Ons Kan Nie Van God Af Weghardloop Nie

Deur Jen | September 14, 2018 | Jona – Liefde Sonder Vooroordeel.

Dink aan ‘n tyd in jou lewe waar jy wens jy kon net verdwyn het. Ek kan dink aan baie geleenthede waar ek ongemaklik gevoel het en net gewens het dat ek iewers ver weg kon wees. Ander kere het ek ‘n geweldige vrees gehad oor iets wat ek geweet het ek moes doen of deurgaan en dan wou ek net verdwyn.

Dink na oor jou geestelike lewe. Was daar tye wat jy gewens het jy kon van God af wegvlug omdat jy nie wou doen wat Hy jou geroep het om te doen nie, of waar jy nie wou berou hê oor ‘n spesifieke sonde nie? Weereens, dink ek dat baie van ons dit al ervaar het, al was dit net vir ‘n kort tydjie.

Maar die waarheid is dat ons nie van God af kan weghardloop nie. Fisies is daar geen plek wat ons kan gaan waar God ons nie kan sien nie, en daar is geen gedagtes of gevoelens wat ons kan wegsteek van die alsiende oë van God nie (Psalm 139).

Daar is 3 redes hoekom ons nie van God af kan weghardloop of wegkruip nie.

  1. Sy karakter laat dit nie toe nie

God is alwetend, (Hy weet alles) asook alomteenwoordig (oral teenwoordig). Hierdie twee eienskappe maak dit onmoontlik vir enigiemand om van God af te probeer wegkruip of weghardloop. Daar is geen vrees wat jy kan onderdruk, geen angs wat jy kan wegsteek, geen sonde wat jy kan voorgee nie bestaan nie of gevoelens van eensaamheid, hartseer, of frustrasie wat jy diep genoeg kan begrawe vir Hom om nie te sien nie. Ons lewens is ‘n ope boek, en die diepste deel van ons siele is blootgelê voor God.

  1. Sy liefde laat dit nie toe nie

Nog ‘n rede hoekom ons nie van God af kan wegkruip nie is dat sy liefde dit nie toelaat nie. God is lief vir jou, Sy kind, en is intiem bewus van alles wat aangaan in jou lewe sodat Hy kan troos wanneer jy troos nodig het, genees wanneer jy gebroke is, jou red wanneer jy na Hom roep, en jou reghelp wanneer jy dinge op jou eie manier wil doen.

Om ons toe te laat om weg te kruip vir Hom wanneer ons seer is of weg te hardloop van Hom wanneer ons gesondig het, sou nie liefdevol wees nie, nóg sou dit Hom glorie bring.

  1. Sy geregtigheid laat dit nie toe nie.

God sien alles en oordeel alles. Hy kan geen onreg ignoreer of wegkyk van selfs die kleinste indiskresie nie. Sy heiligheid vereis volmaaktheid en ‘n deel van sy volmaaktheid is dat geregtigheid perfek verdeel word.

Gelukkig word God nooit moeg nie, sy vriendelikheid is onmeetbaar, en sy geduld is verstommend – veral in die lig van al die kere wat ons van Hom af probeer wekruip, of weghardloop of Hom ignoreer. Soms is die roeping van God op ons lewens moeilik, en partykeer kry die sonde sy kloue diep in ons harte, en somtyds het ons so seer dat ons nie weet hoe om met iemand daaroor te praat nie. Maar God sien alles en hy sal optree ten gunste van ons heiliging en sy heerlikheid.

In plaas van wegkruip of weghardloop van God, hardloop eerder na Hom toe en lê alles in jou lewe neer en maak jou hart oop teenoor Hom. Vind troos in die feit dat Hy in elk geval alles van jou weet en is daar vir jou.

Kyk na Jesus,

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse