Lig na die Nasies
Deur Julie / 17 Julie 2020 / In Sy Krag
Toe ek grootgeword het, was een van my gunsteling TV-programme die A-Team (ek gee my ouderdom weg!). Dit het gehandel oor ‘n groep ouens, wat deur die gemeenskap misverstaan is, wat mense gehelp het wat nêrens anders heen gehad het om te draai nie. Hulle het altyd bereik wat hulle beoog het en het selfs daarin geslaag om weg te kom sonder om aan die einde gevang te word. Een van die bekendste sinsnedes in die vertoning was: “I love it when a plan comes together!”
Ons sien in die boek Handelinge hoe God se plan ten uitvoer gebring word wanneer Jesus se laaste woorde aan die dissipels in vervulling gaan. Voordat Hy hulle verlaat het, het Jesus vir sy dissipels gesê: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” (Handelinge 1:8).
Reg deur die boek Handelinge het ons gesien hoe God deur die Heilige Gees werk, selfs in verskriklike omstandighede. In hoofstukke 1 tot 7 was die kerk hoofsaaklik in Jerusalem. Vanaf hoofstuk 8 tot 12, na die vervolging, het die kerk, en daarmee saam die evangelie, deur die hele Judea en Samaria versprei. In hoofstuk 13 en verder sien ons dat die evangelie na die uithoeke van die wêreld begin versprei, tydens Paulus se eerste sendingreis.
Paulus en Barnabas het in Pisidië Antiogië aangekom, en soos hulle gewoonte was, het hulle eerste na die sinagoge gegaan. Paulus het uit die Ou Testament geleer, woorde wat aan sy luisteraars bekend was, maar hy het verduidelik dat Jesus die vervulling van hierdie leerstellings is. Almal wou meer hieroor hoor (vers 42).
Die volgende week het ‘byna die hele stad bymekaargekom om die woord van die Here te hoor’ (vers 44). Hierdie gesig het ‘n nare reaksie by die Jode ontlok. Hulle is ‘gevul met jaloesie’, wat daartoe gelei het dat hulle Paulus in ‘n kwaai, beledigende manier gekritiseer het. Inteendeel, die Jode van Pisidië Antiogië het vir Paulus en Barnabas 80 myl ver na die volgende stad gevolg om hulle verspreiding van die woord van God daar te ontwrig!
Jaloesie is ‘n sterk emosie wat ons van ons vreugde beroof en kan veroorsaak dat ons op verskriklike maniere optree. Ons word in Jakobus 3:16 gewaarsku, “want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade.” Is jy ooit jaloers oor die gawes van ander gelowiges, of die groeiende bedieninge van ander kerke? Ons kan gevul word met vreugde of jaloesie – maar nie albei nie.
Ondanks die reaksie van die Jode, het God se plan voortgegaan, omdat Paulus aangestel is om ‘n lig vir die heidene te wees. Paulus haal Jesaja 42:6 aan, “Ek hou jou vas, Ek beskerm jou en Ek maak jou my verbond met my volk, my lig vir die nasies.” Dit herinner ons daaraan dat God bedoel het dat die Israeliete ‘n volk afgesonderd vir Hom moes wees, om die nasies na Hom toe te trek. Maar hierin het hulle ongelukkig misluk.
Toe die heidene agterkom dat God Paulus gestuur het om vir hulle te vertel dat daar ook redding vir hulle is, het hulle ‘begin juig en sing oor die woord van die Here.’ Hulle is nie uitgesluit daarvan om tot God te nader nie. Dit moet ons ook met groot vreugde en blydskap vul, terwyl ons ons verheug in hoe God se planne en doelwitte selfs ons insluit, ongeag ons agtergrond!
Verse 47-49 van hierdie hoofstuk is sentraal tot God se plan; ‘n seismiese verskuiwing vind plaas. Tot op hierdie punt is die meerderheid gelowiges mense van Joodse afkoms. Nou het hoofsaaklik heidene tot die geloof gekom en die eerste kerk is gestig wat meestal bestaan het uit mense van heidense afkoms. Ondanks die ooglopende probleme waarmee hulle te kampe gehad het, was hulle ‘gevul met vreugde en met die Heilige Gees.’ Namate die kerk gegroei het, het die balans verskuif na meer gelowiges vanuit heidense agtergronde.
In hierdie hoofstuk is daar twee verskillende reaksies op die aanhoor van die evangelie. Diegene wat die Ou Testament goed geken het en die beloofde Messias verwag het, het gereageer met verharde harte. Diegene wat baie minder van die leer van die Ou Testament geweet het, het heelhartig gereageer.
Ons kan nooit voorspel hoe mense op die evangelie sal reageer, of wie tot geloof sal kom nie. God weet. Ons word geroep om getrou te wees in die uitleef en verkondiging van die goeie nuus. Soos ons die geleentheid het, deel ons die waarheid van God met ander. Ons is deel van die uitvoering van God se plan om die uithoeke van die aarde te bereik, sodat Openbaring 7:9 in vervulling kan gaan: “’n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan.” Hoe verstommend is dit nie!
God se plan word deurgevoer. Ek is seker dat ons almal kan sê ons hou daarvan hou om te sien hoe God se plan deurgevoer word! Laat ons vandag voortgaan in vreugde en in die krag van die Heilige Gees om die Woord van die Here te versprei.
Julie