Die Hart van God

Deur Terria Moore | September 28, 2018 | Jona – Liefde Sonder Vooroordeel

Op ‘n koue wintersmiddag ontvang ek dié brief.

Dit was toe mense nog briewe met die hand geskryf het. Daar was geen terugkeer adres nie – geen aanduiding van wie dit geskryf het nie. Ek het my oë vinnig oor die bladsy laat gly totdat dié woorde van die bladsy af gespring het, “God het my vergewe en ek bid dat jy ook sal.” My hart het gaan staan. Ek het dadelik besef van wie die brief is en waaroor dit gaan.

Ek was boos. Ek kon dit nie glo nie. Hoe durf hy!

Hoe het hy verwag dat ‘n karige ou briefie, jare se seer, pyn en mishandeling net eenvoudig sou laat verdwyn? Ek het gou besef dat my woede nie net op hom gerig was nie.

Ek het myself teenoor God uitgewoed. Hoe kon U, Here?!? Hoe kon U die man wat my geskend het, vergewe? Hoe kon U hierdie man my ‘broer’ in Christus maak? Ek haat hom, Here, dus moet U hom ook haat!

Ek het siek gevoel. Ek het vir dae aaneen woedende trane gestort. Ek het gekla. Ek het dikmond rondgeloop. Ek het ver van die kerk af weg gehardloop. Die woorde van die Bybel het hol en leeg vir my geklink.

Ek was Jona.

‘God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.’ – Joh 3:17

Die ironie is, ek het die vergifnis van my sonde gesien as bewys van God se genadige liefde vir my, maar tog het ek hierdie man se sonde beskou as regverdiging vir God se toorn teenoor hom. Ek wou ‘n God na my eie beeld hê – Een wat my maklik vergewe vir enigiets, maar tog my vyande ernstig straf vir alles. Dit is egter nie die God van die Bybel nie.

God se hart vir alle mense – vir alle sondaars – is dit, dat nie een mens die ewigheid sou ingaan deur van Hom geskei en in die hel te wees nie. God is lief vir ons en begeer om deur die verlossing van sy Seun Jesus diep met elkeen van ons verbind te wees. God stort sy onbeperkte genade en deernis oor ons uit. Dis sy begeerte dat niemand moet vergaan nie. Van die oomblik af wat iemand Jesus in sy of haar lewe toelaat ontvang hulle nie net sy vergifnis nie, maar ook sy volmaakte geregtigheid. Jesus maak ons saak reg met God, alles op een slag en vir ewig. Dit is die Evangelie.

‘Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie,’ –Psalm 103: 8-10

Hy behandel ons nie volgens wat ons sondes verdien nie, hy betaal ons ook nie terug volgens ons ongeregtighede nie.

Ek skaam my om te erken dat ek in my hoogmoedige woede en bitterheid besluit het dat ‘n persoon nie God se vergifnis en genade waardig was nie. My woede het die waarheid van God se Woord vertroebel.

Ek het gesukkel om die lig van die Evangelie van Jesus te sien.

Wanneer Jesus, ons Goeie Herder, die nege-en-negentig skape los om die een verlore skapie te gaan soek, lyk dit dwaas en roekeloos … tensy daardie een verlore skapie jy is. Jesus se passievolle strewe na sondaars definieer wie Hy is. Daardie selfde passie moet dan ook God se kinders definieer.

Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is. – Lukas 19:10

Selfs in my pyn-besaaide ongehoorsaamheid het die Heilige Gees meedoënloos na my gestreef. Sy oorweldigende liefde het my laat terugkeer na Hom. Die sleutel tot ware vergifnis in my lewe was om nederig te oordink presies hoe baie God my vergewe het.

Om my te weerhou om op my vyande neer te sien, kyk ek op na die Kruis.

Wanneer ek myself as verhewe bo ander beskou, onthou ek dat my werklike posisie in God uitsluitlik gebaseer is op Jesus en wat Hy het gedoen, nie enigiets wat ek self gedoen het nie.

Wanneer ek nabetraging doen oor Jesus se pynlike offer aan die Kruis, onthou ek dat sy offer nie net vir my was nie, maar vir almal, insluitend diegene wat teen my sondig.

As ek aan die Evangelie dink, onthou ek dat die grond gelyk is aan die voet van die Kruis.

Nie een van ons is God se onfeilbare liefde waardig nie, tog bied Hy dit vrylik aan ons almal.

‘want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.’ – Psalm 103: 11-12

Die dag sal kom wanneer Jesus terugkom, en Hy sal diegene oordeel wat Hom verwerp het. Maar daardie dag het nog nie gekom nie, so tot dan moet ons in die liefde volhard … en met volharding lief wees!

Ware Christelike liefde kom nie maklik nie. Dit is ‘n offer wat die wêreld nooit sal verstaan ​​nie. As om lief te hê en ander te vergewe ons nooit iets kos nie, sal ons nooit die opofferende liefde wat Jesus vir ons het, waardeer nie. Hoe meer ons van Jesus het, hoe meer sal ons liefhê soos Jesus.

Liefde is nie eenvoudig dit wat God doen nie. Liefde is wie God is. Liefde bied Homself opofferend en voor die voet sonder om te diskrimineer, sonder om te huiwer en sonder om te oordeel.

Jesus het sy Vader en sy volk liefgehad tot die dood toe.

Daar is niks wat Jesus nie in die naam van liefde sou opoffer nie.

Daar is geen plek waar Jesus nie sou gaan nie.

Daar is niemand met wie Jesus onwillig is om mee geassosieer te word nie.

Daar is geen beperking op die uiterstes wat Jesus sal gaan om verlorenes te bereik nie.

Jesus het gekom om te red!

Kom ons gesels:

  • In watter situasie of omstandighede het jy ‘n hart nodig wat liefhet soos wat God liefhet?
  • Hoe kan ons vir jou bid terwyl jy strewe daarna om die Evangelie van genade uit te leef?

Vrede en genade vir jou,

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse