Die Skande van Ontoereikendheid

Die Skande van Ontoereikendheid

Deur Angela / 15 Januarie 2021 / Verlos van Skande

Ek worstel al my hele lewe lank met ‘n gevoel van skande. Sommige van my vroegste herinneringe van skool sluit ‘n oorweldigende gevoel van skande in. Ek kan só duidelik onthou dat een van my klasmaats in my Graad 0 jaar alreeds kon lees. Net nadat ons geleer het van een van die letters wat daardie week op ons skedule was, het my onderwyseres een van die meisies gevra om in haar stoel te kom sit en ‘n kort boek vir ons te lees. Ek was in verwondering en terselfdertyd ook heeltemal oorweldig. Ek het gevoel dat ek dit nooit sou kon doen nie. Die dag toe my onderwyseres vir ons vertel het dat ons sou leer om tot by 100 te tel, het ek gevoel ek is kláár met skool. Toe leer ek dat jy vir twaalf jaar skool toe moet gaan en Graad 0 tel nie eers nie. Ek wou huis toe gaan en nóóit weer teruggaan nie.

Skool was vir my moeilik, veral in daardie vroeë jare.

In Graad 1 het ek die etikette van “Disleksies en Leergestremd” ontvang. Hierdie etikette het baie skande teweeggebring in die jare wat gevolg het.

Moses het ook kennis gehad van die angel van skande. In Eksodus 4 het hy vir God gevra om iemand anders vir die taak te kies. As gevolg van sy “swakheid” of “gebrek,” het hy nie genoeg selfvertroue gehad om voor mense te kon praat nie. Sy onwilligheid om God se versoek te gehoorsaam, wys vir ons die greep wat skande op sy lewe gehad het. Vir ons voel dit amper ondenkbaar om vir God te vra om iemand anders vir die taak te kies, en tog is dit presies wat Moses gedoen het.

As gevolg van skande, het Moses nie gedink dat hy enige iets gehad het om te bied nie. Hy het nie vertrou dat God steeds kragtig deur sy swakheid kan werk nie. Die skande wat Moses ervaar het, het veroorsaak dat hy ontoereikend, onbruikbaar, onbevoegd en gebroke gevoel het.

Ek het deur die jare daardie selfde gevoelens ervaar en worstel selfs vandag nog daarmee.

In ons swakheid, is God sterk (2 Korintiërs 12:9-11). Ons sien hoe hierdie waarheid in Moses se lewe uitgebeeld word wanneer hy later kies om nie toe te laat dat sy skande hom daarvan weerhou om God se roeping op sy lewe te gehoorsaam nie. Het dit oornag gebeur? Nee, maar dag vir dag, deur te kies om te vertrou en een dag op ‘n slag vorentoe te stap, het God Moses verander in ‘n ongelooflike leier, ‘n leier wat God later gebruik het om sy mense uit slawerny en na die beloofde land toe te lei.

As jy kyk na baie van die mans en vroue wat God deur die eeue baie kragtig gebruik het, sien jy leiers wat eers oorloë op die oorlogsvelde van skande geveg het.

Skande het ‘n manier om ons te laat voel dat ons ontoereikend, nie genoeg en blootgestel is.

Skande veroorsaak dat jy wil wegkruip, en dat jy nie God se woordvoerder of woordvoerster wil wees nie.

Tog, regdeur die Skrif, veral geïllustreer in Moses se lewe, het God doelgerig daardie mense gekies wat in skande geklee was, en wys Hy weereens sy hart vir dié wat seer het en sy krag om hulle lewens vry te koop.

Wat God deur Moses se lewe gedoen het, kan Hy ook in joune doen.

In Psalm 103 lees ons van God se barmhartige, genadige, lankmoedige en getroue liefde vir sy kinders, geopenbaar deur Moses se lewe. God kon ‘n leier gekies het wat minder gebroke was. maar Hy het nie. Dit vertel vir ons baie van God se hart vir mense wat seer het.

Ek weet nie wat die oorsaak van die skande in jou lewe is nie, maar ek wil hê dat jy moet weet: ten spyte van die leuens wat jy hoor, God kan en wil jou kragtig gebruik. Die volgende keer wat jy die swaarheid van skande oor jou voel kom, dink aan Moses en hoe God kragtig deur sy lewe gewerk het. Jy moet altyd onthou: jy is nooit té gebroke vir God om te gebruik of vry te koop nie.

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse