Welkom by ons 6-week lange studie oor die saligsprekinge
Die woord “saligheid” beteken ‘n toestand van volkome geluk of seën. Die “saligsprekinge” wat in Matteus 5 voorkom, is ‘n versameling verklarings van Jesus wat wys hoe ons ‘geseënd’ of ‘gelukkig’ kan wees in hierdie lewe en die hiernamaals. Jesus het hierdie wysheid gedeel tydens sy Bergrede. Ons oë gly maklik oor bekende Skrifgedeeltes, maar dis ons hoop dat hierdie studie jou ‘n nuwe belangstelling en waardering vir hierdie waarhede sal gee.
Die saligsprekinge is nie woorde van advies nie. Dis lewenswoorde wat bedoel is vir alle gelowiges, te alle tye en op alle plekke. Thomas Watson het die saligsprekinge “die heilige teenstrydighede in ons Heiland se preek” genoem. Met die eerste oogopslag is dit moeilik om te sien hoe hierdie teenstrydighede saamwerk. Hoe maak armoede jou ryk? Hoe verbind mens rou met vreugde? Hoe lei die ellende en die pyn van vervolging tot vreugde?
Een van Jesus se vele waardevolle lesse in die saligsprekinge is dat die Koninkryk van God nie op dieselfde manier te werk gaan as die wêreld nie. Die wêreld verkondig, “Salig is die magtiges en die luidrugtiges,” maar Jesus sê: “Salig is die sagmoediges en die nederiges.”
Mense soek oor die hele wêreld heen na seëninge en vreugde, maar besef nie dat alles hier verganklik is nie. ‘Wêreldse vreugde is soos voedsel wat aanvanklik vars is – en dan langsamerhand oud en verrot word. ‘Die wêreld gaan verby’ (1 Johannes 2:17). (Watson)
Niks op aarde kan die diep leë leemte in ons harte bereik nie. En tog probeer ons op verskillende maniere en plekke geluk vind. Salomo, wat alles gehad het, kom tot hierdie eenvoudige gevolgtrekking: “Kyk! Alles kom tot niks!” (Prediker 1:14).
“Geluk is ‘n te edele en delikate plant om in hierdie wêreld se grond te groei.” – Thomas Watson
Ons is so gewoond daaraan om volgens die reëls en waardes van hierdie wêreld te werk dat die saligsprekinge onmoontlik mag lyk. Om werklik te glo en te leef volgens wat Jesus in Matteus 5 leer, sal vertroue en geloof vereis dat God nie net weet waarvan Hy praat nie, maar dat Hy ook die beste weet.
Meermale sal ons moet bid: “Here, ek glo. Help my in my ongeloof.”
Hier is ‘n paar vrae om jouself af te vra terwyl jy hierdie studie doen:
Wat leer hierdie verse oor God?
Wat openbaar hierdie verse oor myself?
Hoe het ek soos die wêreld gedink?
Waaroor moet ek berou hê?
Op watter gebiede moet ek die manier hoe ek dink, verander?
Watter aksies moet ek neem in die lig van dit wat Jesus my leer?
Hoe probeer ek vreugde in hierdie wêreld vind, en hoe mis ek dit in die Koninkryk van Jesus?