‘n Aanraking uit Geloof

‘n Aanraking uit Geloof

Deur Kelli / 5 Maart 2021 / Markus

 

“Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was.” Markus 5:27-29

Dit is een van my gunstelingstories in die Bybel. Verhale oor verlossing en genesing is altyd vir my lewegewend, veral omdat ek self deur my eie harde en teleurstellende seisoene van die lewe geloop het. Om te weet dat ek nie alleen is in my lyding nie, dat Jesus ons raaksien, innig omgee en bereid is om ‘n wonderwerk te verrig, is vir my bemoedigend.

Was jy al ooit in ‘n seisoen waarin jy gevoel het dat jy alles verloor het? Jou huwelik? ‘n Lewenslange vriendskap? ‘n Goed betalende werk? Jou droomhuis? Miskien het jy gevoel dat al wat jy nog oor het, ‘n draadjie van geloof was, en het jy geglo dat op die een of ander manier die Here in jou situasie sou verskyn, en dalk, net miskien, sou jy die genesing, herstel of verligting ontvang waarvoor jy gebid het. Wel, ek was ook al daar. Geloof, hoe groot of hoe klein ook al, verander dinge.

Die ware wonderwerk in hierdie verhaal in Markus 5: 25-34 is dít wat gesond gebly het in die vrou se siek liggaam: haar geloof. Sy het al haar opsies, insluitend dokters en finansies, uitgeput. Maar sy het hoop en geloof gehad. Sy het dit nie net gewaag om te glo dat Jesus haar kon genees nie, maar het ook uit hierdie oortuiging opgetree en wou net een aanraking hê terwyl Hy verbygaan.

As gevolg daarvan dat sy volgens die wet as “onrein” beskou was, sou haar aanraking Jesus ook onrein gemaak het. Maar omdat Jesus die mag gehad het om haar skoon te maak, het die teenoorgestelde gebeur. “Haar bloedvloeiing (het) opgedroog” (Markus 5:29). Sonder ‘n mondelinge vraag, oogkontak of ‘n aanraking van Jesus. Selfs met hierdie ‘sosiale gedistansieërde’ aanraking van sy kledingstuk. Jesus het geweet dat sy Hom aangeraak het en dat sy onmiddellik genesing ontvang het. Nogtans het Hy stilgehou en steeds die vraag aan die skare gevra: “Wie het aan my klere geraak?”

Wat Jesus op daardie oomblik gedoen het, selfs nadat die wonderwerk van genesing plaasgevind het, is iets spesiaals om op te let.

Kommer, twyfel, verwarring, depressie, woede, bitterheid en gevoelens van veroordeling is alles voorbeelde van die taktiek wat die vyand gebruik om ons verstand en ons geloof aan te val. Jesus het hierdie vrou die geleentheid gegee om uit haar skande te tree en Hy het haar weer in die gemeenskap waar sy ‘n uitgeworpene was, herstel, deur haar in die openbaar ‘dogter’ te noem. Dit was nie vir Hom nodig om dit te doen nie, maar Hy wou hê dat sy sonder twyfel moes weet dat sy genesing ontvang het weens haar geloof.

Waar is jou geloof vandag, my vriendin?

Ons moet ‘n veggees hê in die lewe wat ons aan hierdie kant van die hemel leef. Die oorlog is ‘n werklikheid, maar Jesus is groter.

Is jy bereid om God op sy Woord te neem? Is jy bereid om God te smeek vir dít waarvoor jy omgee? Ons sal God nooit aanstoot gee deur te veel te vra nie, maar ons beledig Hom deur nie soveel te vra as wat Hy bereid is om vir ons te doen nie. Ons sien keer op keer hoe die Here die gebrokenes en die vergetenes herstel, verlos en genees.

Jy is so geliefd en waardig vir nog ‘n aanraking van ons hemelse Vader. Laat jou geloof toeneem! Wees dapper en moedig. Hy sal jou daar ontmoet. Ek belowe jou dit.

 

 

Kelli

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse