Die Krag Van God Se Woorde
Deur Angela | Augustus 12, 2019 – Woorde Maak Saak
God se woorde is kragtig! Ons ken hierdie waarheid, nê? Maar verstaan ons werklik hoe kragtig dit is? Ek dink as ons dit werklik besef, sal ons meer waarde heg daaraan om tyd in sy Woord deur te bring en sy woorde in ons harte te koester. Wanneer ons stilstaan en die ware krag van God se woorde oordink, hoe kan ons aan Hom twyfel? Hoe kan ons nie sy beloftes glo nie?
Die Bybel vertel ons dat God die wêreld geskape het deur te spreek. SPREEK. Uit al die verskillende maniere hoe God die hemel en die aarde kon geskape het, het Hy gekies om dit met woorde te doen. God het dít wat niks was geneem en lewe daarin gespreek en uit daardie kragtige woorde is lig uit die duisternis voortgebring.
“Toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig.” Genesis 1:3
Ons lees herhaaldelik in Genesis 1, “Toe het God gesê…” en deur sy woorde het Hy sterre en sterrestelsels, diere en mense geskape. Sy woorde het grense tussen water en land geskep en asemrowende skoonheid en wonder uit leë niksheid geskep. Hy het gespreek en alles wat Hy geskape het en gesê het was goed.
Uit Genesis 1 leer ons dat God se Woorde kragtig is en dat hulle saakmaak. Is dit nie ongelooflik hoe dieselfde God wat ‘n heelal kan skape, ook gekies het om direk met ons te praat nie?!!!
En weet jy wat? God se woorde is nie net kragtig nie, maar dit is ook belangrik. So belangrik, dat dit nooit sal vergaan nie.
“Die hemel en aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.” – Matteus 24:35
God se woorde is permanent; hulle is vir ewig; hulle sal die toets van die tyd deurstaan.
“Die Skrif sê: Die mens is soos gras, en al sy prag soos ‘n veldblom; die gras verdor en die blom val af, maar die woord van die Here, dit bly vir ewig.” – 1 Petrus 1:24-25
Die enigste dinge wat vir ewig sal duur is God se Woorde en die ewige lewe met Hom. In ‘n tyd waar die heiligheid van God se Woord al hoe meer misken word, moet ons die Bybel terugbring na sy regmatige plek in ons lewens. Om ander te help, boorgate te grawe, die armes kos te gee, siekes te versorg… dit is alles goeie werke wat God kragtig gebruik om sy mense te openbaar, te herstel en te verlos, maar dit is nie ‘n plaasvervanger of op enige manier meer belangrik as dat mense tyd met God se Woord moet deurbring nie. Dit is deur die krag van God se Woord wat lewens verander word, nie deur ons liefdadigheidswerk nie.
Soos ons met hierdie kragtige studie begin, moet ons eers die krag van die woorde wat ons gaan lees besef en verstaan Wie agter daardie woorde is. Ons verse van vandag illustreer nie net die belangrikheid wat God geplaas het op sy woorde nie, maar ook die krag daarin.
God se woorde is ‘n geskenk… en hulle maak saak.
Hoe het Jesus teruggeveg toe Hy in die woestyn was en Satan Hom probeer verlei het? (Matteus 4:1-11) Nie met bonatuurlike krag nie, maar deur die krag van God se Woord. Ons moet dieselfde doen.
God se woorde is belangrik, hulle is kragtig en ja, hulle maak saak.
Kom ons gesels: Hoe het God se Woord jou lewe beïnvloed?
Hê God Groots Lief,
Week 1 Uitdaging: Woorde is kragtig. Wees hierdie week doelgerig met die woorde wat jy spreek. Maak ‘n punt daarvan om elke dag woorde te spreek wat die persoon wat dit ontvang, positief sal beïnvloed.
Week 1 Leesplan
Week 1 Memoriseervers