Getrou tot die einde

Getrou tot die einde

Deur Terria / 23 Desember 2019 / Saligsprekinge


Die Saligsprekinge eindig met die beloofde seën van vervolging.  Na ons studie van die baie maniere waarop God gelowiges seën, sou ons dalk verwag dat dit op ‘n meer positiewe en hoopvolle manier sal eindig.  Maar ek dink dat dit gepas is dat vervolging die resultaat sal wees van hulle wat waarlik vir Jesus volg. Jesus se lewe op aarde het geeïndig met die kruis en ons word geroep om Hom te volg.

Geseënd is die wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.  Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.  Wees bly en verheug, want julle loon in groot in die hemel.  Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.” – Matteus 5:10-12

Die goddelike lewe waartoe ons as gelowiges geroep word, is nie vir bang mense nie.  Ons gaan voort in die wete dat die pad vorentoe moeilik en smal is.  Jesus se volgelinge sal nooit vervolging en veroordeling ontsnap nie.  Nie as ons waarlik God se evangelie verkondig nie.  Ons sal deel in Jesus se seëninge, maar ook in Sy swaarkry.

“Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word.” 2 Timoteus 3:12

 Nou, nadat ons die eerste sewe saligsprekinge bestudeer het, kan ons sien hoe iemand wat ‘n regverdige lewe lei, mense kan ontbloot vir wat hulle werklik is en hulle selfs bedreig laat voel:

  • Die geseëndes wat weet hoe afhanklik hulle van God is, skyn ‘n kollig op diegene wat trots en arrogant is. Hul lewe is ‘n aanval op dié wat selfsugtig en selfstandig is.
  • Die geseëndes wat treur oor hulle sondes en dit bely, ontbloot die lewensstyl van hulle wat feesvier en spog oor hulle sonde.
  • Die geseëndes wat sagmoedig is, is ‘n skerp kontras teenoor hulle wat dominerend en aggressief is.
  • Die geseëndes wat honger en dors na wat reg is, ontbloot hulle wat slawe is van plesier, status en die besittings van die wêreld.
  • Die geseëndes wat barmhartig is, raak die harte aan van hulle wat oordeel, negatief en krities is.
  • Die geseëndes wat rein van hart is, se morele waardes is ‘n aanval op hulle wat seksueel losbandig is. Hulle eerlike praktyke ontbloot diegene wat immoreel lewe. Hulle harde werk maak die lui en apatiese mense skaam.
  • Die geseëndes wat vredemakers is, ontmasker diegene wat verdeeldheid saai, bevooroordeeld, rusiemakers en bitter is.

“Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly.  As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan diė wat Hom liefhet.” – Jakobus 1:12

Dit maak nie saak hoe liefdevol, vriendelik of genadig jy is nie, as jy Jesus verkondig, sal jy gehaat word.  Wanneer mense jou haat, haat hulle vir Jesus in jou.

Oral in die wêreld, lyk vervolging baie verskillend.  Sommige mense word in tronke gegooi, gemartel of doodgemaak oor die evangelie.  Ander word weer belaster, beledig, geëtiketteer, uitgesluit van sosiale funksies, onterf deur families of selfs fisies aangeval.  Maak nie saak hoe vervolging in jou lewe lyk nie, jy kan weet – geen swaarkry is vermors nie.

“Onthou wat Ek vir julle gesê het:  ‘n slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie.  As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg.  As hulle my woorde ter harte geneem het, sal hulle julle s’n ook ter harte neem.” – Johannes 15:12

Ons versoeking is om persoonlike vervolging ten alle koste te vermy.  Ons doen dit deur stil te bly en nie oor Jesus te praat nie, of deur ons af te sonder en net te meng met gelowiges wat soos ons dink.  Ons moet nie een van hierdie twee doen nie.  Ons moet die moed hê om vreesloos te staan vir die evangelie van Jesus.

“God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly.” – Filippense 1:29

Daar is geen kortpad na heiligmaking nie.  God se pad is altyd ‘n pad van lyding.  God se weg is om onsself te verloën, ons kruis daagliks op te neem en Jesus te volg, maak nie saak wat die koste is nie.

Wanneer ons vervolging in die gesig staar, onthou ons ons mees belangrikste missie op aarde – om uit te reik na hulle wat nie vir God ken nie en Sy goeie nuus te deel dat ware vergifnis moontlik is deur geloof in Jesus.

Wanneer ons vervolg word, onthou ons dat dit ‘n voorreg is dat ons dit kan verduur vir Jesus.  Ons wys aan die wêreld dat dit die moeite werd is om vir Jesus te sterf.  Ons lewens is vooruitbestem om die trofees te wees wat God se liefde en genade wys.

Vrede en genade vir jou,

Week 6 Uitdaging: As jy vervolg of gespot word vir jou geloof, maak ‘n bewuste poging om in liefde en goedgesindheid te reageer. Bid hierdie week vir Christene reg oor die wêreld wat afgryslike en skrikwekkende vervolging ervaar as gevolg van hul geloof in Jesus. Bid dat hulle vrede sal ervaar, dat hulle standvastig in hul geloof sal bly en dat hulle goddelike vreugde sal vind te midde van vrees en onsekerheid.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse