Soek My Aangesig
Angela
Ek gaan My in my woonplek terugtrek totdat hulle hulle skuld bely en vra na my wil. In hulle nood sal hulle my hulp kom vra. – Hosea 5:15
Toe God sien hoe erg die volk Israel in sonde verval het, het Hy gesien dat dit was omdat die leiers nie goddelike leiding gegee het nie. Die priesters kon in die versoeking kom om die volk te blameer, maar dit was eintlik hulle, die geestelike (priesters) en politieke leiers (huis van Israel) van die volk se skuld.
Filippense sê tereg as ons harte op aardse dinge ingestel is, lewe ons as vyande van die kruis. Ons moet nooit vergeet dat ons ín hierdie wêreld, maar nie ván hierdie wêreld is nie. Ons is burgers van die hemel en ons moet elke dag van ons lewe daardie waarheid uitleef.
“In hulle nood sal hulle my hulp kom vra”. Dit was die doel met God se oordeel teen Israel. Die doel was nie om te vernietig nie, maar om te herstel. Hoe jammer dat ons so dikwels net in ons beproewings die HERE opreg aanroep. Waarom nie die HERE sommer nou aanroep, voordat beproewing jou daartoe dryf nie? Is dit nie beter om God in die goeie tye te soek en nie eers te wag totdat moeilike tye aanbreek nie?
Hemelse Vader, help my om op U ingestel te bly. Herinner my dat ek ‘n Hemelse burger is en dat ek my lewe in ooreenstemming met daardie waarheid moet leef. Ek wil nie my lewe in aardse dinge belê nie, maar in U. Amen.
Week 3 – Uitdaging: Stel hierdie week elke oggend ‘n stophorlosie vir 5 minute, en gebruik daardie tyd om te bid vir elke item op jou agenda en doen-lysie. Skryf die Bybelverse neer wat in jou gedagtes opkom tydens jou tyd met God. Lees hierdie verse elke dag om jou te herinner om tot Hom te nader in alles wat jy doen.
Week 3 – Leesplan
Week 3 – Memoriseervers