Die Brood van die Lewe

Die Brood van die Lewe

Deur Melissa / 4 Desember 2019 / Saligsprekinge

Toe Jesus beweer dat Hy die brood van die lewe is, was sy toehoorders geskok. Baie dissipels het Hom verlaat na dié aanspraak. As ons die belangrikheid van Jesus se woorde wil verstaan toe Hy gesê het, “Ek is die brood van die lewe,” moet ons ‘n bietjie dieper kyk na die gebeure wat in Johannes 6 opgeteken is.

Die Johannes-evangelie vermeld sewe “Ek is”-uitsprake van Jesus. Elk van hierdie uitsprake dui daarop dat Hy die beloofde Messias, die Seun van God, is. “Ek is die brood van die lewe” is die eerste van hierdie Messiaanse aansprake.

Voor hierdie verklaring het Jesus verskeie wonderwerke gedoen en groot getalle mense het Hom begin volg. Ongeveer die tyd van die Paasfees was Jesus besig om ‘n groot skare te leer. Toe dit begin aand word, het sy dissipels voorgestel dat die mense weggestuur moes word om te gaan kos soek. In plaas daarvan het Jesus vyf broodjies en twee vissies in ‘n maaltyd vir meer as vyfduisend mense verander.

Die volgende oggend het die skare hul bes probeer om Jesus weer op te spoor. En toe hulle Hom uiteindelik vind, het Hy vir hulle gesê dat hulle Hom nie kom soek het omdat hulle die wonderteken wat Hy gedoen het, gesien en begryp het nie, maar omdat hulle op soek was na gratis kos. Hy het toe vir hulle verduidelik dat wat hulle regtig nodig gehad het, nie nog ‘n maaltyd was nie maar voedsel wat vir hulle die ewige lewe sou bring. Die mense het gedink dat Jesus fisiese kos aanbied wat nooit sou bederf nie.

Hulle wou van Jesus weet of Hy vir hulle brood sou gee om te eet soos Moses vir die Israeliete manna in die woestyn gegee het. Jesus het verduidelik dat Hy die brood van die lewe is, die voorsiening wat hulle soek, en dat hulle deur geloof in Hom, die ewige lewe sou hê. Die skare – wat nou blyk uit Jode te bestaan wat Hom teengestaan het – was steeds verward en het gewonder hoe Hy sulke aansprake kon maak

Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ‘n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.” (Johannes 6:47-51)

Terwyl die Jode vir die Paasfees gereed gemaak het, het Jesus die beelde reg voor hulle gebruik om sy goddelikheid te openbaar.   Terwyl hulle gereed gemaak het om te onthou hoe God in die verlede vir hulle voorvaders voorsien het, Het Jesus hul voorsiening vir die toekoms vir hulle gewys: Hyself.

Toe die Israeliete in die woestyn geswerf het, het hulle niks gehad om te eet nie. En toe het God in sy groot genade manna voorsien. Hy het nie vir hulle ‘n oorvloed manna gegee nie; Hy het net genoeg voorsien om deur elke dag te kom. Jesus het verduidelik dat Hy hulle lewensvoorsiening was, die ware en beter manna.

Terwyl ons hierdie week ‘n studie maak van wat dit beteken om te honger en dors na wat reg is, kan ons na Jesus kyk. Jesus is die beliggaming van geregtigheid; net Hy was regverdig voor God.  Ons honger na geregtigheid, is eintlik ‘n honger na Hom. Hy is die brood van die lewe. Alleenlik wanneer ons werklik in sy teenwoordigheid stil raak en glo dat Hy alles is wat ons nodig het, kan ons rus vind.  Ons kan elke dag op Hom vertrou en glo dat net Hy alles is wat ons nodig het.

As ons honger en dors na wat reg is, honger en dors ons na Jesus – die brood van die lewe. As ons Hom in gebed soek, word ons gevoed. Deur sy Woord te lees, vind ons gemoedsrus.  Hy is ons daaglikse voorsiening en Hy belowe om in al ons behoeftes te voorsien.

Een van my vriende het eenkeer gesê: “Ek hou nie daarvan om te wag vir God om elke dag manna te voorsien nie. Ek hou daarvan om myne in die vrieskas te hou.”  Net so hou ek daarvan om nog ‘n klomp genade oor te hê om deur die dag, die week of die maand te kom.  Dit belemmer egter my geloofsgroei en dit laat ook nie ruimte vir God om my verwagtinge te oortref nie.

Hy is die brood van die lewe. As ons aan Hom smul, kom ons niks kort nie. Kom ons soek saam na sy geregtigheid. As ons na Hom draai, vind ons harte vrede en kry ons rus. Wanneer ons glo dat Hy alles is wat ons nodig het, kan ons die voorsiening wat hy vir ons aanbied, aanvaar: Hyself. Hy is genoeg. Hy is al wat ons nodig het. Hoe beter ons Hom ken, hoe meer sal ons honger en dors na meer van Hom.

Melissa

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse