Maranata

Maranata

Deur Jen / 17 April 2020 / Opgestaan

Wanneer Christene in die eerste eeu die Nagmaal gevier het, het hulle ‘n gebed gebid wat eindig met ‘Maranata,’ wat beteken: ‘Ons Here, kom.’ As Christene sien ons uit na die wederkoms van Jesus, wanneer Hy na ons toe sal terugkeer om alle sondes eens en vir altyd uit te roei, om finaal met Satan af te reken, ‘n oordeel te fel oor diegene wat Hom verwerp het en om ‘n nuwe hemel en aarde te skep, gevul met sy teenwoordigheid en volmaaktheid.

As kerk van Christus wag ons op ons bruidegom wat elke traan sal kom afvee, alle kwaad wat aan sy bruid gedoen is, kom vindikeer en haar na Sy koninkryk sal neem om waarlik gelukkig te wees. Eendag sal ons ons sprokiesagtige einde ontvang, en dit sal ‘n werklikheid wees.

Dit is alles moontlik omdat Jesus uit die dood opgestaan het. Dit is die opstanding van ons Verlosser wat die wederkoms ‘n werklikheid maak. ‘n Dooie verlosser kan nie vir ons terugkom nie. ‘n Dooie verlosser kan nie ‘n plek vir ons voorberei nie. ‘n Verlosser kan nie die uiteindelike oorwinning oor ons sonde en dood behaal as hy self nog in die graf is nie.

Ons Verlosser leef! En omdat Hy leef, kan ons aanspraak maak op al die beloftes in die Skrif, van die belofte dat Hy by ons is en ons alles gee wat ons nodig het, tot die belofte van ons toekomstige lewe saam met Hom.

Die feit dat Jesus sal terugkeer, moet nie net ‘n gebeurtenis wees waarna ons uitsien nie, maar dit moet ‘n invloed hê op die manier waarop ons vandag leef.

Aan die begin en ook aan die einde van die boek Openbaring word aan ons gesê wat om te doen terwyl ons wag. In Openbaring 1:3 skryf Johannes: “Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby!” Jesus het dieselfde wysheid in Openbaring 22: 7 gegee. Hy het gesê: “Kyk, Ek kom gou! Geseënd is elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boek ter harte neem.”

Ons moet die woorde in ons Bybel lees en bewaar. Om ‘die woorde ter harte te neem’, moet ons leer hoe om dit te bestudeer, sodat ons dit kan verstaan en dan met reg leef volgens wat God ons leer.

Hier is ‘n paar dinge wat van ons vereis word:

  1. Toewyding – ons moet toegewyd wees aan die Woord van God, en ons kan nie toegewyd wees as ons dit nie ‘n prioriteit maak nie. Dit het dalk tyd geword dat ons ons lewens uitsorteer in terme van hoe ons ons tyd spandeer.
  2. Tyd – dit neem tyd om die leer van die Skrif te lees, te bestudeer, te verstaan en toe te pas. Soms is ons vergeetagtig, ongeïnteresseerd, traag om te verstaan of word ons maklik afgelei. Ons sal nie groei in ons kennis van God as ons nie die tyd afstaan om Hom en sy Woord te leer ken nie.
  3. Nederigheid – Jy sal dinge in die Skrif teëkom wat jy nie van hou nie. God is nie soos ons nie en Sy weë is nie ons weë nie. In plaas daarvan om toe te laat dat ons trots ons oortuig dat ons van beter weet, moet ons daardie ongemaklike en harde waarhede in die gesig staar en vertrou dat God weet wat Hy doen.

Prys die Here dat Hy opgestaan het en weer sal kom. Laat ons doen wat die eerste-eeuse Christene gedoen het en ‘n ‘Maranata’ by ons gebede voeg, want ek begeer dat Jesus so vinnig as moontlik sal terugkom.

Met my oë op Jesus,

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse