Die wêreld sal weet
Deur Crystal / 10 April 2020 / Opgestaan
Vandag se Skrif bring ons na die tafel waar Jesus saam met die dissipels gesit het die aand toe Hy gevange geneem is. Jesus het alles geweet, wat sou kom en wat dit van Hom sou verg en Hy het gebid. Hy het vir Homself gebid dat God, deur die werk waarvoor Hy na die aarde gestuur is, verheerlik sou word en dat Hy sou terugkeer na die ewige heerlikheid in die hemel. Daarna het Jesus vir sy dissipels gebid, dat hulle geheilig, veilig en eenkant gehou sou word. In vandag se gedeelte van die Skrif het Jesus vir ons gebid, die gelowiges oral oor, wat deur ons getuienis en eenheid die goeie nuus van die Evangelie met ander sou deel.
“Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.” – Johannes 17: 22-23
Dit is ‘n pragtige gebed wat nog meer buitengewoon gemaak word as ons dink aan die manne wat saam met Jesus om die tafel gesit het. Jesus het geweet wie Hom sou verraai en wie Hom sou verloën. Hy het geweet wie die egtheid van die opstanding sou betwyfel totdat hulle die bewys kon sien en voel. En Jesus het geweet dat hulle nodig het om te hoor hoe geliefd hulle was, ook hoe geliefd ons is.
‘n Paar weke gelede het ek saam met my dogtertjie in haar kamer gesit terwyl sy vir my vertel het van probleme wat sy met ‘n meisie in haar klas ervaar. Nare woorde is gewissel. Beide van hulle het uitgesluit gevoel, en hulle het die ingewikkelde (en onrealistiese) laerskool-reëls wat meisies in Graad 2 laat dink dat hulle slegs met een persoon op ‘n slag vriende mag wees, probeer uitwerk. Nadat ek ‘n paar van my eie verhale oor probleem-vriendskappe gedeel het, het ek gevra of ons vir die ander dogtertjie kan bid.
Ek het my dogter se reaksie glad nie verwag nie. Sy was platgeslaan. Terwyl die trane gevloei het, het sy erken dat sy graag wil hê ek moet bid, maar nie vir die meisie wat so gemeen was nie. Omdat sy in haar seer nie verby haar eie behoeftes kon sien nie, het dit vir haar gevoel of ek die ander meisie se kant kies en meer omgee vir haar klasmaat.
Die opstanding verander alles! Ons is nie meer vyande van God nie, maar vroue wat liefgehê word soos wat Jesus liefgehad is. Ons is ingesluit en geroep en word voor gebid sonder huiwering. Ons kan die vreugde en vryheid ervaar wat spruit uit die keuse van eenheid bo onenigheid, omdat ons ‘n ewige perspektief het. Ons weet dat die ewigheid met Jesus meer werd is as om gunstelinge te hê, skoor te soek of ons eie ego te voed. Ons kan bid vir diegene wat ons teleurstel of ons gevoelens seermaak, omdat ons weet hoeveel meer Jesus vir ons opgeoffer het, en dis ons liefde wat die beste getuienis sal wees.
Crystal