INLEIDING TOT ONS VREES EN ANGS STUDIE

Deur Angela | Maart 2, 2018 | Vrees en Angs

Kan jy jouself ‘n lewe indink sonder vrees en bekommernis? Ek kan nie. Dit is so ‘n deel van ons lewens dat dit amper onmoontlik is om ‘n lewe sonder die kleinste vrees, bekommernis of angs te kan indink. Adam en Eva was die enigste mense wat hierdie soort lewe kon ervaar – totdat hulle ongehoorsaam was aan die perfekte wet van God. Van daardie oomblik af, het vrees en al sy familielede hulle woning in ons harte gemaak.

Niemand is immuun daarteen nie. Ons almal ervaar dit, van matige ongemaklikheid en bekommernis, tot verlammende angs en volslae paniek. Ons kan weke spandeer om te praat oor al die dinge wat ons van ons slaap beroof en wat ons gedagtes folter. In plaas van om te fokus op “wat” ons affekteer, wil ons kyk na vrees en bekommernis in die lig van wie God is en hoe ons kan oorwin deur die krag van die Skrif.

Maar wat is vrees?

Vrees word gedefineër op baie verskillende maniere. Dit is ‘n gevoel van angs of vrees oor die uitkoms van iets. Of die stres van om te wonder of jou behoeftes of begeertes vervul sal word.

Daar is ‘n groot hoeveelheid dinge wat vrees kan veroorsaak. Dit kan veroorsaak word deur mense, omstandighede, ervaringe, swaarkry, siekte, dood, pyn, herinneringe van die verlede, die onsekerheid van die toekoms, of ons verbeeldings.

Wanhopige mense kan redes vir vrees vind waar daar geen vrees is nie; sekere mense besit die gawe om probleme uit te dink; as die Here geen beproewinge in hulle lewens toegelaat het nie, skep hulle dit vir hulself! Hulle het ‘n klein probleemfabriek in hulle huise, en hulle sit en gebruik hulle verbeeldings om paniek te bepeins; – Spurgeon

Vrees en angs beïnvloed ons nie net verstandelik nie, dit beïnvloed ons ook fisies, Vrees veroorsaak ‘n knoop in jou binneste, en veroorsaak dat jou hartklop versnel. Dit kan dit moeilik maak om te konsentreer of stil te sit. Vrees kan veroorsaak dat jy jou eetlus verloor, of dat jy ooreet, dat jy nie kan slaap nie, en net wil huil. Dit voel verskriklik om bang te wees, so dit maak absoluut sin dat ons sal wil leer hoe om nie bang te word nie, en hoe om bekommernis te oorwin. Maar daar is ‘n dieper en donkerder kant van vrees.

Vrees is ‘n gebrek aan vertroue in God. Wanneer ons toelaat dat bekommernis oorneem, is ons ongehoorsaam aan God, deur iets anders te glo as wat Hy in Sy Woord sê. Ons vrese wys ongeloof in wat God in staat is om te doen, ongeloof in Sy goedheid en sorg vir ons, en ongeloof in Sy grootheid.

Maar hier is die goeie nuus. Terwyl ons sommige van die dinge wat vrees veroorsaak gaan ondersoek, sal ons ook kyk hoe ons ons vrese kan oorwin deur die krag van Sy Woord. Ons oorwinning sal begin wanneer ons begin kyk na wie God is, en wanneer ons ons geloof plaas in Hom en wat Hy beloof het om te doen vir Sy mense.

Ons hoef nie deur ons vrese beheer te word nie, en wanneer ons oë geopen word vir die ongelooflike omvang waartoe Jesus gegaan het om ons te red – nie net van die straf van sonde nie, maar ook van die krag daarvan – sal ons sien hoe vrees en angs nie vastrapplek in die Christelike lewe het nie.

 Moenie bang wees nie, Ek is by jou,
moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.
Jesaja 41:10

_____________________________________________

Vriende, daar is net Een wat ons omstandighede, vrese en angs kan oorwin. Die een ware God wat werklik is en leef. Hy handel en red om jou ontwil, omdat Hy jou liefhet. Hy is jou God.

Voel die lewe somtyds oorweldigend? Worstel jy met slapelose nagte? Dring die “wat as” gedagtes jou verstand binne en beroof jou van vrede? Verlang jy verligting van die vrees en angs wat jou lewe vul en wat jou drome vir ‘n beter toekoms stilmaak?

Moet geen fout maak nie; vrees is oral rondom ons. Maar dit beteken nie dat ons langer ineen hoef te krimp daaronder nie. Vrees is ‘n boelie en dit is tyd dat ons dit op sy plek sit! Vrees sal nie toegelaat word om langer oor ons lewens krag te hê nie.

In hierdie ses-weke studie, gaan ons in God se Woord delf, van die Ou Testament na die Nuwe Testament, en ontdek wat God sê oor vrees en angs. Ons sal leer hoe ons dit kan oorwin deur die krag van Sy Woord. Ons sal nie meer slawe van ons vrese wees nie. Alhoewel vrees en angs altyd ‘n deel van ons lewens sal wees, kan ons leer hoe om beheer terug te neem en nie toe te laat dat dit ons langer verlam nie.

Deur na God te kyk vir hulp, sal ons die vryheid vind waarna ons harte smag en die vrede vind wat ons gedagtes nodig het. Met God aan ons sy en Sy Woord in ons harte en gedagtes, sal ons oorwin!

Nooi jou vriende, bure en medewerkers uit en sluit van 5 Maart af by ons aan soos ons begin met ons volgende studie: Vrees en Angs: Leer om te Oorwin met God se Waarheid!

 

 

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse