Julie McIlhatton
Ons gebruik gereeld die woord “hoop” in ons gesprekke. Hier in Noord-Ierland is die weer altyd ‘n gespreksonderwerp en hierdie tyd van die jaar sal jy party mense hoor sê: “Ek hoop dit sneeu”; ander sê weer, “Ek hoop nie so nie!”. Ons gebruik egter ook die woord in ernstiger gesprekke, soos “Ek hoop jy slaag jou eksamen”, of “Ek hoop die dokter het goeie nuus vir jou”. Ek moes ook al moeilike vrae oor die toekoms van jong kinders beantwoord met, “Ek hoop so”, of “Ek hoop nie so nie”. Ons het nie beheer oor die eindresultaat nie en daarom hoop ons dat gebeure sal verloop soos ons of ander wil hê dit moet. Ons hoop omdat ons nie seker kan wees nie; ons kan nie verander wat gaan gebeur nie. .
Wanneer ons egter die woord “hoop” in die Bybel lees, is dit nie wensdenkery dat sake goed gaan afloop nie. As ons hoop in God is, kan ons bly wees, want ons kan seker wees dat wat God gesê het, sal gebeur! Die eerste twee verse van Romeine 5 sê vir ons dat ons omrede van Christus regverdig verklaar is, vrede met God het en toegang tot genade het. Ons verheug ons in die hoop van God se heerlikheid!
Ons hoop is seker en onwankelbaar as gevolg van wie ons hoop in is. Ons hoop is in die Een wat alles geskep het, in beheer is, magtig is en in staat om wonderbaarlike dinge te doen, wat ons ken, ons beswil verlang, en sy beloftes hou. En in Josua 23:14 sê Josua aan die hele volk Israel: “Self gaan ek nou die pad van almal op aarde. Julle weet met julle hele hart en siel dat nie een van al die goeie beloftes wat die Here julle God oor julle gemaak het, onvervul gebly het nie. Almal het uitgekom. Nie een belofte het onvervul gebly nie.”
Dwarsdeur die Bybel kom God sy beloftes na, selfs al verbreek sy volk hulle s’n. Veral met Kerstyd onthou ons dat God sy belofte vervul het om die Messias, sy beloofde redder, na die wêreld te stuur om ons te verlos.
Dit kan ons laat dink, “As God in beheer en magtig is, dan behoort sy volgelinge mos nie swaarkry, moeilikheid of lyding te verduur nie. Dit sou tog sekerlik vir ons beter wees om nie deur sulke omstandighede te gaan nie!” Romeine 5:3 herinner ons, “Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry.” Jy het reg gelees. Ons, as Christene, kan ons in die swaarkry verheug! Hoe is dit moontlik? Die volgende verse in Romeine 5 wys vir ons wat ons swaarkry in ons voortbring: volharding, karakter en hoop. Terwyl ons op God vertrou, ontvang ons die liefde wat deur die Helige Gees op ons uitgestort word. Ons reflekteer Jesus na hierdie gevalle wêreld van sonde en swaarkry, en wys ander na Hom.
Jesus het sy dissipels gewaarsku dat hulle ook sou swaarkry. “As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat. As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle. Onthou wat Ek vir julle gesê het: ‘n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” (Johannes 18:18-20).
Die sendeling Dr Helen Roseveare het baie gely omdat sy ‘n volgeling van Jesus was. In haar laaste boek, Count It All Joy, skryf sy, “Solank ek Hom vertrou en in en vir Hom probeer leef, kan ek verseker weet dat niks my lewe per ongeluk of toevallig sal beïnvloed nie. God is in beheer, en in die vervulling van sy wil – op ‘n groter doek as wat ek kan sien — is alles, groot of klein, wat in my lewe gebeur, deel van sy plan. Dit is heeltemal verstommend! Hy gee vir my die voorreg om oomblik vir oomblik deel van sy doel, deel van sy plan te wees. Daarom kan ek alles wat gebeur as ‘n voorreg sien! Óf dit pynlik of vreugdevol is, en óf ek ‘n doel daarin kan sien of nie, ALLES is ‘n voorreg. As dit dan so is, is die volgende stap dat ek kan sê – en dit regtig bedoel – dat ek in alles, selfs in allerhande beproewings, bly kan wees.”
Op ‘n manier wat ons nie ten volle verstaan nie en nie sou kies nie, is ons geseënd wanneer ons deur God gekies word en deur Hom met beproewings toevertrou word. Hierdie beproewings ontwikkel selfs ons uithouvermoë, karakter en hoop in die Here, terwyl ons aan Hom eer bring! Dit is wat met Job en baie van die heiliges sedertdien gebeur het.
As jy nog nie ter wille van Christus swaarkry moes verduur nie, berei jouself voor, dit gaan kom. As jy moeilike tye beleef omdat jy ‘n Christen is, hou moed, die Here het jou gekies. Hy sal jou ondersteun terwyl jy op Hom vertrou, en soos jy getrou bly, sal Hy deur jou verheerlik word – daaroor kan jy jubel! Laat ons almal bly wees wanneer ons dink aan God se getrouheid deur hierdie jaar en deur al die jare wat ons Hom ken. Ons kan die nuwe jaar vol hoop binnegaan, in die wete dat Hy al ons dae hier, en tot in ewigheid getrou sal bly.
“Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” –Romeine 15:13
Week 3 Uitdaging:
In Romeine 5:3–5, sê Paulus vir ons dat ons hoop in Christus nie beskaam nie. Het jy gevind dat dit waar is? Het jy al ooit teleurgesteld gevoel deur hoop? Hoe kan jy seker wees dat jou hoop in Chistus nooit sal beskaam nie?
Week 3 Leesplan:
Week 3 Memoriseervers: