Deur WhitneyD | Oktober 6, 2017 | 1 & 2 Timoteus
Dit voel asof my huis deesdae gons van konstante geraas. Of dit is van die loutere volume van ses mense wat permanent interaksie het, die energie van veelvoudige tieners, ons voordeur wat konstant oop en toe gaan om ‘n gereelde vloei van die omgewing se kinders te verwelkom, of dit is borde wat klingel of musiek wat speel, of voetbal ondersteuners wat juig… die hoeveelheid gesprekke en volume wat op ‘n daaglikse basis deur hierdie plek vloei is ongelooflik.
Baie keer doen ons dit reg (en ons het baie pret in die proses).
Maar somtyds doen ons dit nie reg nie. Persoonlike verwagtinge en opinies kom op die voorgrond. Ons is geneig om onsself te oortuig van halfwaarhede wat ons persoonlike agendas bevorder. Die sondige uitvloei van ons harte kom uit ons monde uit voordat ons ‘n kans het om die woorde wat ons wens ons nooit gesê het nie, te filter of te stop.
In hierdie huis is ons lief vir Jesus.
Elke enkele een van ons. En ons het mekaar innig lief. Maar ons is ‘n passievolle klomp, en dit is ‘n daaglikse stryd om rustiger te word, ons gedagtes vas te vang, ons woorde versigtig op te weeg en enige selfsugtige en sondige motiewe te vervang met die inhoud en toon van die Vrug van die Gees.
Is dit vir jou ook so?
As ons sukkel om nederig en saggeaard te bly en om God se Woord uit te leef as gelowiges in ons eie huise en kerke, hoe meer van ‘n uitdaging is dit om sterk te staan in ‘n wêreld wat die einste God wat ons dien, sterk opponeer?
Kultuur sal ons verlei om God se waarheid op te gee. Dit sal ons aandag aflei met ‘n duisend verskillende politiese, sosiale en persoonlike wêreldse agendas. As ons nie op ons hoede is en gegrond is in die Woord nie, sal ons geleenthede mis om sout en lig in die donkerte te wees, omdat ons onsself toegelaat het om té diep in die huidige dwase strydvrae ingetrek te word.
[Ek wed jy kan ‘n paar dwase strydvrae opnoem wat jou lewe selfs hierdie week beïnvloed het.]
Die vraag is nie of ons dit sal teëkom nie. Dit is hoe ons reageer wanneer ons strydvrae teëkom, wat die potensiaal het om óf groter verdeeldheid te veroorsaak, óf die liefde van Jesus te skyn in die donkerste plekke.
“Moet jou nie met dwase en sinlose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak. ‘n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra. Met vriendelikheid moet hy teenstaanders teregwys.…” – 2 Timoteus 2:23-25
Daar is ‘n tyd om te praat. Maar wanneer ons praat, kom ons maak seker dat ons lewe spreek…
Versprei welwillendheid.
Onderrig die waarheid.
Verdra geduldig.
Korrigeer sagkens.
“Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot insig van die waarheid bring…” (v. 26)
En as jy nie verseker is dat jy met welwillendheid, waarheid, geduld en sagtheid kan praat nie? Vriendin, dan is jy dalk nie gereed om die by die gesprek aan te sluit nie.
Vee daardie sms boodskap uit.
Moenie daardie kommentaar plaas nie.
Tree weg van die geraas.
Moet nog nie daardie vergadering aanvra nie.
In plaas daarvan, rus in daardie stil plek waar jy en Jesus ontmoet. Open God se Woord en nooi Hom om lewe en genesing en waarheid en heiligheid te spreek in die growwe plekke. Bely sondige trots en woorde wat nie reg gesê is nie. Vra vir God se wysheid om mensgemaakte wysheid te vervang, en vra vir ‘n ware, Geesgeleide hartsverandering. Die Een wat jou roep is getrou, en Hy sal jou voorberei om die waarheid in liefde te spreek wanneer die tyd reg is.
Kom ons praat: In watter omstandighede vind jy dit die moeilikste om vandag se verse uit te leef? Ons span sal geëerd wees om vandag vir jou te bid…
By Sy voete,
_______________________________________________
Stel jy belang om te help met vertaling, of om ons te help om vrouens te bereik in ander lande in hul moedertaal? Los ‘n boodskap by die kommentaar en sê in watter taal jy belangstel! Ons het altyd meer vertalers nodig en ook vrouens wat ‘n gawe het in grafiese werk, tegnologie, mentorskap… in AL ons tale. Ons wil graag saam met jou werk en meer vrouens bereik met God se Woord en Bybelstudie materiaal in 2017!