Gebroke Dele

Gebroke Dele

Deur Sara / 22 Januarie 2021 / Verlos van Skande

Voor ons troue het ons ‘n porselein-koppie as trougeskenk ontvang. Ongelukkig het dit in die pos gebreek. Die winkel het my nie toegelaat om dit terug te gee nie, so ek het ’n mosaïk raam van die stukke gemaak en ’n afskrif van ons trou-uitnodiging daarin geplaas. Ek het deur die jare so baie kere daarna gekyk en my verwonder oor hoe God twee gebroke mense gebruik het om ’n gesin te maak. Ek is verbaas oor hoe Hy jare se omstandighede, mense en ervarings noukeurig verweef het om ons te help groei in ons geloof. Die stukke is nog steeds ru om die kante – en somtyds is ons ook so – maar die band het gehou. Die gebreekte stukke het bewys dat hulle nuttig is, selfs mooi.

Kom ons kyk na vandag se Skrifgedeelte vanuit die oogpunt van Mefiboset. Hy het ’n moeilike verlede gehad. Dit het voor die hand liggende dinge ingesluit wat mense kon sien (soos sy kreupel bene van ’n ongeluk in sy kinderjare) en duistere dinge wat mense dalk nie geweet het nie (soos hoe sy verpleegster saam met hom gevlug het toe sy gesin dood is). Hy begin sy lewe in die koninklike familie, maar beskryf homself later as ‘n ‘dooie hond’ (2 Samuel 9:8), ’n nare Joodse belediging.

Toe hy onverwags deur koning Dawid geroep is, moes Mofiboset ’n oorweldigende mengsel van emosies gevoel het. Hy was die oorblyfsel van ’n verslane vorstehuis en hy sou die dood verwag het. Hy was ook ’n verlamde uitgeworpene, en hy sou vernedering verwag het.

In plaas daarvan is hy met vriendelikheid ontmoet. Dit verdien meer uitleg, maar die woord wat in 2 Samuel 9:7 vertaal is, is die Hebreeuse woord hesed. Hesed is meer as net ’n mooi gebaar of ’n warm gevoel. Dit is ’n standvastige liefde wat gekenmerk word deur optrede, ’n manier om ’n verbond tussen twee partye na te kom. Koning Dawid het Mefiboset met ongewone genade en waardigheid verwelkom.

Vriendinne, ons is Mefiboset. As gelowiges is dit ook ons verhaal.

Ons is almal op ons eie maniere beskadig en verlam. Ons dra ons stories, ons letsels, ons skaamte.

God het Jesus gestuur om hierdie gebroke wêreld te verlos. Toe jy jou weg na die voet van die kruis gevind het en na Jesus uitgeroep het, is jy in goedertierenheid, hesed, verwelkom. Deur Jesus, word aan ons genade betoon, onverdiende guns verleen en word ons in liefde as erfgename van die Koning verwelkom. Ons word ’n ewige plek aan God se tafel belowe.

Daar is geen veroordeling in Jesus nie (Romeine 8:1).

Sit jou skaamte neer. Jy is gebroke omdat jy menslik is, maar jou gebrokenheid maak jou nie ongeliefd, onaantasbaar of onbruikbaar vir God nie. Ons is almal onwaardig en het ’n Verlosser nodig.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse