Jy Loop Net Soos Jou Pa.

Deur Angela | Oktober 2, 2017 | 1 & 2 Timoteus

Jy praat met jou hande, net soos jou ma.

Jy lag net soos jou ouma.

Jy loop net soos jou pa.

Het jy al ooit gehoor dat iemand so iets sê? Ons almal het eienskappe wat in ons families oorgedra word, of iets wat eenvoudig gedoen word omdat ons ander naboots. Hierdie eienskappe dien as ‘n aanmaning dat ons daaglikse aksies beleggings is in die volgende generasie, selfs al voel ons dae doodgewoon. Paulus weef hierdie waarheid deur die eerste hoofstuk van sy tweede brief aan Timoteus.

Aan Timoteus, my geliefde seun (v2)

Ek dank God, wat ek net soos my voorouers met ‘n skoon gewete dien, wanneer ek onophoudelik dag en nag in my gebede aan jou dink. (v3)

Ek dink ook aan jou opregte geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is. (v5)

Paulus sien Timoteus as ‘n geestelike kind, en in die brief gee hy Godgegewe wysheid en aanmoediging aan hom. Paulus herken ook dat die lyn van geloof nie met hom begin het nie, dus gee hy erkenning aan dié persone wat God voor hom gedien het. Paulus se lof rus op Timoteus se ma en ouma. Of jy ‘n moeder met kinders in jou huis is, of ‘n geestelike moeder vir die gemeenskap rondom jou is, bid ek dat jy bemoedig sal word deur Paulus se woorde. Sien jy dat hy nie Timoteus se vermoë om vinnig ‘n dankiekaartjie te stuur beklemtoon nie, en ook nie die manier hoe hy altyd sy wasgoed in sy wasgoedmandjie sit nie? Hy wys ook nie op Timoteus se maniere of sy gebalanseerde organiese maaltye nie (ek kan so vasgevang word in hierdie daaglikse bekommernisse). Paulus loof net Timoteus se geloof en komplimenteer die vrouens wat daardie geloof aan Timoteus gedemonstreer het. As vrouens, kom ons maak dit ons hoogste prioriteit om vir die volgende generasie ‘n fondasie te lê van volle vertroue in ons God.

Om terug te keer na die hoofpunt, Paulus het hierdie tema beklemtoon: gee en ontvang van een generasie na die ander.

As ek Timoteus was, sou ek op hierdie oomblik my hand opgelig het om hom te onderbreek.

“Ek weet dat jy dink ek is getrou, Paulus, maar ek worstel met vrees. Jy is in die gevangenis. My dae mag dalk ook getel wees. Is jy waarlik oortuig van al hierdie dinge?”

Op dieselfde wyse wat geloof en lofprysing van ons ouer generasies oorgedra is, het sondige eienskappe ook deur die familie gevloei. Ons is almal gebroke mense. Ons beste pogings is steeds bevlek met die vlekke van waar ons tekortgekom het. Miskien verstaan ek Timoteus, want ek is geneig tot bekommernis en vrees. Ek kan telke voorbeelde uit my kinderjare noem waar ek gebroei het oor dinge wat ver bo my ouderdom of begrip was.

As hierdie brief aan my gerig was, sou ek Paulus gestop het by “dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur weer moet aanblaas.” (v6)  en aangedring het op ‘n klein vlam wat net sigbaar was as iemand waarlik daarna soek. Paulus, ek sal daaraan dink om my gawes te gebruik, maar slegs as ek dit op die agtergrond kan gebruik, op ‘n manier wat min aandag trek en selfs minder kritiek ontlok. Paulus, as jy waarlik my verlede en my vatbaarheid ken, dan sal jy weet dat die kleinste vlam waarlik al is wat ek kan hanteer.

“Terwyl ons praat van wat die vorige generasies oorgedra het, moet jy weet dat ek ook groot hoeveelhede vrees ontvang het. Ek is van nature te bekommerd, te angstig, te skugter om so dapper vir die evangelie te wees.”

Ek weet nie of dit Timoteus se antwoord was nie, maar as dit was, stop Paulus die redenasie. Ek weet slegs dat dit vandag my reaksie is, maar Paulus maak my argumente stil met sewe kragtige woorde.

Die Gees wat God ons gegee het – sewe woorde, sewe eenvoudige woorde, in sterk kontras met die openingsherhaling van hierdie brief.

Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. (v7)

Ons het almal die vlek van sonde van ons voorouers geërf. Dit is die slegte probleem van menslikheid waaarvan niemand kan ontvlug nie. Die Gees wat God ons gegee het – Hy het eers vir ons Jesus gegee as die offerande vir wat ons vlees en sonde verdien het, sodat ons bevryding kan ervaar. Die Gees wat God ons gegee het – die Heilige Gees leef elke dag in ons met die krag om dít wat ons vlees geërf het, te oorkom. Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.  Die wonde wat van jou familie af oorgedra is; die pyn wat jy nog altyd gedra het, die sonde waartoe jy die meeste geneig is – geen een van hierdie het die laaste woord nie.

Wat jy geërf het van die vlees is oorkom deur wat God vir jou gegee het deur Sy Gees.

Ons het ‘n nuwe gees, en ek bid dat wanneer mense sien dat ek in krag, liefde en selfbeheersing wandel, hulle sal sê, “Sy loop net soos haar Vader.”

Lindsay

Week 5 Uitdaging: Elke dag hierdie week maak opsetlike tyd om die saad van geloof te saai in die volgende geslag.

Week 5 Leesplan

 Week 5 Memoriseervers

________________________________________

Stel jy belang om te help met vertaling, of om ons te help om vrouens te bereik in ander lande in hul moedertaal? Los ‘n boodskap by die kommentaar en sê in watter taal jy belangstel! Ons het altyd meer vertalers nodig en ook vrouens wat ‘n gawe het in grafiese werk, tegnologie, mentorskap… in AL ons tale. Ons wil graag saam met jou werk en meer vrouens bereik met God se Woord en Bybelstudie materiaal in 2017!

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse