‘n Ouderling Sonder Blaam

deur Whitney | September 13, 2017 | 1 & 2 Timoteus

Dit was na aan die einde van ons voorhuwelikse beradingsessies en ons was redelik seker dat ons reg was om die wêreld te trotseer. Ek bedoel, ons het Jesus, mekaar en die oulikste passende plekmatjies en plastiese servetringe wat jy nog ooit gesien het, gehad. Ja. Ek is seker dat ons die gewig van hierdie monumentele verbintenis meer moes gevoel het as wat ons het, maar ons was jonk, naïef, en meestal te besig om vrolik, hand aan hand na die altaar te huppel, om te besef dat ons aandag effens afgelei is deur die trompetgeskal van dit alles.

As deel van ons finale voorbereiding voor ons troudag, het ons dominee spesiaal ‘n paartjie in ons kerk gekies wat ‘n leierskaprol in ons kerk gehad het, en vir ons die taak gegee om hulle by hulle huis te besoek, en vrae aan die ervare man en sy vrou te vra. Wat ons oorspronklik gesien het as ‘n formele beradings opdrag, het op die ou end ‘n lewensveranderende model vir ons huwelik geword.

Van die oomblik wat ons in hulle huis ingegaan het, kon ons sien hoekom ons dominee hierdie welbekende, gerespekteerde familie gekies het. Ons kon onmiddelik die warmte van hulle huis voel wat met soveel liefde en lewe gevul was. Nadat hulle ons voorgestel het aan hulle vyf kinders (en die ouer familielid vir wie hulle ‘n ekstra kamer aangebou het), is ons verwelkom aan hulle tafel, waar ons saam ‘n heerlike bredie geëet het en ons aan elke woord van hulle lippe af gehang het. Hulle gesprek was natuurlik, tog doelgerig, en het die volle spektrum van skreeusnaakse huweliksoomblikke tot hulle diepste beproewinge ingesluit. Hulle het gedeel hoe hulle in liefde gegroei het, en geleer het om mekaar se unieke rolle en gawes te respekteer; hoe hulle konstant saam na God en Sy Woord gaan om wysheid te vind oor hoe om alles van geld, tot hulle humeure te hanteer. Ons het geluister na hulle opregte en nederige gebede, hulle sagmoedige onderrig aan hulle kinders, en hulle vererende woorde aan mekaar. Ons het gehoor hoe hulle mekaar vergewe het, ons het gesien hoe hulle mekaar gedien het, en ons het al die maniere hoe hulle Jesus in elke area van hulle lewens ingesluit het, raakgesien.

Toe ons uit daardie huis uitgestap het, was ons ander mense, wat geweet het dat ons na God toe gelei is.

Tyd wat gespandeer is met hierdie een ouderling en sy vrou in hulle huis, het die werklike evangelie wat werk in hulle lewens, geopenbaar – iets waarvoor hulle oor die jare bekend geraak het. Dit is geen wonder dat Paulus groot sorg neem om vir Timoteus te leer dat ‘n ouderling moet weet hoe om sy eie huisgesin goed te beheer. “Immers, as iemand nie weet hoe om sy eie huisgesin te beheer nie, hoe kan hy dan die sorg vir die gemeente van God op hom neem?” (1 Timoteus 3:5).

Leierskap is van belang, want leierskap stel ‘n voorbeeld. Paulus weet dat daar geen manier is hoe ‘n kerkleier effektief ‘n gemeente kan lei na God, na ‘n heilige lewe en die verlorenes vir Christus kan bereik nie, as dit nie bewys is dat hy uitstekend lei in sy eie huis nie. God se Woord vereis dat ouderlinge “sonder blaam” moet wees – nie perfek nie – maar sterk in belangrike karaktertrekke wat eerste wys in die mees intieme, persoonlike areas. Aan die ander kant, kan leiers wat in skynheiligheid teenoor die standaarde wat in 1 Timoteus 3 genoem word, leef, vinnig die vertroue en geestelike groei van individuele lede, asook die reputasie en geloofbaarheid van die kerk as ‘n geheel in gevaar stel. Leierskap is van belang in die lig van die evangelie.

Sal jy bid en God vandag dank vir jou kerkleiers, en dan jouself daaraan toewy om gereeld vir hulle te bid soos hulle werk om jou na God te lei? Kom ons wy onsself daaraan toe om voortdurend te groei in persoonlike godsvrug, sodat ons ook ‘n impak kan hê op lewens rondom ons, deur die manier hoe ons ons Godgegewe gawes gebruik en ware, beginselvaste, evangelie gesentreerde lewens leef.

By Sy voete,

___________________________

Vriende.

Ek en Jerine is deur Love God Greatly genooi om na Dallas, VSA te kom vir opleiding vanaf die 20ste September tot die 27 September 2017. Hierdie opleiding word geborg en soos julle weet is ons studiemateriaal gratis, en wil ons borge graag weet wat dit vir mense beteken om hierdie studies in hulle eie tale te hê, en hoe hierdie studies lewens verander. Ons kom met ‘n versoek en wil graag van julle weet hoe hierdie studies julle lewens verander het, en wat dit vir julle beteken om hierdie studies in Afrikaans te kan doen. Julle kan ‘n boodskap hieronder los of vir ons ‘n privaat boodskap stuur by [email protected]. Dit hoef nie lank te wees nie. Selfs twee of drie sinne sal baie beteken.

Ons wil ook net vir julle in kennis stel dat daar vir die twee weke wat ons weg is nie ‘n blog gaan wees nie, ons gaan nie die tyd hê om die blogs te vertaal nie. Julle kan die Engelse blogs gaan lees by https://lovegodgreatly.com/lgg-blog/

Liefde Velia en Jerine.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse