In Sy Naam

In Sy Naam

Deur Julie / 15 April 2020 / Opgestaan

Ek kyk graag na ‘n goeie fliek. Ek geniet dit om deur die verhaal meegesleur te raak en te probeer uitwerk wat gebeur en hoe dit gaan eindig. Maar ek raak taamlik gefrustreerd met rolprente waarvan ‘n mens onseker is wat die uiteinde was. Jy wag en wag vir een of ander ontknoping of kruks in die verhaal en dan is daar niks nie. My man lag vir my wanneer die erkennings begin afrol en ek sê: “Hulle kan dit mos nie so in die lug laat eindig nie! Wat is die punt daarvan?”

In vandag se leesstuk in Johannes 20:19-31, naby die einde van sy evangelie, wil Johannes seker maak dat almal by die kruks waarom hy dit geskryf het, uitkom. Hy wil nie hê enigiemand moet bloot glo dat Jesus maar net ‘n goeie mens of ‘n uitsonderlike leermeester of profeet was nie. Johannes wil hê sy lesers moet weet dat Jesus die Christus, God se lank beloofde Koning is. Hy wil hê sy lesers moet dit weet sodat ons die lewe in Jesus se Naam kan hê.

Dit is nie toevallig dat Johannes se doelstelling aan die einde van sy evangelie geplaas is nie. Johannes kon sy evangelie met hierdie stelling ingelei en gesê het: “Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê” (Johannes 20:31).

In plaas daarvan het hy dit ná Jesus se opstanding geskryf, nadat die dissipels besef het wie Jesus was, en nadat hulle oë oopgegaan het. Hy wou hê sy lesers moet hierdie waarheid besef, net soos Tomas toe hy in vers 28 uitgeroep het, “My Here en my God!”

Johannes wou nie hê sy lesers moet net kopkennis hê dat Jesus die Christus is nie, hy wou hê hulle moes verander word en die lewe in Jesus se Naam hê. Johannes gebruik die woord ‘lewe’ 42 keer in sy evangelie. Johannes bou deurgaans in sy evangelie ‘n beeld van hierdie lewe uit. Hier is enkele voorbeelde (nadruk myne):

  • God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (Johannes 3:16).
  • Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan (Johannes 6:40).
  • Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe (Johannes 6:63).
  • Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is” (Johannes 6:68-69).
  • Op ‘n keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie my volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Johannes 8:12).
  • ‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape (Johannes 10:10-11).
  • Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie (Johannes 10:28).
  • Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooi sterwe nie. Glo jy dit?” (Johannes 11:25-26).
  • Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Johannes 14:6).
  • “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is” (Johannes 17:1-3).

Johannes onderrig deurgaans sy lesers omtrent die lewe wat Jesus moes bring. Dit is soos ‘n goeie rolprent: naby die einde gebeur daar ‘n openbaring wat alles verander, maar as jy weer na die rolprent kyk, sien jy al die tekens en leidrade was die hele tyd daar!

Laat ons nie punt van Johannes se onderrig uit die oog verloor nie, maar in gedagte hou dat Jesus die Christus, die beloofde Messias, ons Koning en Verlosser is. Jesus het sy lewe gegee, sodat ons die lewe en sy Naam kan ontvang ˗ oorvloedige, ewige lewe. Hy gee aan ons as kinders van die Koning van die konings ‘n onverdiende lewe van genade en standvastige liefde. Dit is ‘n lewe wat die enigste ware God ken en voortdurend meer van Hom leer. Dit is die lewe waarvoor ons geskape is, in gemeenskap met ons Skepper! Dankie Jesus.

Julie McIlhatton

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse