Diepliggende Vrede
Andrea Lopez
Die meeste van ons het al voorheen ‘n pragtige klein babatjie vasgehou – miskien ons eie kinders, ‘n vriendin se pasgebore baba, of ‘n klein niggie of nefie. Ons het ook heel moontlik gewonder hoe hierdie klein baba sal wees as hy of sy grootword. Sal hulle daarvan hou om te lees? Of die vinnigste naelloper in hul klas wees? Sal hy of sy vriendelik en vrygewig wees teenoor diegene rondom hulle? Of ‘n hart hê om dié wat seer het te help? Ons het dalk selfs drome van ons eie vir hulle, met die hoop dat hulle van ons gunsteling sport sal hou of sal groot word om bekend te wees vir hul vrygewigheid en vriendelikheid. Ons het verseker almal al gehoop dat die kinders wat ons vashou groot sal word om die Verlosser van die wêreld te ken. Maar nie een van ons het al ooit die vreugdevolle ervaring gehad waarmee Simeon geseën was tydens Jesus se toewyding nie.
Terwyl Simeon die weke oue baba Jesus in sy arms gehou het, het hy nie gewonder wie Jesus sou wees as Hy grootword of watter erfenis Jesus sou nalaat nie, want Simeon het reeds geweet dat hy die Verlosser van die wêreld vashou.
Ten volle Gebore Geloof
Die Here het vir Simeon belowe dat hy lank genoeg sal lewe om die Messias te sien. Sommiges sou dit dalk moeilik vind om te glo dat hierdie klein, nietige kindjie wat Maria en Josef na die tempel gebring het wat nie op sy eie kon loop, praat of eet nie, nog minder ‘n leër lei of ‘n koninkryk regeer, die Verlosser was wat gestuur is om die gevangenes te bevry, blindes se oë oop te maak en God se koninkryk op aarde te vestig. Maar lank voordat Jesus die water in wyn verander het of die golwe van die see kalmeer het, voordat Hy ooit die kreupeles genees het of Lasarus uit die dood opgewek het, en voordat Jesus sy verhouding met die Vader gewys het, het Simeon reeds geglo dat God sy belofte sou vervul om redding, verlossing en herstel te bring aan sy mense deur hierdie klein babatjie.
Simeon het in die komende verlossing geglo omdat hy persoonlik die vervulling van God se belofte om die Messias te sien, ervaar het. Hy het nie tekens en wonderwerke nodig gehad nie. Een ware woord van God was genoeg om die res te glo. Net ‘n blik op Jesus was genoeg vir Simeon om te reageer met ‘n seën aan God en ‘n diepliggende vrede in wat die toekoms mag inhou.
Ten volle Ervare Geloof
In sy brief aan die wêreldkerk het Petrus beklemtoon “Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.” (1 Petrus 1:8-9). Aan hierdie kant van die kruis het ons Jesus nie gesien nie, nie met ons eie oë nie, maar ons het persoonlik die vervulling van God se belofte ervaar om ‘n offer vir ons sonde en redding vir ons siele te voorsien.
Ons het Jesus ontmoet, ons is deur sy bloed gewas en met God se Gees vervul. As gevolg hiervan, gaan ons voort om op God se getrouheid te vertrou om volkome verlossing en ‘n onverganklike erfenis vir al die nasies te bring. Jesus se vervulling van sy woord aan die kruis lei ons ook na diepliggende vrede vir ons toekoms.
Ten volle Gegrondveste Geloof
Soos ons hierdie adventseisoen herinner word aan Jesus se menswording – sy geboorte as ‘n klein, hulpelose baba – en terwyl ons die verhaal van Maria en Josef en die herders lees, weet ons dat sy koms net deel van die storie was. Aan hierdie kant van die kruis is ons bevoorreg om die ware verhale van Jesus se wonderbaarlike bediening te ken – sy mag oor siekte, bose geeste en dood. Ons weet van sy bloed wat vir sondaars vergiet is en die verlossing en vergifnis wat Hy bied. Ons weet van sy opstanding, krag en heerlikheid. En terwyl ons dink en peins oor alles wat God vir ons gedoen het deur Jesus Christus, sy getroue beloftes nagekom en vervul, kan ons reageer soos Simeon gedoen het, met die wete dat ons volgens God se Woord ook vrede in die hede het en moet bly wees oor wat die toekoms mag inhou.
Hierdie Adventseisoen word ek daaraan herinner dat ek God op sy Woord kan neem. Maar om sy Woord te vertrou, moet ek sy Woord ken. Ek moet tyd maak om gedurende hierdie seisoen by die beloftes van God stil te staan, beide om my te verheug oor dié wat Hy reeds vervul het, asook om te rus in die vrede wat gevind word wanneer ek vertrou dat Hy dié wat nog gaan kom, sal bewerkstellig.