Deur Sara / 26 Februarie 2021 / Markus
Vandag se verse vertel vir ons van ‘n kritieke oomblik in Jesus se lewe en bediening: sy roeping van die twaalf dissipels. Dit is die begin van ’n verhaal van transformasie.
Jesus het op daardie stadium baie volgelinge gehad (ook dissipels genoem), maar Hy het slegs twaalf gekies om sy naaste dissipels, sy apostels, te wees. TWAALF. Dit is nie baie nie, so jy sou verwag dat Hy die beste van die beste sou kies om die perfekte dosyn te maak.
Wat sou ons vereistes insluit as ons vandag ’n perfekte dosyn kies? Ons kan oorweeg of hulle slim, lojaal, of invloedryk is, of hulle goeie menseverhoudings of ‘n goeie reputasie het of kundiges in sekere vaardighede is.
Ek kan nie voorgee dat ek weet hoe of waarom Jesus elkeen van hierdie mans gekies het nie. Ons weet dat Hy hulle gekies het nadat hy ‘n berg opgegaan en ‘n aand in gebed deurgebring het. Hulle is noukeurig oorweeg en gekies omdat Jesus geweet het – alhoewel die apostels nie geweet het nie – dat hulle die manne sou wees wat na die kruisiging met sy aardse bediening sou voortgaan.
Hulle was gewone mans. Daar was vissermanne en tollenaars onder hulle, maar geen godsdiensgeleerdes nie. Hulle was soms emosioneel, impulsief, selfbesorg en vol twyfel. Een van die mees geliefde apostels, Petrus, het Jesus drie keer verloën. Hierdie mans was nog ver van perfek af, maar met verloop van tyd, in Jesus se teenwoordigheid het hulle gegroei. Hulle het verander, en sodoende kon hulle die vroeë kerk vestig en die Christendom versprei. (Die uitsondering hiervan was Judas, die apostel wat Jesus verraai het. Alhoewel dit vir ons verwarrend is, was die keuse van Judas ook nie ’n ongeluk of ’n fout nie).
Hierdie was gewone mense, maar God het hulle mettertyd verander om buitengewone werk vir die koninkryk te doen.
Ons stories kan dieselfde wees. Ons is bewus van ons beperkings, maar God sien ons potensiaal raak. Ons is gewoon, maar God kan ons gebruik om belangrike werk vir Hom te doen. Hy kwalifiseer en stel ons in staat as ons gewillig en gehoorsaam op Sy oproep reageer.
“Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. (Fillipense 1:6)