
Die God van hoop
Ebos Aifoubhokhan

Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees. – Romeine 15:13
Een van die mees wonderlike en aangrypende aspekte van ons verhouding met God is hoe Hy op sy genadige manier en absolute soewereiniteit, sy Woord aan ons bring net wanneer ons dit nodig het. Ek het onlangs vrees en twyfel oor ‘n situasie ervaar en nadat ek vandag se Skrif gelees het, moes ek skielik gaan sit en hierdie blog skryf. Geliefde, hierdie woorde wat hier neergepen is, is nie net vir jou nie, maar soveel meer vir my.
Kom ons kyk saam na die eerste deel van die sin.
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul.
Hoop is ‘n gevoel van verwagting en begeerte dat ‘n spesifieke ding moet gebeur.
Ons harte en lewens is gevul met vreugde en vrede wanneer ons God glo vir ons hoop. Twyfel het geen plek in hoop nie. Eintlik maak dit hoop dood. Wanneer ek en jy egter glo dat God in staat is om oneindig meer te doen, ver bo alles wat ons ooit kan dink, ons kan voorstel of selfs voor kan hoop, word ons harte gevul met vreugde – en daarmee saam kom groot vrede. God is ‘n God van Hoop. Sy gedagtes aangaande sy kinders is van voorspoed en nie teenspoed nie, om ons ‘n verwagting te gee. Sy planne is nie van mislukking, hopeloosheid of vernietiging nie. Nee! Moenie dat jou hoop sterf nie.
HY IS DIE GOD VAN HOOP!
Al wat ons hoef te doen is om te glo! Waar twyfel jy, geliefde? O, ek het my eie twyfel, maar elke keer wanneer daardie twyfel opduik, vul die Heilige Gees my hart met soveel hoop, vreugde, vrede en sekerheid van wat net God kan doen. God wil hê dat ons oorvloedig moet wees in hoop. Hy wil hê ons moet Hom glo. Hy is nie bly dat die lewe jou laat twyfel het aan Hom en wat Hy kan doen nie. Jou hoop en my hoop, is in Christus. Ons moet net glo.
Hoe meer ons glo, hoe meer word ons gevul met vreugde en vrede.
Ja ek weet dat daar oomblikke is wanneer die harde werklikheid van waardeur ons gaan die wind uit ons slaan. Die dinge wat vandag in ons wêreld gebeur, is meer as genoeg om die hoop van die dapperste siele te verlam. Ek het goeie nuus vir jou! Ons God is meer werklik as ons werklikheid. Die Skrif sê vir ons dat die verwagtinge van die regverdiges nie kortgeknip sal word nie. Die God van hoop sal nie toelaat dat ons hoop verminder word nie.
So, wat moet ons intussen doen? Wat moet ons reaksie wees terwyl ons hoop en wag vir die vervullig van ons hoop?
GLO IN HOM!
GLO IN HOM!!
GLO IN HOM!!!
Jou hoop is in Christus. Jou hoop is in die voltooide werk van Christus aan die kruis.
Laat ek afsluit met hierdie vers
“Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?” Romeine 8:32
Geliefde, ek bid vir jou soos ek vir myself bid: dat die Heilige Gees ons harte sal vul met vreugde en vrede soos ons God vandag en altyd glo. Mag ons hoop nie kortgeknip word nie.
In Jesus se Naam, amen.
