Die Geheim Tot Sukses

Die Geheim Tot Sukses

Deur Angela | Junie 17, 2019 | Josua – Wandel In Oorwinning

Met Moses se afsterwe het Josua ‘n groot paar skoene gehad om vol te staan. Die groot verantwoordelikheid om die Israeliete die Beloofde Land in te lei, was genoeg om enigiemand snags wakker te hou. Hoewel die nasie volgens die meeste standaarde as klein beskou is, het Josua hom nou in ‘n situasie bevind waar hy TWEE miljoen mense in ‘n onbekende gebied moes inlei.

Ons kan baie leer uit hierdie opwindende ware verhaal wat in die boek Josua gevind word.

Hoewel ons nie twee miljoen mense hoef te lei nie, bevind baie van ons onsself in ‘n situasie waar ons geroep is om die voortou te neem in gebiede waar ons sterk en moedig behoort te wees, terwyl ons alles behalwe moedig voel.

  • Dalk is jy vir die eerste keer ‘n mamma, en jy voel nie goed toegerus om die baba in jou arms te versorg nie.
  • Dalk is jy die verantwoordelikheid opgelê om ‘n span by jou nuwe werk te lei, en jy weet nie waar om te begin nie.
  • Dalk is jy ‘n enkel ouer wat nou jou gesin die onbekende toekoms in moet lei.
  • Dalk het jy bitter slegte nuus gekry, en jy weet nie eers hoe om vorentoe te beweeg nie.

Ek vind dit interessant dat die heel eerste ding wat God vir Josua sê, nadat hy aangekondig het dat Moses dood is, is om “te begin beweeg.”

“Na die dood van Moses, die dienaar van die Here, het die Here vir Josua, seun van Nun en assistent van Moses, gesê: “Moses my dienaar is dood. Maak jy nou gereed en trek deur die Jordaanrivier, jy en hierdie hele volk. Gaan na die land toe wat Ek aan hulle, die Israeliete, gee.” – Josua 1:1-2

God kom tot die punt. “Moses is dood; Ek het jou nou in beheer gestel … kry jou mense aan die beweeg.”

Net soos Josua het God ‘n missie en ‘n doel vir elkeen van ons, en Hy is ook gereed om ons in beweging te bring!

So baie van ons, myself ingesluit, spandeer te veel tyd in die woestyn van ongeloof en vrees. Ons neem God nie op sy Woord nie en ons glo nie die belofte dat Hy altyd met ons is nie.

Ons staan gevries in wildernisse van skaamte, spyt en onvergewensgesindheid, en maak nie saak hoe hard ons probeer nie, ons kan nie vorentoe beweeg nie.

Wat ek van vandag se skrifgedeeltes hou, is God se voortdurende herinnering dat:

  1. Hy altyd by ons is.
  2. Ons kan kies om dapper en moedig te wees

Ek weet dis moeilik om die bekende agter te laat – selfs al is dit sleg vir ons – vir die nuwe onbekende land. Ek verstaan regtig. Ek was ook al daar.

Maar ons moet.

Ons moet die ou dinge agterlaat en die nuwe gebiede, nuwe geleenthede … en die nuwe land waarheen God ons roep om na te reis, omhels.

Ons moet geloof bo vrees kies – gehoorsaamheid bo selfvoldoening.

Die nuwe gebiede, nuwe lande, nuwe horisonne waarheen God elkeen van ons roep beteken dat ons sy weë moet kies oor ons eie. Sy aanwysings oor ons eie. Dit sal moed verg om God te vertrou, en dit sal van ons vereis om dapper te wees wanneer ons wil wegkruip.

En in daardie oomblikke, wanneer ons harte swak voel, en die vrees begin styg in ons … dis wanneer ons God se belofte moet onthou … Hy is altyd by ons.

ALTYD.

Waar ookal God ons heen roep om te gaan, moet nooit vergeet dat Hy jou ook sal lei nie … as jy Hom toelaat.

So, wat het Josua gedoen om God se leiding te volg? Wat was sy geheim tot sukses terwyl hy moedig sy twee miljoen plus mense in die Beloofde Land ingelei het?

Ons vind die geheim in vers 8 van Josua 1.

“Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.” Josua 1:8

Die geheim is om God se Woord te ken en dit te doen! Om in sy Woord te wandel, en toe te laat dat dit ons gedagtes vul en dan doen wat die Bybel sê, is Josua se geheim tot sukses!

  • Om te kies om dapper te wees ten spyte van wat ons met ons oë sien.
  • Om te kies om moedig te wees, selfs wanneer ons onsself in die minderheid bevind.
  • Om te kies om lief te hê soos Hy liefhet.
  • Om te kies om te dien soos Hy gedien het.
  • Om te kies om belangrik te ag wat Hy belangrik ag.
  • En om God se Woord toe te laat om alle areas van ons lewens te beïnvloed. Laat toe dat sy Woord jou gids wees.

Dit is hoe werklike sukses lyk in God se oë.

Nou is die tyd vir ons om op te staan. Ons moet die kerk wees wat God ons roep om te wees. Ons moet sterk wees, ons moet moedig wees, en ons moet bereid wees om in die duisternis in te gaan. Ons is immers ligte wat helder moet skyn vir ons Here. Ons is nie bedoel om onder ‘n emmer weggesteek te word nie, maar op “heuwels” in ons woonbuurte, skole, werkplekke, regering en ja, selfs kerke.

Ons moet ligdraers wees in ‘n wêreld wat in desperate nood is – hulle het nodig om Jesus in ons te sien.

Ons moet vroue wees wat God se Woord na die eindes van die aarde en ook in ons straat af sal neem.

Soos Josua, wanneer ons moedig lewe en dapper God se Woord uitleef in ons lewens en dit toelaat om alle aspekte van ons lewens te beïnvloed, dis wanneer ons werklike sukses sal beleef, nie wêreldse sukses nie.

Nou is die tyd, liewe vriendin, om vorentoe te beweeg in die nuwe gebied in wat God vir ons voorberei het. Mag ons God se Woord naby ons harte hou en dit dag en nag oordink, nie aan die druk van ons samelewings toegee nie, maar dapper en moedig alles doen wat daarin geskryf staan.

Een tree op ‘n keer met God wat die weg lei … kom ons begin!

Hê God Groots Lief!

 

Uitdaging: Hoe kan jy dapper en moedig wees, ‘n ligdraer in jou wêreld? Watter stappe moet jy vandag neem?

Week 1 – Leesplan

WwEww

Week 1 – Memoriseervers

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse