Geloof Wat Jou Moedig Maak

Deur Angela | Junie 23, 2017

 “Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeletterde en eenvoudige mense. Die raadslede het hulle ook herken as volgelinge van Jesus.” (Handelinge 4:13)

Dink aan daardie laaste frase… “Die raadslede het hulle ook herken as volgelinge van Jesus.” Ek hou baie van daardie observasie, want dít wat waar was van Petrus in daardie oomblik, kan ook van ons gesê word.

Daar is iets waarlik mooi, aantreklik en kragtig aan ‘n persoon wat ‘n volgeling van Jesus is. ‘n Persoon wat ‘n volgeling van Jesus is, is deur die Heilige Gees bekragtig en moed gegee om te wandel in sterk geloof en oortuigde versekering; daardie persoon is seker dat Jesus is wie Hy sê Hy is en dat Hy kan doen wat Hy gesê het Hy kan doen.

Die enigste manier hoe ons Jesus op hierdie persoonlike manier kan ken en hierdie soort sterk geloof kan hê, is om tyd in Sy teenwoordigheid en in Sy Woord deur te bring, en om met die Heilige Gees vervul te word. En die enigste manier hoe die wêreld rondom ons van Hom sal weet, is as hulle Jesus in en deur ons kan sien.

Ek hou daarvan om na die lewens van Petrus en die ander dissipels te kyk. Dit wys ons dat, ongeag van wie jy is, wat jou agtergrond, jou geleerdheid, vaardighede, persoonlikheid of opleiding is – of selfs watter foute jy in die verlede gemaak het – God het ‘n plan om jou op ‘n kragtige manier te gebruik om mense na Jesus toe te wys.

Ons mag so gewoon en onwaarkynlik voel, maar ons kan ‘n buitengewone impak in die wêreld maak vir die glorie van God – nie as gevolg van ons eie naam of vermoë nie, maar as gevolg van wie Jesus in ons is.

Ek glo dat dit waar is, want ek sien dit in Petrus se lewe. Petrus was een van die eerste mans wat Jesus geroep het om ‘n dissipel te word, maar hy het nie ‘n teologiese agtergrond gehad wat jy sou dink noodsaaklik sou wees vir die bediening nie. Hy was ‘n eenvoudige visserman, wat net gewerk het om vir homself en sy familie te voorsien. Jesus het geweet dat ons een dag sal moet sien dat selfs ‘n gewone visserman – foute, gebreke en al – kon deur God gebruik word as ‘n man van sterk geloof.

In Matteus 16:13-14, vra Jesus vir Sy dissipels wie die mense sê die Seun van die mens is. Die dissipels het eers geantwoord wat ander mense sê en dink. Dit is moontlik, selfs in ons lewens vandag, dat ons dink ons het ‘n mate van begrip of openbaring oor wie God is, deur wat ons op ‘n afstand in ander mense se lewens gesien het, maar ons sal nooit ‘n persoonlike openbaring hê, sonder om Hom persoonlik te ken nie. Om dít te ervaar, moet ons werk om Hom persoonlik te ken, ons moet ons geloof uitleef en leer om dapper in die doel en plan wat Hy vir ons het, te wandel.

Jesus het tot die kern hiervan gegaan toe Hy die dissipels gevra het, “Maar wie sê julle is ek?” (Matteus 16:15).  Petrus was die eerste om te antwoord (soos hy dikwels was!), en omdat hy tyd met Hom spandeer het, kon hy vol vertroue sê wie Jesus vir hom was. Petrus het nie nodig gehad om te steun op die openbaring of insig van ander nie; hy het geweet en het deur geloof verklaar dat Jesus die Seun van God was.

En met daardie eenvoudige belydenis en verklaring van geloof, het Jesus ‘n voorspelling gemaak oor Petrus, en gesê,

“En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. (Matteus 16:18)

Dit is hierdie geloof in Jesus en die krag van Sy naam wat die hoeksteen word van ons verlossing, die rots waarop ons geloof gebou is, en wat die belofte van oorwinning oor die vyand is.

Omdat Petrus se geloof in Jesus was, kon hy in krag en dapperheid uitgaan om te doen wat God hom geroep het om te doen, en niks of niemand kon God se plan in en deur hom oorweldig nie. En dieselfde is waar vir jou en my. Ons is elkeen lewende stene (1 Petrus 2:5-6), gekies en geroep volgens God se doel, en ons sal nooit teleurgesteld word nie.

Wanneer ons Petrus weer sien in Handelinge 4:1-13, sien ons hom wandel in daardie sterk geloof, vol van salwing en gesag, en hy genees die siekes en roep die mense tot verlossing in die naam van Jesus. Dit het baie mense wat nie gemaklik was om die krag van God aan die werk in gewone mense te sien nie, ontwrig en ontstel, maar selfs toe hulle gehoor het hoe Petrus die Woord van God spreek, kon hulle nie die krag en gesag ontken waarmee Petrus die boodskap van Christus verduidelik het nie. Hulle was verwonderd dat sulke dapperheid van so ‘n gewone, onopgeleide, ongeskoolde (en selfs gebrekkige) persoon kon kom, en die enigste gevolgtrekking waartoe hulle kon kom was dat hierdie man ‘n volgeling van Jesus was.

Liewe vriendin, ek daag jou uit om te glo dat ons ook geken kan word as mense wat deur Sy Gees bekragtig is en die moed het om in sterk geloof en oortuigde versekering te wandel. God wil ons gewone en onwaarskynlike lewens gebruik om Sy doel op die aarde te bereik. Hy sal ons bemagtig en toerus om te doen wat Hy ons geroep het om te doen, en te gaan waar Hy ons geroep het om te gaan. Kom ons verras en verstom die wêreld eenvoudig deur geken te word as iemand wat ‘n volgeling van Jesus is en gevul is met Sy Gees, en as gevolg daarvan die salwing en die moed het om in sterk geloof te wandel, in Jesus se naam.

Met liefde,

Andrea

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse