Deur Jen Thorn | Oktober 1, 2018 | Jonah – Liefde Sonder Vooroordeel
In die meeste van die profetiese boeke in die Bybel is die fokuspunt die boodskap van die profeet. Maar in die boek Jona is die fokus nie so seer op die boodskap nie, eerder op die profeet. Jona self is die boodskap.
Sy optrede herinner ons daaraan dat die mens nie soos God is nie. Jona is ‘n tipiese voorbeeld van bevoorregte skynheiligheid en genadelose trots. In die lees van hierdie boek sien ons onsself in die profeet. Ons is almal soos Jona. Almal is sondaars, ongeag waarvoor God hulle roep. Jona was ‘n profeet, en tog het hy dieselfde genade nodig gehad as die Nineviete. Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, (Romeine 3:10)
In hierdie verse sien ons die slegste kant van Jona. ‘n Hele stad toon berou. Dit is ‘n groot herlewing, en Jona is ontsteld daaroor. Hy wou hê dat die mense van Ninevé moes kry wat hulle verdien, in plaas van die goedheid en genade van God.
Dit is duidelik dat Jona die begrip ‘genade’ nie goed verstaan het nie. Hy het nie verstaan dat hy dieselfde oordeel verdien as die Nineviete nie. Dat hy net so ‘n erge sondaar was as die mense wat hy so onwillig tot bekering geroep het. As hy waarlik die begrip ‘genade’ verstaan het, sou hy nie so ‘n houding van meerderwaardigheid gehad het nie. Hy sou verheug, eerder as gefrustreerd, God se gratis geskenk aan almal wat hulle sou bekeer, gevier het.
As Jona die boodskap is, moet ons onsself afvra wat ons hieruit moet leer. Wat leer God ons deur die lewe van Jona?
Die boodskap van Jona se lewe kan ‘n waarskuwing wees.
Vind jy jouself besig om neer te kyk op ander sondaars? Dink jy dat jy is nie so sleg is soos die persoon in die tronk nie? Hoewel die gevolge van ons sondes hier op aarde mag verskil, het elkeen van hierdie sondes, groot of klein, die dood van Jesus aan die Kruis vereis. Ons is nie beter as enigiemand anders nie. Ons is eenvoudig sondaars gered deur die genade van ‘n groot God.
Die boodskap van Jona kan een van aanmoediging wees
Jona het nie verstaan waarom God gedoen het wat Hy gedoen het nie. Eerlikwaar, hy het van God verskil. Maar God se weë is nie ons weë nie, hulle is beter – selfs wanneer ons dit nie verstaan nie. Eendag sal ons party van hierdie mense van Ninevé ontmoet. Hulle sal onder dié wees wat God in die hemel prys. Jona het nie verstaan waarom God hom na hierdie goddelose mense gestuur het nie, en dit is in orde. God doen nie aan ons verantwoording nie. Maar Hy is goed en billik, vriendelik en regverdig. Op die ou einde sal alles sin maak en mooi wees.
Moenie toelaat dat God se geheimsinnige maniere jou kwaad maak of laat glo dat jou plan beter is as God s’n nie. Hy is God, nie ons nie. Verheug jou in die feit dat alles wat God doen, goed en reg is.
Kyk na Jesus,
WEEK 4 Uitdaging: Jona het regtig gesukkel met God se plan. Dit het in hom frustrasie, woede en ongehoorsaamheid veroorsaak omdat hy nie die genade van God goed begryp het nie. Dink aan of skryf maniere neer waarop jy sukkel met God se plan. Dink aan die goedheid en genade van God, vind dalk sommige verse oor hierdie aspekte van sy karakter en skryf neer hoe hierdie waarhede jou kan help om God se plan te aanvaar.