broers wat hom jare gelede in slawerny verkoop het: “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen.” (Gen. 50:20)

Wanneer ek toelaat dat God my genees en my verby my pyn, verby my veronregting beweeg, kan ek kies om myself nie meer as ‘n slagoffer te sien nie, maar eerder as ‘n oorwinnaar. Deur Christus is ek tot ALLES in staat!

  • Net omdat iets met my gebeur het, beteken dit nie dit is wie ek is nie.
  • Ek hoef nie my identiteit in my letsel te vind nie.
  • God kan my genees en eer gee in plaas van smart.

Ek hou van Jesaja 43:18-19:

“Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, en julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.”

Alhoewel baie van ons deur wildernis en woestyne gewandel het, hoef ons nie daar te woon nie. God is met ons en Hy kan ons na vryheid lei.

As Hy kragtig genoeg is om hierdie wêreld te skape, is Hy kragtig genoeg om iets nuuts uit ons lewens te skep. Deur sy liefde en genesing sal Hy ‘n uitkoms voorsien – ons moet net volg. Satan sal probeer om ons te verlei om in die pyn te bly. Hy sal ons gedagtes voed om ons daar te hou. Ons moet leer om terug te veg met God se waarheid. Ons verlede definieër ons nie, God definieër ons.

God wil meer vir ons lewens hê… en ek ook.

Ons verhale mag met pyn begin, maar dit hoef nie op daardie manier te eindig nie.

  • Vanweë Christus is ons sterk.
  • Vanweë Christus kan ons oorkom.
  • Vanweë Christus kan ons genees word.
  • Vanweë Christus kan ons vergewe.
  • Vanweë Christus kan ons aan dié wat na ons kom wys dat ons nie gedefinieër word deur wat met ons gebeur het nie, maar eerder deur aan Wie ons behoort.

Ons is Syne.

Ek is nie ‘n slagoffer nie.

En jy ook nie nie, liewe vriendin.

Wees heelhartig lief vir God,

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse