Hemelse Heimwee
Andrea Lopez
Toe ek grootgeword het, het ek altyd gedink dat ek my hele lewe lank in my tuisdorp sou bly. Ek is van nature ‘n huishen en om aan ‘n gemeenskap te behoort, asook om ‘n tuiste te skep waar my gesin geanker en stabiel voel, is vir my baie belangrik. Ek wou in ‘n plek woon waar ek voel my vriende en familie ken my goed en verstaan my, is lief vir my en waardeer my en ek wou ook in ‘n kultuur wees wat ek goed verstaan. Maar God het my soewerein in ‘n ander rigting gelei, eintlik in baie verskillende rigtings. Sedert ek agt jaar gelede getroud is, het my man en ek in agt verskillende huise in vyf verskillende stede gewoon. Selfs nou, terwyl ek vandag se Skrifgedeelte lees, woon ons in ‘n ander land en is ons nog steeds besig om ‘n nuwe taal en kultuur aan te leer wat baie anders is as in my tuisdorp.
Met elke trek het ek die angs en eensaamheid ervaar wat kom met die gevoel dat ek ver van die huis af is. Om eerlik te wees, veral tydens die eerste paar kere wat ons getrek het, het ek gesukkel met selfsug. Ek het gewonder hoekom God my na plekke sou bring wat so ver gevoel van waar ek gesmag het om te wees. Baie van my eerste paar maande, en soms jare in ‘n nuwe plek, was gevul met gebede en trane terwyl ek tot God geroep het. Die meeste van daardie gebede was versoeke dat God my sou bring, na wat ek gedink het ek nodig het, om te voel dat ek behoort, hetsy beter gemeenskap, vriende, of selfs ‘n werk nader aan my tuisdorp. Verblind deur my eie gevoel van heimwee, was my gebede selde vir die stede en nuwe mense met wie God my in gemeenskap geplaas het, en dit is waarom die Here se oproep tot gebed onmiddellik my aandag getrek het in vandag se Skrifgedeelte.
My ervaring om ver van die huis af te wees, is net ‘n breukdeel van die omwenteling wat die ballinge moes ervaar het in Babilon. Ek kan net dink aan die hoop wat hulle gevoel het toe God hulle vrae met ‘n belofte beantwoord het. Die ballinge, vreemdelinge in ‘n nasie wat niks van die ware God geweet het nie, het ‘n belofte ontvang van ‘n terugkeer na hul huis, 70 jaar in die toekoms. Tog het God hulle steeds opgeroep tot getroue, heilige lewe in die hede terwyl hulle gewag het vir die belofte wat Hy vir hulle in die vooruitsig gestel het. Hierdie hoopvolle belofte van toekomstige goedheid is wat hulle gemotiveer het tot ’n getroue lewe in hul nuwe huis. Hulle moes die goeie vir diegene rondom hulle begeer soos God goeie dinge vir hulle begeer het. En gedurende hierdie tyd van gebed vir hul nuwe tuiste, kon hulle God met hul toekoms vertrou omdat hulle gesien het hoe Hy sy beloftes in die verlede nagekom het.
Die belofte wat in vandag se Skrifgedeelte gegee is, was spesifiek vir die ballinge, maar dit toon vir ons God se liefdevolle karakter. Deur Jesus se eie onderrig sien ons dat ons ook geroep word tot getroue lewe waar God ons geplaas het, in die middel van ‘n verlore wêreld. Die verlange wat die ballinge gevoel het om huis toe te keer en die aardse heimwee wat ons soms voel, is bloot refleksies van die “andersheid” wat ons mag voel as Christene in ‘n wêreld wat probeer om die heerlikheid van die ware God om elke hoek te verdring. Hierdie hemelse heimwee herinner ons daaraan dat ons nie van hierdie wêreld is nie, maar burgers van God se koninkryk is en ons moet as sodanig leef (Filippense 3:20).
Of ons nou om die draai van die huis van ons kinderjare woon, aan die ander kant van die wêreld, aardse heimwee ervaar of hou van die avontuur van ‘n nuwe stad, ons as Christene woon almal ver van ons hemelse tuiste. Ons weet hoe dit voel om Jesus te probeer volg in ‘n wêreldse kultuur wat graag wil hê dat ons van Christus moet afwyk. Ons ervaar die pyn, trane en lyding wat kom met die lewe in ‘n gebroke wêreld, en ons voel die diepgewortelde waarheid dat dit nie is waar ons behoort nie. Maar ons het ook ‘n belofte – die belofte van ‘n lewende hoop in Jesus Christus. Dit is ons motivering om getrou en heilig te lewe in elke plek waarin ons onsself bevind.
Ons is ook ballinge, wat in ‘n vreemde land woon en wag op die vervulling van ons verlossing. En terwyl ons wag, word ons geroep om lief te hê soos ons Lewende Hoop liefgehad het, om lief te hê soos Jesus beide sy vriende en sy vyande liefgehad het. Jesus het ons geleer om ons naaste lief te hê (Matteus 22:39) maar ook om ons vyande lief te hê en vir hulle te bid (Matteus 5:44).
Ek wens ek het meer van daardie vroeë jare deurgebring in gebed vir die welstand van my gemeenskap en vir wysheid om te weet hoe om almal waarlik lief te hê en te leef op ‘n manier wat sy heerlikheid aan ‘n verlore wêreld weerspieël. Ek is spyt dat ek nie gebid het dat elke nuwe persoon wat ek ontmoet het, Jesus Christus as hul lewende hoop sou leer ken nie.
Die besef dat ons nie hier behoort nie, moet ons nie tot wanhoop, haat of vrees vir die verlore wêreld rondom ons lei nie, maar eerder tot ‘n vreugdevolle verwagting vir die vervulling van God se belofte om ons huis toe te bring na sy koninkryk. En as sodanig moet ons voortdurend bid vir ons bure, stede, vriende en familie om hul tuiste in Christus te vind.
Ek weet nie waarheen God my familie volgende gaan neem nie, maar met elke golf van aardse heimwee wat ek voel, herinner dit my aan hemelse heimwee, en daardie hemelse heimwee is goed. Wanneer dit moeilik voel om in ‘n wêreld te leef wat so teen God en sy goedheid gekant is, laat ons op ons knieë val en bid dat God goedheid in ons stede sal bring deur die verspreiding van sy koninkryk, en dat ander ook die vreugde van hemelse heimwee mag ervaar.
Andrea