
5 Maniere om vir Ander te Bid
Angela Perritt

Daarom, van die dag af dat ons van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken.
Daar is ‘n geveg rondom ons aan die woed. Ons almal voel dit. Dit maak sommige van ons in die middel van die nag wakker. Vir ander van ons dring dit ons gedagtes binne vandat ons soggens ons oë oopmaak. Die toekoms, waarna ons op ‘n tyd uitgesien het, is in die laaste tyd vol angs en onsekerheid in plaas van opwinding. Hoe gaan die wêreld oor ‘n paar jaar lyk? In watter soort wêreld word my kinders groot? Dit voel asof eensaamheid ons toevou soos ‘n stekelrige kombers wat geen warmte of troos bied nie. Baie van ons sukkel met verhoudings, veral in hierdie tyd van oorgevoeligheid en maklik aanstoot neem. Dit lyk asof almal teen almal gekant is, maak nie saak wat die onderwerp is nie. Te midde van al die onstuimigheid het Satan ‘n fees terwyl hy verhouding na verhouding, gesin na gesin, verwoes. Ek dink hy probeer ons oortuig om mekaar te haat, die kerk as nutteloos te beskou en ons harte en gedagtes deur vrees in plaas van Christus, te laat beheers.
Hoe kan ons dan terugbaklei? Deur vir mekaar te bid!
Of ons dit besef of nie, ons is almal in ‘n stryd. Ons elkeen het soveel gebed nodig as wat ons kan kry. Een van die beste maniere om doelbewus ons vriende en familie lief te hê, is om vir hulle te bid. Ons almal het dit nodig.
Die afgelope paar jaar was uiters moeilik. So baie van ons is gelyktydig deur ‘n klomp swaar kwessies getref. Oorlewing deur ‘n wêreldwye pandemie, werksverlies, sosiale en politieke onrus, om nie eens te praat van die “normale” probleme waarmee ons almal daagliks te kampe het nie, kan moeilik wees om te bestuur. Selfs die wysste onder die wyses het gebed nodig vir wysheid en onderskeiding. Weet verseker, ons almal gaan gebuk onder die spanning.
Ek wil jou vandag aanmoedig om doelbewus en daadwerklik vir jou vriende en familielede te bid. As ons kies om spoed te verminder en vir ander te bid, is dit wanneer “die tekkie die teer slaan”, by wyse van spreke. Dis waar ons liefde vir mekaar in werking gestel word. In plaas daarvan om in die verbygaan te sê “Ek sal vir jou bid”, wanneer ‘n vriend of vriendin of geliefde jou versoek om te bid, stop net daar en bid doelbewus op daardie oomblik. Ek weet dit kan aanvanklik ‘n bietjie vreemd of ongemaklik voel, maar ek verseker jou die persoon oor wie jy bid, sal daardeur geseën word!
5 Maniere om Ander te Bemoedig en vir Hulle te Bid:
1. Stop en bid net daar, persoonlik.
“Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” (Romeine 15:13)
2. Stuur ‘n teksboodskap.
“Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer” (Filippense 1:9-11).
3. Stuur ‘n videoboodskap.
“Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges” (Efesiërs 6:10-18).
4. Skryf ‘n nota of kaartjie.
“Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie. Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom” (Filippense 1:3-6).
5. Stel ‘n alarm op jou foon en bid elke dag dieselfde tyd vir hierdie persoon.
“Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld. Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed” (Romeine 12:9-12).
By voorbaat dankie dat jy intensioneel jou vriende en familie liefhet en vir hulle bid! By mekaar ingehaak en toegedek onder mekaar se gebede, kan ons met God se hulp en mekaar se ondersteuning, sy koninkryk bevorder en mekaar ondersteun…een gebed op ‘n keer.
Wees Heelhartig Lief vir God!
