Die Skande van Vorige Besluite

Die Skande van Vorige Besluite

Deur Kelli / 18 Januarie 2021 / Verlos van Skande

Een van die baie redes hoekom ek lief is vir die Bybel, is die groot hoeveelheid verhale van redding, veral hoe mense wat verdruk is of die lydende partye was, in ere herstel is. Ons God het definitief van die beste verhale ooit geskryf; dit gee ons vandag nog hoop.

Ek het al pyn, skuld en skande in verskillende seisoene van my lewe ervaar. Met tye het ek myself toegelaat om die leuen te glo dat die Here nie vir my of my verhaal kan gebruik tot sy eer nie. Ek het baie onlangs ‘n enkelma geword as gevolg van ontrouheid, verlating en egskeiding; dit was regtig hartverskeurend. Skande speel aaklige speletjies met ‘n mens se gedagtes. Vir ‘n tyd lank het ek die leuen geglo dat ek en my kinders nie voldoende was vir enige iemand nie.

Daardie gedagtes is nie waar nie. Ons dien ‘n genadige God. Selfs wanneer ons onkant gevang word deur omstandighede wat ons nie gesien kom het nie, kan ons dankbaar wees dat God lief is vir onmoontlike situasies.

Een spesifieke verhaal het ‘n groot impak gemaak op my seisoene van treur en genesing. Naomi was welbekend met verlies, dood en rou. Sy het nie net ‘n weduwee geword nie, maar sy het ook albei haar seuns verloor. Naomi het sekerlik deur al die stadiums van rou gegaan. In Rut 1:20 keer sy terug na haar tuisdorp in Betlehem en sê: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak.” Sy het haar naam, “aangenaam” verander na “bitter”. Omdat Naomi gevoel het dat die lewe hard en bitter op haar was, het sy gekies om letterlik met daardie perspektief te leef.

Selfs wanneer ons leuens glo wat in teenstelling met die Woord van God is, leuens wat nie in lyn is met wie God sê ons is nie, ontmoet God ons net daar, selfs al is daardie plek ver van Hom af. Hy oorbrug die afstand om ons te herinner dat Hy steeds lief is vir ons.

Die Here is getrou, selfs wanneer die lewe en ander nie is nie.

Ons het ‘n keuse om of bitter of beter te word.

Naomi het bitterheid gekies in haar lyding.

MAAR GOD….

Hy het die keuses wat Naomi gemaak het, herstel en Hy herstel graag die keuses wat ons maak. Dit behoort ons hoop te gee dat ons verhaal nie verby is nie, maak nie saak wat ons in die verlede gedoen het nie. Terwyl ons nog asemhaal, het God ‘n plan vir ons lewens. God werk altyd en weef ‘n verlossingsverhaal dwarsdeur ons lewens.

Wanneer ons ons verlies, pyn en skande draai vanuit ‘n inwaartse perspektief – met gebede en vrae soos: “Hoekom ek, Here?” – na ‘n uitwaartse perspektief – soos: “O Heer, verander asseblief my gemors na ‘n boodskap,” dan kan ons ‘n pragtige tapisserie sien wat ontvou in ons lewens.

Waar jy ookal vandag in jou lewe is, liewe vriendin, ek wil jou herinner dat die Here jou sien. Hy het gehoor wat hulle oor jou sê. Hy het gesien hoe hulle jou behandel. Hy weet hoe dit voel om verraai te word. Jou verhaal is nog nie verby nie en Hy sal jou nie net weer opbou nie, maar jy sal ook weer lag en dans.

Kelli

Week 2 Uitdaging:

Ons het almal al geworstel met besluite uit die verlede, swakheid in verskillende areas van ons lewens en gebrokenheid. Skryf hierdie week ‘n paar van die verse wat die meeste tot jou gespreek het neer in ‘n notaboekie of in die notas gedeelte van jou joernaal. Memoriseer hierdie verse en begin om die krag van skande te verbreek soos jy God se waarheid in jou lewe toepas.

Week 2 Leesplan:

Week 2 Memoriseervers: 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse