Deur Lyli Dunbar | Maart 16, 2017
Ek het in die heiligdom gaan sit en bewe.
Die man wat op die preekstoel gestaan en uit die Woord voorgelees het, was nie my predikant nie. My predikant het geswig voor sonde. Oral rondom my was mense wat geween het hieroor. As ‘n familie in Christus, het ons gesamentlik ons gebroke harte na ‘n heilige God opgehef en vasgehou aan Sy onveranderlike beloftes in ‘n tyd wanneer die sielevyand probeer het om ons uitmekaar te skeur.
Die mens kan faal, maar God is getrou.
Wanneer ons God nie vrees nie, stel ons ons lewens oop vir vernietiging. Die vrees vir die mens is verkeerd, maar dit is goed om in die teenwoordigheid van ‘n heilige God te sidder van vrees.
Om God te vrees, beteken om:
- Sy wysheid te soek, omdat ons ons eie dwaasheid in teenstelling met Sy Waarheid erken.
“Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig.” (Spreuke 9:10)
- Verhef Hom met ‘n nederige hart in ontsag vir Sy goedheid en glorie.
“Om die Here te dien, is om onderrig te word in wysheid; nederigheid kom voor eer.” (Spreuke 15:33)
- Sy opdragte heelthartig te volg met ‘n opregte begeerte om Hom bo alles te behaag.
“Kom, kinders, luister na my! Ek wil julle leer hoe om die Here te dien. As iemand die lewe liefhet en ‘n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens. Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!” (Psalm 34: 12-15)
Wanneer ons kies om God te vrees, het ons Hom met ons hele hart, verstand en krag lief. Ons jaag passievol na wat Hom behaag, en ons vlug ver van dit wat Hy haat. Om God te vrees, is ‘n daaglikse besluit om elke area van ons lewens ten volle in Sy hande oor te gee.
Die sielevyand wil hê dat ons God ervaar as ‘n kwaai diktator wat bo in die hemel sit en nie kan wag om ons vreugde te steel en ons lewens vervelig en leeg te maak nie. Dit is ‘n leuen uit die hel.
Kom ons delf in die Woord om die Waarheid te ontdek:
Waarheid # 1: God is die een wat lewe gee, Hy is nie ‘n dief nie. Hy is ‘n toevlug vir diegene wat hulle vertroue in Hom stel.
“Wie die Here dien, het daarin ‘n veilige toevlug, en ook sy kinders vind daar skuiling. Wie die Here dien, vind daarin ‘n bron van lewe; dit laat jou die strikke van die dood ontkom.” (Spreuke 14: 26-27)
Waarheid # 2: Lewens wat aan God oorgegee is, is vol, nie vrugteloos nie. Oorgawe lei altyd tot groter krag en vitaliteit.
“Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is: dit is die geneesmiddel vir jou, die verkwikking vir jou liggaam.” (Spreuke 3: 7-8)
‘n Sidderende vertroue in God sal jou lewe beskerm. Wat ookal vandag oor jou pad kom, Hy hou dit alles in sy magtige hande.
Mag hierdie gebed elke oggend vars in ons harte wees: Here, help my om vandag te sidder vir u Woord. Amen