Hoe om moeilike Skrifgedeeltes te hanteer

Hoe om moeilike Skrifgedeeltes te hanteer

Deur Jen / 3 Februarie 2020 / Nader tot God

Het jy al ooit mismoedig geraak met jou Bybelstudie omdat jy sekere verwarrende gedeeltes teëgekom het? Jy is nie alleen nie. Selfs Petrus het na Paulus se geskrifte gekyk en gesê, “Daar is dinge in sy briewe wat moeilik is om te verstaan” (2 Petrus 3:16).

As jy jou Bybel lank genoeg bestudeer, sal jy hierdie teksgedeeltes teëkom. Soms is dit ingewikkeld vanweë die bewoording daarvan, en sommige is so diep gewortel in ‘n antieke kultuur dat ons verlore voel.  Met ander tye is die Skrif moeilik om te verstaan aangesien God se weë nie ons weë is nie (Jesaja 55:8). Partykeer is dit omdat ons nie hou van wat ons lees nie – ons trots staan in ons pad of ons sukkel om sekere leerstellings te begryp.

Ons het almal Skrifgedeeltes wat ons pootjie, maar ek hoop dat vandag se woorde jou sal bemoedig. Kom ons begin met woorde van waarskuwing.

Wees versigtig vir Google.

Google is nie noodwendig jou vriend wanneer jy probeer om moeilike Bybelgedeeltes te verstaan nie. ‘n Internet soektog kan nie vir jou sê of ‘n artikel of webwerf Bybels korrek is nie. Soek-enjins bring na vore wat die gewildste is, en ek dink dat ons almal geleer het dat nie alles wat gewild is, goed is nie. Moenie doelloos in Google gaan soek vir antwoorde op Skrifgedeeltes wat bo jou vuurmaakplek is nie, veral nie sonder om ‘n betroubare bron daarna te raadpleeg nie.

Wees versigtig vir Studiebybels.

Ek is gaande oor Studiebybels, maar hou in gedagte dat die notas wat ons dikwels naslaan om ons met interpretasie te help, deur mense geskryf is en nie deur God geïnspireer is nie. Daar is ‘n paar wonderlike Studiebybels beskikbaar, en sommige wat ‘n sekere teologiese neiging het.  Alhoewel dit as ‘n uitstekende hulpmiddel kan dien om bystand te verleen, is die notas en artikels wat dit bevat nie God se Woord nie. Lê wysheid aan die dag wanneer jy ‘n Studie- of Toewydingsbybel kies en gebruik.

Diegene wat my ken, weet dat ek ‘n Charles Spurgeon aanhanger is, en daar is, glo dit of nie, ‘n Spurgeon Studiebybel. Alhoewel ek vertroue in meerdere van sy geskrifte het, wil ek steeds op my hoede wees dat wat hy geskryf het, Bybels korrek is.

Wees versigtig vir menslike emosie.

Moenie toelaat dat jou emosies of gevoelens dikteer wat waar is, en wat nie waar is nie. Moenie op jou emosies staatmaak om jou te vertel hoe God is, wat sonde is, en wat sonde nie is nie. Ons gevoelens is dikwels misleidend. Soms prikkel dít wat waar is nie die mees positiewe gevoelens nie.  Soos ons daarna streef om getroue volgelinge van Christus en getroue rentmeesters van die waarheid van God se Woord te wees, kom ons hou aan om ons gevoelens en emosies aan God voor te lê wanneer ons iets in die Skrif teëkom wat ons kwaad, hartseer, verward, seer of bang maak.

HOE OM MOEILIKE SKRIFGEDEELTES TE HANTEER

Gebruik die Bybel as jou eerste kommentaar.

Wanneer jy ‘n moeilike teksgedeelte teëkom, kyk of daar ander gedeeltes is wat lig kan werp op dít wat jy gelees het. Om die Skrif toe te laat om die Skrif te interpreteer, is hoe kerk al vir eeue lank te werk gaan. Histories is dit die “analogie van geloof” genoem. Wanneer jy ‘n moeilike teksgedeelte teëkom, moenie dit op so ‘n wyse probeer verklaar dat ‘n verstaanbare gedeelte daardeur weerspreek word nie. As ‘n teksgedeelte verwarrend of moeilik is om te verstaan, kyk na ander gedeeltes wat verstaanbaar is. Gebruik verstaanbare gedeeltes om moeilikes te interpreteer.

Hier is ‘n meer eenvoudige voorbeeld:

In Johannes 1:1 staan daar, “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.”

Wie of wat is hierdie “Woord”? In vers 14 word vertel, “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon.” Namate ons die res van Johannes 1 lees, kom ons agter dat die Een wat onder mense kom woon het, Jesus was. Daarom kan ons tot die gevolgtrekking kom dat die die Woord waarna in vers 1 verwys word, Jesus was.

Gebruik die toets van die tyd.

Gebruik buite-Bybelse bronne wat nie splinternuut is nie. Van die beste bronne is kommentare, geloofsbelydenisse, of boeke wat eeue terug geskryf is. Hulle het die toets van tyd deurstaan en is deur mense geskryf wat hulle lewens deurgebring het om hulle Bybels aandagtig te bestudeer en wat begaaf was met die vermoë om die betekenis van skrifgedeeltes te verstaan en te artikuleer. (John Gill se kommentaar op die Bybel is ‘n goeie voorbeeld hiervan.)

 Praat dit uit.

Hopelik woon jy ‘n Bybelvaste kerk by waar jy jou leraar, of ander volwasse Christene, oor die teksgedeelte waarmee jy worstel, kan vra. Deur ‘n gesprek oor die gedeelte te hê en ‘n ander person se insig te hoor, kan baie nuttig wees. Soos altyd, maak seker dat wat jy by ander hoor in lyn is met die Skrif.

Vriende, dit is nie nodig om moeilike teksgedeeltes te vrees nie, of om dit oor te slaan nie. God is kenbaar en so ook is sy Woord. Wees gewillig om die harde werk te doen sodat jy in jou kennis en geloof in God kan groei. Hy is die harde werk werd.

Met my oë op Jesus,

Uitdaging vir die week: Hoe beskryf die metafoor van die wapenrusting van God in Efesiërs die Woord van God? Hoe kan jy hierdie week God se Woord as ‘n wapen gebruik, nie om ander mense seer te maak nie, maar om teen die planne van die vyand te veg.

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse