Ja, Ek Glo
Brittany Salmon
Ek onthou dat, toe ek klein was, een van my Sondagskool-onderwyseresse vir ons die storie geleer het van Jesus wat opvaar in die wolke. Sy het vertel hoe opgewonde sy was dat Jesus weer gaan kom. Die storie het bonatuurlik gevoel en ek kan my nog steeds die viltbord-Jesus voorstel terwyl sy Hom van die grond na die hemel beweeg het. (Kantnota: Die van julle wat in kinderbediening is, onthou dat julle werk en lesse nooit tevergeefs is nie!) Ek onthou hoe ek as kind geworstel het met: “Hoe kan dit waar wees?!” en tog, uiteindelik, deur die getrouheid van haar onderrig en die onderrig van ander, het ek geglo.
As volwassene is dit steeds dieselfde. Ek glo. Ek glo heelhartig die storie van Jesus in die wolke. Maar as ek eerlik moet wees, is die moeiliker deel vir my om te onthou dat ons Jesus, die een wat ons van ons sondes gered het en belowe het om eendag terug te keer, dieselfde Jesus is wie se laaste daad op aarde was om ons te seën. Maar vandag, terwyl ek ons gedeelte gelees het, het sy laaste seën my in my spore gestuit. Kom ons kyk van naderby na die gedeelte:
“En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is. Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.” – Lukas 24:49-51.
Ek het nog altyd na die gedeelte gekyk en Jesus se hemelvaart en laaste woorde as ‘n vertrekkende totsiens beskou. Maar die Skrif sê vir ons dit is meer as dit; dit is ‘n seën. Jesus se laaste daad toe hy na die hemel opgevaar het, was om sy mense te seën.
Ek is nie seker hoekom dit vir my hierdie week so moeilik was om dit te glo nie, maar dit was. Om die waarheid te sê, soms is dit vir my makliker om die teologiese feite oor die verhaal van Jesus aan te gryp en te glo as wat dit is om die implikasies van daardie waarhede op my lewe te omhels.
Jesus het gekom. Jesus het gesterf. Hy het die graf oorwin. En toe het Hy opgevaar na die hemel.
Ja, ek glo.
En Hy het daardie dinge gedoen om ons te seën, om ons te herstel, om ons uit te nooi om saam met Hom met ‘n missie te leef.
Ja, ek wil glo. Maar om die waarheid te sê, soms is hierdie deel moeiliker vir my om ten volle te aanvaar. Die menslikheid van Christus se liefde vir ons skok my steeds. En tog, dit is die hart van die sending van God. Jesus het gekom en vir ons gesterf. Dit was nie vir Hom nodig om vir ons te ly nie, maar Hy het. In sy laaste oomblikke saam met sy dissipels, was dit nie vir Hom nodig om hulle te seën nie – om ons te seën nie – maar Hy het.
En so, liewe leser, weet ek nie wat jy vandag in die gesig staar nie, maar dit is vir my belangrik dat jy hierdie waarhede ken: Christus het gesterf. Christus het opgestaan. Christus kom weer. Hy het hierdie goed gedoen as gevolg van sy innige liefde vir jou. Op hierdie donker dae tussen sy eerste koms en sy wederkoms, het Hy ons nie hulpeloos laat wag nie. Nee, in plaas daarvan het Hy ons gelaat met ‘n seën, ‘n belofte van krag uit die hoogte dat alle nasies eendag tot herstel en verlossing gebring sal word wat net in Hom gevind word.
Terwyl jy vandag met jou dag aangaan, ongeag wat die lewe vir jou mag gooi, mag jy wandel in die vertroue van iemand wat geseën is.
Wees geseënd,