Gebede Met Oop Hande

Gebede Met Oop Hande

Melinda Choi

Die belangrikste ding wat ons as moeders kan doen, is om vir ons kinders te bid. Die verantwoordelikhede en oënskynlik eindelose take wat ons vir ons kinders verrig, is hoe ons uiting gee aan ons liefde vir hulle. Om ons liggame te gee vir die veranderinge van swangerskap, die pyn tydens geboorte, slapelose nagte met pasgeborenes, wasgoed wat nooit ophou nie, ontelbare etes, doktersafsprake, rondry, sportbyeenkomste, skoolgeleenthede, buitemuurse aktiwiteite, die handhawing van vriendskappe, navigasie van teleurstellings, viering van oorwinnings, dissipline, onderrig, saam leer, liefhê … en nog baie meer. Die werk van om ‘n moeder te wees, is anders as enige iets anders wat ons in die lewe doen. Dit is ‘n diepe uitgieting van onsself. Maar om vir ons kinders te bid, is ‘n diepe uitgieting van ons siele tot God.

Wanneer ons vir ons kinders bid, erken ons eintlik ons beperkings as ‘n ma. Ons erken dat ons dit nie alles op ons eie kan doen nie, en ons nooi God in om te help. Elke moeder wil die absolute beste vir haar kind hê. Ons het hoë hoop en drome vir hulle, maar ook diepe vrese en bekommernisse. Ons wil hê hulle moet ‘n wonderlike lewe hê. En ons sal alles in ons vermoë doen om dit te laat gebeur.

Is dit moontlik dat ons hierdeur egter te styf vashou? Vertroetel ons hulle soveel, uit liefde en kommer, dat hulle nooit leer hoe om moeilike dinge te doen nie? Hou ons aan ons kinders vas, of gee ons hulle oor aan die Here? Is ons prioriteite in lyn met God se wil vir hulle lewens, of in lyn met ONS wil vir hulle lewens? Maak ons kinders groot wat, soos Mark Batterson gesê het, dink die doel van die lewe “is om veilig by die dood aan te kom”? Of, maak ons hulle groot om die “geweldige grootheid van [God se] krag” teenoor hulle te ervaar?

Laat God Werk

Paulus se gebed in Efesiërs 1:17-19 openbaar sy diepe begeerte dat die Efesiërs God en die omvang van sy almag moet ken. As moeders moet hierdie waarheid die grondslaggewende gebed van ons harte wees. As die geestesoë [van ons kinders] verhelder is, (wat beteken hulle het Jesus as hul Here en Verlosser ontvang), is dit wat ons moet bid. Ons vra dat God hulle “wysheid gee en Hom so aan hulle openbaar sodat hulle Hom werklik kan ken en mag weet watter hoop sy roeping inhou.” Ons bid ook dat hulle mag weet “watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir gelowiges bestem het” en “hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.” Hierdie gebed is nie net vir ons kinders nie, maar God wil dit ook vir ons hê!

Hoe ontvang ons egter hierdie geestelike rykdom? Gee God dit net alles wonderbaarlik aan ons? Die antwoord is in verse 17 en 19. Ons ontvang hierdie dinge soos ons groei in ons kennis van Hom en in sy groot  krag. Daar is ‘n heilige spanning teenwoordig. Alhoewel ons groei hoofsaaklik  afhanklik is van die werk van die Heilige Gees, het ons ook ‘n verantwoordelikheid om na die Here te streef en onsself te dissiplineer om vir Christus te leef. Wanneer ons na God streef, sal Hy Homself aan ons openbaar. Wanneer ons ons beheer oorgee, sal ons sy geweldige krag ervaar. Ons leer God ken deur elke area van ons lewens ten volle aan Hom oor te gee.

Dieselfde geld vir ons kinders. As ons elke ontbering of pyn van hulle wil weerhou en hulle daarteen beskerm, sal hulle nooit die geleentheid hê om God se beskerming en troos te sien en te herken nie. As ons hul lewenspad net maklik en geseënd maak, hoe sal hulle, wanneer die lewe moeilik raak, vertrou dat God goed is? Ons kinders kan God nie vir hulself ervaar as ons aanhou om as God vir hulle op te tree nie.

Openbaring 5:8 sê dat ons gebede goue bakke vul as wierook voor die troon van God. Hoe mooi is dit nie! Elkeen van ons gebede word nie net onthou nie, hulle word bewaar. Hulle word versamel en saam met die gebede van al die heiliges gebring. En hulle sal wierook, ‘n aangename aroma vir die Here wees. Dink vir ‘n oomblik aan die gebede wat jy vir jou kind of kinders gebid het. Hulle wissel ongetwyfeld van prakties en eenvoudig tot diep ontroerend en hartseer. God hoor hulle almal. Hy bewaar hulle almal. Hy sal hulle almal beantwoord, op een of ander manier. En eendag, wanneer ons aangesig tot aangesig met Jesus is, sal dit alles sin maak.

Nader tot God met Oop Hande

Toe ek ons tweede seun by die universiteit afgelaai het, het God my ‘n onverwagte les geleer oor hoe om vir ons kinders te bid. Ons het met opgewondenheid die laaste items in sy koshuiskamer neergesit, en hy was amptelik ingetrek. Onmiddelik was dit asof ‘n skakelaar afgeskakel het, en hy was anders. Sy vreugde het in diep hartseer verander. Ek het hom nog nooit so gesien nie. Daar is niks gesê oor hierdie verandering nie, maar my hart het swaar geword met die gewig van syne. Terwyl hy die eerste nag in sy koshuis deurgebring het, het ek in my hotelkamer na die Here uitgeroep. Verskeie moontlikhede het my gedagtes oorweldig. Moet ek hom van die universiteit onttrek en terugneem huis toe? Moet ek hom sy beste vriend se aanbod laat aanvaar om na Hawaii te verhuis en sy universiteitskursusse aanlyn te voltooi?

God het ‘n boek wat ek gelees het oor vertroue in Hom in vreesagtige tye, gebruik om my te wys hoe ek vir my seun kon intree. Ek het gebid: “Here, wat wil U op hierdie tydstip vir my sê?” God het, nie hoorbaar nie, maar amper soos ‘n harde stem in my gees, gesê: “Hy is myne, Ek het hom!” Daar was selfs ‘n duidelike ondertoon van “Hou op inmeng.”

Aan die een kant het ek gebid dat ons seun God meer intiem sal ken, God meer volkome sal vertrou, en God se krag in sy lewe sal sien werk. Aan die ander kant het ek probeer om uit “goeie bedoelings” in te tree toe God my gebed beantwoord het op ‘n wyse waarvan ek nie gehou het nie. God was reg. Ek moes “terugstaan,” en ek het. Ek het hom daar gelos. Toe ek my pa vertel van die worsteling wat ek gehad het om ons seun by die universiteit te los, het hy gesê: “Hy moet bly, anders sal hy nooit uit die stootwaentjie kom nie.” Absolute kragtige woorde.

Hoe sal ons kinders se kennis van God groei as hulle nie self ervaar wie God is nie? Hoe sal hulle “sy groot krag” verstaan as hulle nooit vir hulself daarvoor moes vertrou nie? Al ons goeie bedoelings en beskerming kan eintlik keer dat ons kinders God regtig leer ken. Wat as die “moeilik” wat ons probeer om ons kinders van te beskerm, die presiese ding is wat hulle moet ervaar om die krag van God in hul eie lewens te verstaan? Dieselfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het, leef in ons. Maar daardie krag was nie gebruik totdat Christus gesterf het nie. Daar moet in ons ook ‘n dood  wees. Ons moet vir onsself sterf. Sterf vir ons eie wil vir ons lewens, en sterf vir ons wil vir ons kinders se lewens. Net dan salhulle die krag van die opgestane Christus vir hulself ervaar. En die gebed van ons harte kan waarlik wees… “hulle behoort aan U, God, U het hulle!”

Melinda

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse