Deur Angela | Maart 30, 2018 | Vrees en Angs
In 1987 is my ma met my stiefpa getroud, en ons nuutgevonde gesin het ‘n nuwe begin nodig gehad. Soos dié wat dekades gelede weswaarts getrek het, wou ons ook vars begin. So het ons van die landerye van Indiana na die heuwels van Noord-Kalifornië gery.
Ek onthou daardie rit met my en my broer op die agterste sitplek van ons trok asof dit gister was. Ek self het ook ‘n nuwe begin nodig gehad, en ek onthou hoe ek gewonder het wat vir elkeen van ons voorlê.
Verlede week het ek saam met my man en drie dogters na dieselfde gebied in Kalifornië gery. Dit was my dogters se lente vakansie en my oudste dogter wou, vir haar verjaarsdag, die plek sien waar ek gewoon en skool gegaan het toe ek haar ouderdom was.
Na ons aankoms in San Francisco en ons rit na ons hotel, het herinneringe begin om my gedagtes te vul. En skielik het die gedagte by my opgekom… Kyk waaruit het Ek jou verlos, Angela. Jy het geen idee gehad wat Ek in jou lewe gedoen het op daardie stadium toe jy en jou gesin hierheen verhuis het nie, maar Ek het. Jy het gebroke gevoel en of niemand omgee nie, maar Ek het daardie pyn geneem en goed aangewend. Reeds op daardie brose ouderdom het Ek jou voorberei.
“Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,
Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.
As jy deur water moet gaan,
is Ek by jou,
deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie;
as jy deur vuur moet gaan,
sal dit jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie,
want Ek is die Here jou God” – Jesaja 43:1-3
Wat God amper 30 jaar gelede in my lewe begin het, kon ek na terugkyk en sê: “Ek sien dit nou, Here. Ek sien u goedheid. Ek sien u goedertierenheid en verlossing.”
Daar op die snelweg oppad na die dorp waar ek eens gewoon het, het ek die skoonheid van God se verlossing met my dogters gedeel terwyl trane my oë gevul het. Daar is ‘n seën daarin om ouer te word en God se hand in jou lewe te sien, terwyl jy dit nie in jou jonger jare kon verstaan nie. Storms kom en die waters styg … maar deur God se goedheid is ek nie weggesleur nie.
Wat Satan as skade wou gebruik, het God omgedraai en dit vir goed gebruik.
Min het ek toe geweet wat God met my lewe sou doen. Hoe Hy ‘n gebroke meisie sou gebruik en drome in haar hart plaas wat Hy eendag sou vervul. Hy is goed, liewe vriendin en die werk wat Hy in ons lewens doen, is ook goed.
Twee weke gelede was ek in my hotelkamer besig om my familie gereed te kry vir die aktiwiteite van die dag en het ‘n oomblik geneem om ons Instagram rekening na te gaan. Daardie oggend het ek gesien dat ‘n kerk ons in ‘n foto ‘getag’ het en een van ons ouer LoveGodGreatly-studies gebruik het. Nuuskierig, ek het op die skakel geklik om te sien waar die kerk geleë was. Tot my verbasing, en ek is seker God se vreugde, het ek gesien dat die kerk geleë is in dieselfde dorp waar ek gewoon het … die dorp waarheen ons daardie dag sou reis om vir my dogters my huis en skool te wys!
(Sien julle daardie bakstene agter my? My stiefpa, my broer en ek het dit ingesit toe ons daar gebly het! Ek kon nie glo dat dit na al die jare nog steeds daar was nie!)
Die tydsberekening was perfek.
Terwyl ek verder lees het ek ontdek dat hulle ‘n vroue-aand by die kerk aanbied … daardie selfde aand!
Net God kon iets so oordadig beplan … so ver gaan om sy kragtige hand van verlossing en liefde te toon. Hy is in die fynste besonderhede van ons lewens betrokke. Niks is toevallig nie.
Tot die lieflike vroue by “Harvest Church” in Vacaville, Kalifornië, se verbasing het ek hul verrigtinge oorgeneem … maar net vir ‘n paar minute voor dit begin het. Ek moes hulle bedank dat hulle ons studies gebruik en hulle vertel wat ‘n ongelooflike seën dit vir my was om te hoor dat God “Love God Greatly” gebruik in ‘n dorp waarvoor ek baie lief is. ‘n Dorp waarin Hy my ‘n nuwe begin gegee het.
Liewe vriendin, ek weet nie waar God met jou is op hierdie oomblik nie, maar laat my toe om jou hiermee te bemoedig … Hy sien jou, en Hy het jou lief. En soos Hy in Jesaja 43:2 sê … as jy deur die water gaan, sal Ek by jou wees.
Moenie bang wees vir wat voorlê nie; God is met jou. God skryf sy wonderlike verhaal van verlossing en jy, liewe vriendin, word in daardie verhaal ingesluit. Jy mag dit dalk nie nou sien nie, net soos ek dit nie gesien het nie, maar vertrou op God. Hy werk namens jou; Hy sal die hartseer, gebrokenheid en pyn verlos.
“Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by die naam geroep, jy is myne.” – Jesaja 43:1
Kom ons gesels: Hoe het God jou gehelp om jou vrese te oorwin en in oorwinning te leef?
Wees lief vir God!