Deur Jen Thorn | November 3, 2017 | Filippense
Dit kan vir sommige mense klink asof Paulus moeg is vir hierdie lewe en uitsien na die dood. Die lewe was definitief nie vir hom maklik nie. Hy is vervolg, het skipbreuk gely, is geslaan, hy was met tye arm gewees en is opgesluit. Maar Paulus wil nie van hierdie lewe ontsnap nie. Hy is bly om te lewe, want hy leef nie alleen nie en hy leef nie sonder rede nie. Maar hy is ook nie bang vir die dood nie. Dood sal ‘n einde aan sy lyding bring en hy sal die Een vir wie hy gely het, van aangesig tot aangesig sien.
Om Te Lewe Is Christus
As Christene, wentel ons lewens om Jesus. Elke asemhaling van ons kom van Hom (Hand. 17:25), ons redding is in Hom, alle genade en krag om sonde en verleidings te oorkom is in Hom. Sy Woord is die voorskrif en die handleiding vir ons lewens en Sy Koninkryk is ons erfporsie. Ware vreugde word in Hom gevind. Ons het sekerheid en troos as gevolg van Hom. Hy gee wysheid vryelik aan diegene wat daarvoor vra, en Hy luister na elke versoek wat ons na Hom toe bring.
Om te lewe is Christus.
Dus moet ons onsself afvra… Leef ek op so ‘n manier wat waardig is van hierdie evangelie? (Filip. 1:27) Is ek dankbaar en verheug? Is ek gretig om tyd met hierdie wonderlike Verlosser deur te bring wat geen goeie dinge van Sy kinders weerhou nie? (Psalm 84:11) Staan ek sterk gedurende die moeilike dae as gevolg van Hom wat my lewe vashou? Lewe ek ‘n Christus-gesentreerde lewe?
Om Te Sterf Is Wins
As jou lewe Christus is, dan sal jou dood wins wees.
Jy kan nie verloor nie. Om te lewe beteken dat jy God sien werk in jou lewe, besig om Sy beeld in jou te herstel, en jou voor te berei vir Sy ewige Koninkryk. So lank as wat ons lewe, is ons deel van God se verlossende verhaal. Maar die lewe is moeilik.
Dood beteken die einde van al ons ellende, hartseer, ontberinge en pyn, en dui die begin aan van nimmereindigende vreugde, onbeskryflike aanbidding, perfekgemaakte verhoudings en lewe voor die gesig van Christus.
Dood is die vloek van God vir sonde, maar omdat Jesus ‘n vloek vir ons aan die kruis geword het, word die dood ‘n ope deur waardeur ons binnegaan na die verwelkomende arms van ons God. Deur ‘n vloek te word, het Jesus Homself bewys as die genesing. En net soos die dood Jesus ook nie kon vashou nie, kan dit ons ook nie verwoes nie.
Om te leef is Christus en om te sterf is wins, moet die waarheid wees wat tevredenheid in ons dae bring en vrede tot ons nagte bring.
Kyk na Jesus,