Gaan Voort in die Geloof

Gaan Voort in die Geloof

Terria Moore

“Kinders, dit is die laaste uur. Julle het gehoor dat daar ‘n antichris kom; en daar is nou reeds baie antichriste. Daaruit weet ons dat dit die laaste uur is. Hulle het wel uit ons geledere voortgekom, maar niemand van hulle was ooit werklik een van ons nie, want as hulle werklik van ons was, sou hulle by ons gebly het. Dit moes duidelik word dat geeneen van hulle werklik een van ons is nie.”—1 Johannes 2:18-19

Die apostel Johannes gee in 1 Johannes 2-5 vir gelowiges maniere om seker te wees dat ons een is met Jesus, al lei ons nie sondelose lewens nie.

Watter wonderlike versekering! Ware gemeenskap met God kan getoets en bewys word.

In hierdie gedeelte berei Johannes gelowiges voor op die realiteit dat daar vals leraars, vals predikers en teenstanders van Jesus teenwoordig is. Daardie getal gaan sekerlik toeneem, selfs te meer noudat die laaste dae ophande is.

Hierdie teenstanders van Jesus is antichristusse, voorlopers van die finale antichris. Die antichris, “die wettelose mens” soos hy in 2 Tessalonisense 2:1-10 genoem word, is aan die kom. Gelowiges kan egter aan Jesus Christus se belofte vashou. “Ek kom gou,” het Jesus in Openbaring 22:12 verklaar.

Vir baie gelowiges is die pyn van ‘n vriend of familielid wat hulle rug op Jesus draai, Hom verloën en teëstaan, hartseer. Deur geloof gaan ons egter voort saam met Jesus en bid vir hulle, maar ons sit die stryd voort. Ons bly getrou aan Jesus en die waarheid van die Bybel.

Ten spyte van verwerping deur familie en vriende, die swaar van vervolging en teenkanting teen waardes, moet ‘n gelowige se hart en gedagtes op Jesus gefokus bly. Beproewing, haat en vervolging sal ‘n konstante stryd wees wat gelowiges moet verduur.

“Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur.”—1 Petrus 5:8-9

Johannes leer ook gelowiges dat hierdie antichriste gaan misluk. Hulle kan nie ware gelowiges oortuig of van Jesus se leringe laat afwyk nie want ons is deur die Heilige Gees gesalf. Dié wat aan Jesus behoort, sal saam met Hom voortgaan en aan Hom en die waarheid van die Bybel getrou bly.

‘n Gelowige kan net namaaksels herken en onderskei wanneer ons met die outentieke waarheid van God se Woord, die Bybel, versadig en deurtrek is.

As ons buite die veiligheid en sorg van die Here wegdwaal, loop ons gevaar om die prooi te word van die baie antichriste van ons tyd. Hulle sal listige, subtiele, aanloklike maniere gebruik om gelowiges te oortuig, en ons sal onderwerp word aan hulle leuens, beskuldigings, misleidings en versoekings.

Tog sal ware gelowiges nie swig voor hulle listigheid nie. Ons moet aan Jesus en die waarheid van die Bybel getrou bly.

Namate Jesus se wederkoms nader kom, gaan al hoe meer mense van Hom af wegdraai.

Alhoewel hierdie laaste dae geleidelik sal vererger, sal ons bly volhard en aanhou om elke oomblik aan God vas te hou.

Terwyl ons volhard, bly ons bid vir hulle wat afgedwaal het, ons gaan voort om die Bybel te lees en te bestudeer, en ons hou aan om Jesus se liefde uit te stort op almal met wie ons te doen kry.

God het ‘n wonderlike plan vir diegene wat standvastig bly in Jesus. Bly geduldig en waaksaam, gaan voort in die geloof, terwyl ons uitsien na die vreugde om Jesus van aangesig tot aangesig te sien met sy wederkoms.

Hoe het 1 Johannes 2:8-9 jou bemoedig en aangespoor?

Vrede en genade vir julle.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse