Die Dinge Van Die Aarde En ’N Sekuriteit Wat Nooit Vervaag Nie

deur WhitneyD | Januarie 24, 2018

“’n Gelowige wat arm is, moet hom daarin verheug dat hy sy aansien in God het, en een wat ryk is, dat hy voor God gering is, want die ryke sal vergaan soos ‘n veldblom. As die son met sy gloeiende hitte opkom, verskroei dit die plantegroei, die blomme val af en die prag is daarmee heen. So sal die ryke ook tussen al sy bedrywighede deur vergaan.” – Jakobus 1:9-11 

Haar man het onverwags sy werk verloor en sy het na my toe uitgereik en vir gebed gevra.

“Liewe vriendin, ek weet hoe jy voel…”, het ek begin tik, terwyl die herinneringe in my gedagtes opgewel het.

Net ‘n paar jaar vroeër kon haar woorde myne gewees het. Wat veronderstel was om ‘n vreugdevolle tyd in ons lewens te wees, soos ons voorberei het op die koms van ons eerste baba, het verander in ‘n tyd van hartseer en onsekerheid, omdat ons skielik ‘n onseker toekoms in die gesig gestaar het.

Ek het geweet dat iets verkeerd was die oomblik toe hy, heeltemal té vroeg, voor die einde van die werksdag, by die deur ingekom het. Ons baba sou oor twee weke gebore word, en ek het net die week vantevore, met groot vreugde en opgewondenheid om ‘n nuwe ma te word, bedank uit my voltydse werk. Waar sou ons leef? Hoe sal ons ons rekeninge betaal? Onderwerpe soos ons mediese fonds en doeke het bronne van spanning geword, in plaas van seëninge.

“Maar God,” het ek gebid.“Ek hou van hierdie dorp. Hierdie vriende. Hierdie kerk. Hierdie nederige klein huisie wat ons ons eie gemaak het, met hierdie babakamer wat ons sopas voltooi het…”

God, moet my asseblief nie van hierdie plek af wegneem nie. 

En daarmee het ek bely waar my sekuriteit is – in die bekendheid van landmerke en sitkamers; en die oorvloed van besittings en stewige bankrekeninge – in plaas van in die ongeëwenaarde God wat reg van die begin af my toekoms in Sy hande vasgehou het. 

In ons jong huwelik het daardie werksverlies in die begin verpletterend gevoel. Uit God se perspektief – en uiteindelik ons s’n – was dit ‘n waardevolle tyd van loutering en groei; iets wat ons nie sou teruggaan en verander nie, selfs al kon ons dit doen. Ons het geleer om te evalueer wat ons ware behoeftes was, en waarsonder ons kon klaarkom. Ons het gegroei om minder beïndruk met onsself te wees en meer beïndruk te wees met Jesus en ons groot behoefte aan Hom. Ons het sondige afgode in ons lewens geïdentifiseer en dit pynlik oorgegee. God het mure van vals sekuriteit afgebreek. Ons dankbaarheid vir eenvoudige dinge, vir die wonderwerk van nuwe lewe, en vir mekaar het gegroei en ons gevul met vreugde, selfs te midde van onsekere dae. Ek het so styf aan Jesus vasgeklou gedurende daardie tyd, dat ek myself dikwels gevind bid het…

God, moet my asseblief nie van hierdie plek af wegneem nie. 

Moet my nie van hierdie onstabiele wêreldse plek, wat sulke soete, stabiele eenheid met U voorsien, wegneem nie.

Die goed van hierdie aarde sal nooit tevrede stel nie, en dit sal alles uiteindelik vervaag. Maar as gevolg van Jesus, is daar soveel meer aan hierdie lewe as wat ons kan sien. Deur elke beproewing en elke noodsaaklike oorgawe, skryf God ons verhale en Hy wil hê dat ons niks kortkom nie (Jakobus 1:4) in Sy proses om ons meer soos Hom te maak. Hoekom sal ek ooit waag om te dink dat my planne of enige wêreldse voorsiening beter as dit kan wees?

Wat van jou, vriendin? Moenie die werk wat God in jou wil doen ignoreer nie. Moenie nog ‘n dag mors om die dinge van hierdie wêreld na te jaag asof hulle jou sal maak of breek nie. Rus in die hoop en sekuriteit wat net Jesus kan gee. Aanvaar voluit waar Hy jou geplaas het. Wandel nederig. Vertrou Hom ten volle. Leef dankbaar. En wees verheug omdat jy weet dat jy ‘n bietjie meer soos Jesus sal lyk aan die ander kant.

O Jesus, as ek roem, laat my roem in U…

By Sy voete,

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Kom ons praat: Lê jou sekuriteit in die hemel of in die goed van hierdie aarde? Is daar ‘n materialistiese afgod in jou hart wat jy moet oorgee? 

____________________________________________

Word ’n Fasiliteerder

Dit is LGG se visie om kleiner groepe te hê, elk met hulle eie fasiliteerder, sodat die vrouens ‘n nouer gemeenskap kan vorm wat saam uit die Bybel leer en mekaar ondersteun, eerder as om net een groot groep met honderde lede te hê. Sal jy dit oorweeg om ‘n fasiliteerder van ‘n LGG groep te word? ‘n Fasiliteerder kan weekliks ontmoet met haar LGG Bybelstudiegroep in haar huis of by die kerk, of sy kan ‘n private groep hê op Facebook, WhatsApp, of met e-mail, waar sy dan daagliks tydens die LGG studies die versies en haar SOAP deel met haar groep. Daar is baie hulpbronne en ondersteuning beskikbaar vir fasiliteerders.

Sal jy dit biddend oorweeg om deel te word van hierdie ongelooflike bediening wat God vir ons gegee het, deur ons te help?

Indien julle belangstel, stuur asseblief vir ons ’n epos by [email protected]

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse