Hoekom moet ons Skrif memoriseer?

Hoekom moet ons Skrif memoriseer?

Deur Jen / 19 Februarie 2020 / Nader tot God

Ons memoriseer baie dinge in ons lewens; resepte, lirieke van liedjies, sinne uit films, aanwysings, selfs rekenaarprogramme. Ons voeg op ‘n gereelde basis net nóg inligting tot ons verstande. Een ding waarmee Christene egter blyk te sukkel, is om Skrif te memoriseer. Ek glo die hoofrede hiervoor is omdat ons nie die belangrikheid daarvan insien nie.

Redes en Voordele

  1. Ons is geroep om God se Woord te memoriseer.

In Kolossense 3:16 word ons aangesê dat “Die boodskap van die Christus moet in sy volle rykdom in julle bly”. Om te bly beteken om te woon; ons moet God se Woord in ons laat woon. Om dit te doen, word van ons vereis om dit in diepte te bestudeer en vas te lê in ons geheue.

Deuteronomium 6:5-6 sê, “Jy moet die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.” Vir iets om op ons harte te wees, beteken dat dit in ons geheue vasgelê moet wees. Ons kan dit herroep en daaroor dink sonder om dit op te gaan soek. Dít is hoe ons God met ons verstand kan liefhê.

  1. Jesus het Skrif gememoriseer.

Jesus het voortdurend Skrif aangehaal wat bewys hoe Hy tyd afgestaan het om dit te memoriseer. In Matteus 4 word vertel van Jesus se versoeking in die woestyn, waartydens hy aanhoudend aan die waarheid van die Skrif vasgehou het om die aanvalle van die vyand teen te staan. As Jesus nodig gehad het om Skrif te memoriseer, moet ons definitief Skrif memoriseer. Ons kan natuurlik ons Bybel oopslaan en verse lees, maar hoeveel te meer slaggereed sal ons nie wees as ons die verse vanuit ons geheue kan herroep sonder om dit te moet gaan opsoek nie?

“Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U.” Psalm 119:11

  1. Dit verander die wyse waarop ons praat.

“Wat die hart van vol is, loop die mond van oor.” Matteus 12:34b

Wat kom by ons monde uit? Klagtes? Woede? Pessimisme? Hierdie is bewyse dat die Woord van God nie ryklik in ons woon nie, want waarvan die hart vol is, loop die mond van oor. As ons harte met God se Woord gevul is, sal ons meer gereeld van Hom praat. Hy sal in ons gesprekke wees wat ons met ons kinders en met mekaar voer. Hy sal die manier beïnvloed waarop ons oor ons omstandighede en oor ander praat.

Daar is baie ander redes wat aangevoer kan word wat uitwys hoe belangrik en voordelig dit is om God se Woord verborge in ons harte te hê. Nou dat ons weet waarom, kom ons kyk na hoe. Daar is baie maniere om Skrif te memoriseer. (Ek is seker daar is selfs iewers ‘n toep wat ons kan help.) Hier is een metode wat ek baie effektief en nuttig vind in my eie lewe.

In How to Successfully Memorize and Review Scripture beveel Ron Hood die volgende metode aan om Skrif te memoriseer:

“Wanneer jy ‘n vers gekies het, haal dit vyf-en-twintig keer aan op die eerste dag, twintig keer op die tweede dag, vyftien keer op die derde dag, tien keer op die vierde dag, vyf keer op die vyfde dag, een maal ‘n dag vir vyf-en-veertig dae, een maal ‘n week vir sewe weke, en dan een keer ‘n maand daarna.”

Dit is ‘n stadige proses, maar sodoende kan ons seker wees dat dit in ons harte vasgemessel word. Soms plak ek die verse teen my badkamerspieël vas en sê dit ‘n paar keer op terwyl ek regmaak. Ek sit ook verse in die kombuis, op my rekenaar, of in die areas waar ek werk. Ek het al selfs ‘n 3×5 kaartjie in ‘n plastiesakkie gesit en in my stort vasgeplak vir ‘n bietjie ononderbroke memoriseringstyd.

Een ding wat ons moet onthou is dat, net soos Bybelstudie, Bybel-memorisering werk en tyd verg. Daar is nie kortpaaie nie. Dit is die werk werd. Wat as ons doelwit vir hierdie jaar is om Skrif te memoriseer? Wat as, in plaas daarvan om verse te memoriseer, ons hoofstukke memoriseer, of selfs Bybelboeke? Eerder as om oorweldig te wees deur die harde, stadige werk wat die memorisering van God se Woord vereis, kom ons gryp dit aan en verbind ons daaraan toe om Sy Woord in ons harte te bewaar.

Met my oë op Jesus,

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse