Kap Dit Af!

Kap Dit Af!

Angela Perritt / 15 Maart 2021 / Markus

“As jou hand jou van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy vermink in die lewe ingaan as dat jy altwee jou hande het en na die hel toe gaan, in die onblusbare vuur. – Markus 9:43

‘n Vrou in ons dorp het onlangs die noodeenheid besoek. Sy was siek en het nie geweet wat die oorsaak was nie. Na ‘n reeks toetse en skanderings gedoen is, is vasgestel dat die vrou ‘n chroniese alkoholis is. Haar lewer was besig om dood te gaan as gevolg van haar daaglikse alkoholinname, en daar was ‘n gewas wat verwyder moes word.

Toe die dokters met die vrou praat en vir haar sê wat haar siekte veroorsaak en wat sy daaromtrent moes doen, het sy geskok geweier. Sy wou nie ophou drink nie. Sy het gevoel sy kan nie ophou drink nie. Sy het verkeerdelik geglo dat sy moes drink om te kon lewe. Drink was net so deel van haar as asemhaal; sy kon eenvoudig nie ophou nie. Drink was deel van haar identiteit.

Die tragiese is dat haar drinkery besig was om sy tol te eis op haar liggaam; sy sou drastiese veranderinge moes maak om die vernietiging wat sy soveel jare gelede begin het, stop te sit. Sy sou moes doen wat Jesus in Markus 9:43 sê. Sy moes die sonde uit haar lewe sny, en tog het sy geweier. Sy het verseg om te verander. Sy het geweier om op haar te laat opereer. Sy het geweier om van haar sonde af te sien. ‘n Paar maande later is sy dood.

Die sonde waarsonder sy gedink het sy nie kon leef nie, het op die ou end haar lewe geëis.

Sonde is presies so bedrieglik. Dit begin as iets kleins. ‘n Ongeoorloofde gedagte, net een rokie, ‘n tweede kyk, ‘n verspreking, nog ‘n drankie, nog ‘n aankoop, ‘n woedeuitbarsting…

Aanvanklik lyk dit onskuldig, maar met verloop van tyd begin die sonde groei, van ons besit neem en uiteindelik begin dit ons identiteit raak. Dit raak deel van ons, deel van ‘hoe ons aanmekaargesit is’, deel van ons persoonlikheid, iets wat ons moet hê om te ontspan, iets om af te stomp, of iets wat ons toekom.

Jesus wys vir ons in Markus 9:43 dat sonde nie vertroetel moet word nie maar dat daar eerder drasties mee afgereken moet word, dat dit selfs uit ons lewens ‘gekap’ moet word.

Die dissipels was verbaas om Jesus te hoor sê dat hulle so dramaties met hulle sonde moes afreken. Dit verbaas baie van ons ook vandag nog. As ons sonde nie ernstig opneem nie, sal dit ernstige gevolge op ons lewens hê.

Party van ons leef met sondes wat ons lewens verwoes. Net soos hierdie vrou verseg ons om daarmee klaar te speel. Party van ons weier om die nodige stappe te doen om dit uit ons lewens “te sny”. Net soos kanker moet sonde aangespreek word. As ons dit maar net ignoreer en optree asof dit nie bestaan nie, gaan die sonde groei en sweer, na ander areas van ons lewe versprei en uiteindelik die dood bring.

Ons, as Christene, weet dat almal gesondig het. Sonde is iets waarmee ons almal sukkel. Ons hoef nie skaam te voel om te erken dat ons met sonde sukkel nie, maar ons kan nie ons verantwoordelikheid om daarmee klaar te speel, ontduik nie.

Maak vandag tyd om jou lewe te evalueer. Is daar sonde wat verwoesting in jou lewe aanrig? As daar is, gaan na Jesus toe en bely dit teenoor Hom. Besef dat Hy jou in liefde en met genade ontvang en jou wil help om klaar te speel met die sonde waarmee jy sukkel.

As gevolg van Christus in jou het jy die mag om sonde baas te raak. Jy kan kies om nie meer ‘n slaaf van die sonde in jou lewe te wees nie. Jy kan vry raak van jou sondes aan die voet van die kruis. Draai na Jesus, reik uit na ‘n vriendin om jou verantwoordbaar te hou, en sny met God se hulp die sonde uit jou lewe. Jy, jou gesin en geliefdes sal bly wees dat jy dit gedoen het!

Hê God Groots Lief!

Week 4 Uitdaging:

Wat leer Markus 9:43 oor die erns van sonde? Vra hierdie week vir God om aan jou te openbaar waar in jou lewe Hy wil hê dat jy sonde moet uitroei. Wanneer Hy antwoord, wees getrou om gehoorsaam te wees om te doen wat Hy vra. Jesus het ons beveel om sondes ernstig op te neem. Kom ons eer sy dood hierdie week deur sonde uit ons lewens te verwyder, al is dit hoe pynlik of duur.

Week 4 Leesplan:

Week 4 Memoriseervers:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse