Die Woorde Wat Ons Praat – ‘n Gebed Geinspereer deur Efesiër 4:29-32
Deur Whitney | Augustus 19, 2019 | Woorde Maak Saak
Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is…
God, U sê dat met baie praat bly die sonde nie uit nie (Spreuke 10:19). Ek het té veel woorde gespreek vandag – harde woorde wat afbreek – en ek kan hulle nie terugtrek nie. Wat my hart van vol is, het my mond van oorgeloop, voordat ek die verpletterende gewig van hul impak kon bereken het. Dit het in ‘n oomblik uitgevloei, en die vertroue wat soveel genade, tyd en doelgerigdheid geneem het om op te bou, vernietig. Liewe Vader, vergewe my dat ek te gou praat en nie gewillig is om te luister nie (Jakobus 1:19). Ek bid vir u krag om my te help om stil te bly, totdat ek goedgunstiglik kan reageer. Wanneer my woorde kom, help my om nie die gees van die ontvanger van my woorde te breek nie, maar om met kalmerende woorde wat lewe bring, te praat (Spreuke 15:4).
…volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom. En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, wat Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.
Jesus, U het gekom en Uself gegee en aan my genade geskenk, ver bo wat ek verdien. Daar was tye wat U Uself kon verdedig het, maar wat U niks gesê het nie (Matteus 26:63); tye waar U mishandel is, maar geduldig gebly het en nie gekla het nie (Jesaja 53:7). Help my om U voorbeeld van diensbaarheid en genade-vervuldheid te volg wanneer ek praat, want U weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee U genade (Jakobus 4:6). Liewe Here, ek is so jammer, dit breek my hart dat my woorde U Gees bedroef. Skep in my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig (Psalm 51:12).
Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie.
God, ek het té lank aan bitterheid vasgehou. Ek wil nie hê dat woede en bitterheid in my hart moet wortel skiet en die vrug van U Gees in my moet verdring nie. Deurgrond my, o God, deurgrond my hart; ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad! (Psalm 139:23-24). In plaas van woede in my, laat daar liefde wees. In plaas van wanhoop, laat daar vreugde wees. In plaas van konflik, laat daar vrede wees. In plaas van frustrasie, laat daar geduld wees. In plaas van haat, laat daar vriendelikheid wees. In plaas van euwel, laat daar goedhartigheid wees. In plaas van bedrog, laat daar getrouheid wees. In plaas van felheid, laat daar nederigheid wees. In plaas van chaos, laat daar selfbeheersing wees (Galasiërs 5:22-23). In plaas van myself, laat daar meer van U wees.
Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.
Vader, dankie dat U my vergewe en my verander om meer soos U te wees! In hierdie koue en onvergewensgesinde wêreld, hou my hart teer teenoor U. Deur die krag van U Gees in my, laat my mond met wysheid praat en laat ek met liefde leiding gee (Spreuke 31:26). Jesus, U geduld en barmhartigheid teenoor my is verstommend. Dit is U goedheid wat tot bekering lei (Romeine 2:4). Mag my woorde u liefde, hoop, genesing en versoening bring aan diegene wat vandag oor my pad kom.
By sy voete,
*Kom ons gesels: Ons woorde maak saak. As jy vandag hierdie gebed gebid het, tik “Amen” in die kommentaar hier onder. Kom ons nader saam tot God in gebed.
Week 2-Uitdaging: Let hierdie week op na die woorde wat jy in jou gedagtes herhaal en praat met jouself. Fokus daarop om selfgesprekke te voer wat liefdevol en gerig is op Filippense 4: 8.
Week 2 Leesplan
Week 2 Memoriseervers