Daar Is Nie So Ding Soos Geluk Nie
deur Angela | Augustus 24, 2018.
Ek het nog altyd geglo in “geluk” – dat gebeure en geleenthede in my lewe per toeval gebeur en dat sommige mense net meer “gelukkig” is as ander. Op universiteit het een van my kamermaats my eendag uitgedaag en gesê, “Angela, dit is nie toevallige geluk nie. Dit is God.”
En weet jy wat?! Sy was reg.
Ek sien dieselfde gesprek in ons verse hierdie week. Dit was nie geluk wat Rut na Boas se veld toe gebring het nie. Dit was nie geluk dat hy na sy veld toe gekom het toe hy teruggekom het van Betlehem af op dieselfde tyd as toe Rut daar was nie. En dit was verseker nie geluk dat Boas familie van Elimelek was, en daarom ‘n nabye familielid van Naomi was nie.
Dit was nie geluk nie. Dit was God.
Dit was nie totdat ek op universiteit was dat ek geleer het van God se voorsieningswerk nie – hoe Hy voor ons uitgaan om gebeure in ons lewens te orkestreer; gebeure wat ons baie kere nie verstaan tot jare later nie… somtyds nie totdat ons hemel toe gaan nie.
Deur die hele boek van Rut sien ons God se liefdevolle hand van voorsiening deur al die besonderhede, gebeure en geleenthede, ten spyte van ongehoorsaamheid, foute en sonde. Wat ek hou van die boek van Rut is hoe God, deur sy ongelooflike liefde voor Rut, Naomi en Boas uitgegaan het. Hy het ‘n pragtige verhaal van verlossing vertel wat Sy hart vir al Sy kinders weerspieël; kinders wat eers soos Rut was – mense sonder hoop en sonder ‘n verlosser.
Miskien het jy jou eie weerkaatsing gesien in die bladsye van Rut hierdie laaste twee weke. Indien dit so is, is jy in goeie geselskap, liewe vriendin. Maak nie saak wat in jou verlede gebeur het nie, God is magtig genoeg om dit te verlos.
Alhoewel Elimelek en Naomi nie na Moab toe moes getrek het nie, het God in Sy genade vir Naomi haar skoondogter gegee. Deur Naomi het Rut van haar verlede, haar gode, haar kultuur weggedraai en getrou gebly aan Naomi en Naomi se God. Wanneer Naomi en Rut kos benodig om in Betlehem te oorleef, voorsien God ‘n losser… Boas. Met elke draai en elke krisis, sien ons God se voorsienendheid – nie geluk nie – vir Naomi en Rut voorsien en versorg.
Wat God gedoen het vir Rut en Naomi, doen Hy vir ons ook.
Jy mag dalk na jou lewe kyk en wonder wat in die wêreld God besig is om te doen. Of jy mag na God toe uitroep, Hom smeek om jou foute te verlos, jou reise na vreemde lande, geleenthede wat jy gemis het. Indien dit so is, weet dat jy nie alleen is nie. Soos ‘n verlore seun, draai terug na God toe. Wanneer jy dit doen, sal jy sien dat Hy met ope arms na jou toe hardloop.
Wanneer ons kyk na Rut se lewe en hoe God gewerk het, sien ons dat gewone take, soos om na haar skoonma om te sien of om te werk in ‘n veld wesenlike resultate gehad het…maar ek wil myself nie vooruitloop nie. Laat ek vandag met dít eindig: God is in jou lewe aan die werk net soos wat Hy in Rut s’n was. God doen meer as wat sigbaar is. Daar is geen toevallige ontmoetings, geen gelukkige geleenthede nie. Dit is God, jou losser, wat in jou lewe aan die werk is. Dit beteken nie dat die pad voor jou maklik gaan wees nie. Dit beteken nie dat daar nie konstruksie gaan wees nie, of ‘n vertraging of moontlike ompaaie nie. Wat dit wel beteken is dat God jou lewe orkestreer vir ‘n groter doel.
“In elke verlies wat die goddelike mens deurgaan, is God reeds besig om hulle wins te ontwerp.” – John Piper
Kom ons Praat: Wanneer jy terugkyk na jou lewe, hoe het God dit vir ‘n groter doel georkestreer?
Hê God Groots Lief,