Om te Dien

 

 

Deur Andrea / 17 Maart 2021 / Markus

 

‘Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?’

Jesus het in alles wat Hy gedoen het, elke aksie wat Hy geneem het, elke persoon wat hy teëgekom het, elke gesprek wat hy gehad het, gedemonstreer dat Hy ons in gedagte gehad het. Alhoewel Hy kon eis dat ander moes neerbuig om Hom te dien en aan al sy behoeftes te voldoen, was Hy die persoon wat neergekniel het langs die ootmoediges, die uitgeworpenes genader, saam met sondaars gesit en ander se voete gewas het.

Ek is mal oor die vraag wat Jesus in Markus 10 gestel het. Dit kom twee keer voor in ‘n paar verse: “Wat wil julle hê moet ek vir julle doen?” In albei gevalle het iemand iets van Jesus gevra, maar net soos beide motiewe verskillend was, so ook Jesus se antwoord.

Die eerste keer dat Jesus hierdie vraag gevra het, het twee van sy dissipels Hom versoek om hulle ‘n posisie van eer, gesag, erkenning en mag te gee. Maar Jesus het geweet dat die motief van hulle harte ‘n selfdienende motivering van ‘wat baat ek daarby’ was. Hulle was daarop uit om te sien hoe die koninkrykslewe hulle kon bevoordeel, en Jesus het dit vinnig opgetel en hulle gekorrigeer. Hy het hulle daaraan herinner dat daar ‘n groot verantwoordelikheid met gesag gepaard gaan – nie om opgehef te word nie, maar om alles te gee.

Die tweede keer wat Jesus hierdie vraag geantwoord het, was aan ‘n blinde man wat om genade en genesing uitgeroep het. Hierdie keer, eerder as om die man se versoek om hulp tereg te wys, het Jesus gestop, gereageer met medelye en die man genees en bevry van ‘n lewe van letterlike duisternis. Jesus het geopenbaar dat sy hart altyd gerig is daarop om te reageer op ons hulpgeroep, en om herstel en genesing te bring. Jesus nader tot ons wanneer ons tot Hom roep.

Ek wonder of ons Jesus hierdie vraag hoor vra, omdat Hy wil hê ons moet weet dat ons altyd na Hom toe kan kom met ons versoeke, ons behoeftes, ons bekommernisse. Sy houding teenoor ons is dié van ‘n dienskneg wat nader leun om te luister, nie as ‘n heerser wat veg om beheer en heerskappy uit te oefen, sonder enige besorgdheid of begeerte om met ons kontak te maak nie. Hy het ons beste belange op die hart wanneer Hy vra: “Waarvoor vertrou jy my om vir jou te doen?”

Soms bring ons ons versoeke voor God en dit strook met sy wil, sy hart en sy Woord, en ons weet dat Hy ‘n welbehae het in ons vrymoedige geloof in aksie. Maar wanneer ons vra volgens ons eie motiewe, of selfs wanneer ons nie bewus is van die implikasies van dit wat ons gevra het nie, herinner Hy ons daaraan dat daar ‘n ander manier is, ‘n beter manier om te lewe. God wil hê dat ons moet kom soos ons is, of ons dit reg het en of ons hulp, regstelling, redding of genesing benodig. Hy ontmoet ons waarookal in ons geloofsreis, maar Hy het ons te lief om ons te laat soos ons is.

Markus 10:45, sê, “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” Alhoewel Hy kon, het Jesus nie gekom om te eis en te beheer nie. Hy het Homself verneder en die houding van ‘n dienskneg aangeneem in elke interaksie wat hy met ander gehad het. Alles wat Jesus vir ons doen, is uit ‘n motief van liefde en genade om ons tot die ware lewe te verhoog. Selfs tot op die punt om aan die kruis te sterf, om sy lewe te gee as losprys vir ons redding. Jesus gee Homself altyd aan ons, en Hy wil ons leer om sy voorbeeld te volg.

Die wonderlike waarheid is dat, voordat ons eers kon dink of weet wat om te sê as Jesus ons sou vra: ‘Wat wil jy hê moet ek vir jou doen,’ het Hy sy lewe afgelê, sodat ons die ewige lewe, vryheid, genesing, herstel, hoop, vergifnis en ‘n openbaring van sy liefde kon smaak. Voordat ons nog geweet het dat ons Hom nodig het, het Jesus sy lewe vir ons gegee. Die grootste Een van almal, die grootste Dienaar van almal… Ons Here en Verlosser, Jesus Christus.

Andrea

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse