‘n Lewe wat Jesus op sy Voete Bring
Deur Angela / 8 Julie 2020 / In Sy Krag
“Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.” (Hand. 7:56)
Stefanus het ‘n volledige geskiedenisles gegee uit die Bybel. Die Sanhedrin was woedend omdat die waarheid van hulle dade ontbloot is deur die waarheid. Hulle het hulle ore toegedruk, hulle stemme verhef sodat hulle nie meer waarheid kon hoor nie, na Stefanus gestorm en hom buite die stad gesleep om hom te stenig.
Hulle reaksie het Stefanus se punt bevestig: dat hulle net soos hulle voorvaders was en dié vermoor het wat deur God gestuur is.
Tog het Stefanus, dwarsdeur hulle haat, opgekyk en Jesus gesien. Hy het nie net vir Jesus gesien nie, hy het Jesus gesien STAAN tot sy (Stepfanus) se eer. Hierdie gedagte bring trane in my oë! Alhoewel dié rondom hom, hom so gehaat het, het Jesus voor Stefanus gestaan om hom te eer en hom te laat weet dat Hy by Stefanus was, selfs toe almal teen hom was.
Jesus het nie daardie dag ingegryp met ‘n wonderwerk om die klippe wat op Stefanus gereën het, te keer nie. Hy het gestaan voor Stefanus om hom te eer vir die goeie lewe wat hy geleef het.
Deur die verhaal van Stefanus, word ek herinner daaraan dat dit nie die lengte van jou lewe is wat saakmaak nie, maar wat jy doen met die dae wat aan jou gegee word.
Stefanus is wel dood as ‘n jong man, maar God het daardie jongman se lewe gebruik om die gang van die geskiedenis te verander en om die wêreld aan die brand te steek tot sy eer.
Ons moet altyd versigtig wees hoe ons tragedies en suksesse etiketteer. Vanuit ‘n wêreldse perspektief, kon Stefanus se lewe as ‘n tragedie gesien word, ‘n lewe wat te vinnig kortgeknip is. Maar vanuit God se perspektief, was Stefanus se lewe soos ‘n vuurhoutjie wat die wêreld aan die brand gesteek het, beginnende met sy vonkie.
Tog, wat was Stefanus se reaksie vir sy haters? Hy het gebid vir hulle.
“Terwyl hulle vir Stefanus stenig, het hy geroep: “Here Jesus, ontvang my gees!” Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!” Met hierdie woorde het hy gesterwe.” (Hand. 7:59-60)
Terwyl dit alles gebeur het, het Jesus gestaan in eer vir Stefanus se lewe. Maak nie saak hoe dit vir die wêreld gelyk het nie, Stefanus se lewe was nie vermors nie.
In die skare daardie dag was ‘n jongman by wie se voete die mense wat Stefanus gestenig het, hulle klere neergesit het. Sy naam was Saulus. Saulus het nie net Stefanus se moord gesien nie, maar dit ook goedgekeur. (Hand. 7:58, 8:1)
Daardie dag het vervolging uitgebreek teen die Christene in Jerusalem. Saulus wou die kerk vernietig en het begin om mans en vroue tronk toe te stuur oor hulle geloof. Maar Saulus het nie geweet dat hy eintlik besig was om die evangelie te help versprei soos die Christene gevlug het na Judea en Samaria en ander dele van die wêreld nie. Dit bewys dat dit wat satan ten kwade bedoel, deur God ten goede verander kan word. Moet nooit daardie waarheid vergeet nie! Dit is net so waar vandag soos dit daardie tyd was.
Net een hoofstuk later, verander Saulus se lewe vir altyd wanneer hy persoonlik met Jesus ontmoet. (Hand. 9) Sy verhaal herinner ons daaraan dat niemand ooit te ver van God af is nie. Die oomblik wat Saulus tot bekering gekom het, het sy naam verander na Paulus. Hierdie eenvoudige verandering deur die outeur van Handelinge wys vir ons hoe dramaties die verandering in sy lewe was na sy bekering tot geloof in Christus.
God is steeds besig om lewens te verander. Wat Hy in die verlede gedoen het, kan en sal Hy weer in die hede en toekoms doen. Geen lewe is te ver buite God se bereik nie. Jesus doen steeds besoeke langs die pad.
Ek het al baie kere gewonder oor die storie van hierdie twee jongmanne, Stefanus en Paulus. Ek wonder of Paulus ooit gedink het aan sy medepligtigheid aan Stefanus se dood? Ek wonder ook hoeveel keer hy teruggedink het aan Stefanus se laaste woorde en die vergifnis wat hy uitgespreek het teenoor die skare wat hom so gehaat het? Het hierdie herinneringe vir hom vertroosting of hartseer besorg? Of dalk, ‘n mengsel van albei?
God het nie Stefanus se pyn en lyding vermos nie. Hy sal ook nie joune vermors nie.
Daar is ‘n hoër plan vir ons lewens, ‘n plan wat ons nie die voorreg het om aan hierdie kant van die hemel te sien nie. Miskien, soos met Stefanus, gebruik God ons pyn en lyding as ‘n getuienis aan die wêreld wat ons dophou. Dalk gebruik Hy ook ons lewens om die vlam voort te sit.
Hê God Groots Lief!