Deur Jen Thorn | September 8, 2017 | 1 & 2 Timoteus
Het jy al ooit uitgeput gevoel terwyl jy probeer om die Christelike lewe te leef? Ek het al. Daar is tye wat dit absoluut uitputtend is om te doen wat reg is, om teen die vloei van die kultuur te gaan en met geloof te leef. Maar dit is nie hoe dit veronderstel is om te wees nie, en ek kan sien dat my probleem nie my eie swakheid is nie, maar my poging om weg van die wysheid en krag wat God voorsien, te leef.
In 1 Timoteus 1:18-19, bemoedig Paulus vir Timoteus, en vir ons, om die goeie die goeie stryd te stry en nie ons geloof te laat skipbreuk ly nie.
Dit blyk asof Timoteus ‘n jong predikant is, moontlik slegs onlangs bevestig. Paulus vertel aan Timoteus dat hy die waarhede moet onthou wat vroeër oor hom uitgespreek is. Alhoewel ons nie ‘n afskrif het van wat gesê is nie, weet ons dat dit in ooreenstemming met die evangelie was, en daardie woorde het die krag voorsien wat die jong Timoteus nodig gehad het tydens stormagtige tye.
Paulus gebruik twee verskillende soorte beeldsprake. Een is militêr en die ander is seevaartkundig. Die punt wat hy maak is dat ons goeie soldate én goeie seevaarders moet wees.
- Die Soldaat
As ‘n soldaat het ons twee doele. Een is om te veg teen daardie dinge wat teen God se Woord en Sy eer is. Die wêreld roep ons om te kom en te rus in haar gemak en om haar skatte bymekaar te maak. Sy vertel ons om haar filosofië te aanvaar om vreugde te kan vind, en om saam te staan met diegene wat teen God is. Maar gemak word nie gevind in materiële dinge nie, en ons waarde en waardigheid kan nie in hierdie wêreld gevind word nie, maar slegs in ons verhouding met Jesus. Ons moet veg teen leuens en ongeregtigheid, afvalligheid en onheil.
Maar ons moet ook veg teen al daardie selfde dinge wat in ons eie harte is. Ons word in die versoeking gebring om in God te twyfel en ons moet teen daardie impuls veg. Ons word in die versoeking gebring om oneer aan God te bring deur lui, onvriendelik, ondeurdag of hebsugtig te wees, en ons moet daarteen veg.
Die tweede doel wat ons as soldate het, is om te veg vir die evangelie; om te veg vir geregtigheid en goedheid en waarheid. Dit is nie genoeg om reguit te praat vir wat verkeerd is nie, maar ons moet duidelik praat vir wat reg is en dan sulke woorde opvolg met heilige aksies.
Maar ons moet altyd met liefde en genade veg, want dit is hoe die Kaptein van die Leër met ons is en ons moet soos ons Kaptein wees.
- Die Seevaarder
Die tweede opdrag wat Paulus vir ons gee is om seker te maak dat ons geloof nie skipbreuk ly nie. Ons glo dat wanneer jy gered word, jy nie jou verlossing kan verloor nie. Die opffering van Christus kan nie ongedaan gemaak word nie, die vergiffenis kan nie teruggeneem word nie, en ons aanneming as kinders van God kan nie ongeldig gemaak word nie. Ons verlossing is sekuur, maar ons het die vermoë om ons geloof te verswak en selfs te vernietig, tot so ‘n mate dat dit die Naam van God oneer bring en aardse gevolge vir onsself bring.
Om ‘n goeie seevaarder te wees, benodig ons kennis en wysheid. Ons moet weet hoe om valse leringe, wat skade aan mense se siele bring, te herken. Ons moet tussen waarheid en dwaling kan onderskei. Ons moet leer hoe om deur verskillende tipes water te seil, hetsy stil, golwend of stormagtig. Al hierdie kennis en wysheid kan slegs kom deur die bestudering van God se Woord en gemeenskap met God deur gebed.
Deur dit alles moet ons onthou dat ons nie op ons eie sterk soldate of slim seevaarders kan wees nie. As jy op jou eie krag staatmaak, sal jy gou oorweldig, bang en uitgeput word, en gereed wees om baie gou op te gee. Ons moet staatmaak op die sterkte en die krag wat God vir ons op ‘n daaglikse basis aanbied.
Bely jou swakhede, vra vir hulp, vertrou dat God sal antwoord en kyk hoe Hy in jou lewe werk.
Kyk Na Jesus,