Soek Vrede
Deur Melissa / 18 Desember 2018 / Saligsprekinge
Hierdie week bestudeer ons wat dit beteken om ‘n vredemaker te wees. Psalm 34 gee aan ons ‘n spesifieke opdrag om vrede te soek en na te streef.
Psalm 34 word gekategoriseer as ‘n psalm van lof. Dawid (die skrywer van Psalm 34) het God geprys vir sy grootheid. Hy het onthou hoe God hom geantwoord het en hom verlos het van al sy vrese. Dawid erken alles wat God vir hom gedoen het, en gee aan ander die opdrag om op die Here te vertrou en Hom te ken. Een van hierdie instruksies was om vrede na te streef.
Vrede is ‘n algemene tema in die Skrif: Romeine 12:18 sê vir ons dat ons in vrede met almal moet lewe, solank dit binne ons vermoë is; Jesus word die Prins van Vrede genoem (Jesaja 9:6) en belowe om Sy vrede aan gelowiges te gee en beveel ons om nie bang te wees nie (Johannes 14:27); Jesus se offer laat ons vrede met God hê (Romeine 5:1); Vrede is een van die vrugte van die Gees (Galasiërs 5:22), iets wat duidelik blyk in die lewe van ‘n volgeling van Christus.
Waarom sou Dawid ons in sy psalms opdrag gee om vrede te soek en na te streef, selfs al beloof God om dit aan ons te gee? As daar vrede aan ons gegee word, waarom moet ons daarvoor werk?
Wanneer ‘n land vrede beleef, identifiseer ons dit tipies as die afwesigheid van ‘n oorlog; of dit nou ‘n burgeroorlog is, of ‘n oorlog teen ‘n ander volk. Dit beteken dat die burgers van daardie land nie in ‘n toestand van onrus of vrees verkeer nie. Dit beteken dat diegene wat aan bewind is, regeer tot voordeel van hulle volgelinge, en dat daar aan die landsburgers se behoeftes voorsien word.
Maar politieke vrede gebeur nie vanself nie. Dit is onnatuurlik vir ons gevalle aard om vrede te hê, so dit is iets waarvoor ons moet veg. Ons veg nie net in ons land vir vrede nie nie, maar ook in ons verhoudings, gesinne, gemeenskappe en in ons eie harte. Die strewe na vrede begin by ons. As ons vrede in ons wêreld wil sien, moet ons eers vrede in ons hart nastreef.
As ek aan myself oorgelaat word, is my verstand en hart selde in vrede. Ek is altyd hard aan die werk om die volgende op my lys af te merk en te sorg dat ek alles doen wat gedoen moet word. Ek maak seker dat ek geen detail vergeet nie, sodat my lewe nie uitmekaar val nie. Ek werk hard om al die regte dinge te doen. Ek glo dikwels die leuen dat my dade en my werk – beide vir die evangelie en in die algemeen – vrede sal bied.
As my lewe nie in vrede is nie, is dit dikwels omdat ek nie die Prins van Vrede glo nie. My pogings om God se liefde te verdien, asook my pogings om respek, bewondering en aanvaarding van ander te verdien, weerhou my daarvan om ‘n lewe van vrede te leef. In plaas daarvan om op Hom te vertrou, vertrou ek op myself en verbeur ek die vrede wat Hy so vrylik bied.
In Jesaja 30 het God die Israeliete bestraf omdat hulle onwillig was om op Hom te vertrou. Vers 15 sê: “As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Maar dit wou julle nie… “As dít my nie beskryf nie, weet ek nie wat sal nie. In plaas daarvan om die vrede te aanvaar wat die Prins van Vrede my elke dag vrylik gee, maak ek staat op my eie krag. Deur op myself te vertrou, verbeur ek die vrede wat Hy bied. Nie net mis ek die vrede in my hart nie, maar ek verval in ‘n patroon om myself te vertrou en te glo dat ek God op geen ander terrein van my lewe nodig het nie.
Hoe sou dit lyk as ons regtig vrede soek? Hoe kan jy die Prins van Vrede hierdie Kersseisoen glo? Wat kan jy prakties doen om vrede na te streef? Dalk is dit om deur ‘n moeilike verhouding te werk deur ‘n stap in die rigting van vergifnis te neem. Miskien berus dit in die waarheid dat jy wel goed genoeg is, ongeag van hoe jou doen-lysie lyk.
Filippense 4 bied nog meer insig en praktiese wenke oor hoe ons vrede kan nastreef. Paulus sê vir die Filippense dat die vrede van God, wat ons begrip te bowe gaan, ons harte bewaar. Dink daaraan! God se vrede word in werklikheid ‘n skild rondom ons en weerhou ons van seerkry. Paulus gaan verder en gee aan die Filippense opdrag om te fokus op die dinge wat waar en edel is, wat reg, rein, mooi, prysenswaardig en lofwaardig is. Deur op hierdie dinge te fokus, kan God se vrede ons harte binnedring. Pleks van te fokus op al die dinge wat ek nodig het, kan ek vrede vind as ek fokus op die waarheid dat God my liefhet en altyd alles ten goede laat meewerk.
Hy is die Prins van Vrede. Deur vrede te soek, soek ons Hom. Kom ons fokus op wat waar is. Sy vrede bewaar ons harte en ons lewens, en Sy vrede is die moeite werd om voor te veg.