Al Jou Woorde Maak Saak
Deur Angela | Augustus 21, 2019 | Woorde Maak Saak
Jou woorde maak saak. Die woorde wat jy vir jouself en ander sê maak almal saak.
As jy soos ek is, bêre jy jou mees ongevoelige woorde vir jouself. Die woorde wat met gif belaai is, wat niemand anders kan hoor nie. Hulle herhaal oor en oor in die begrensde binnemure van jou gedagtes. Jy dink dat dit nie saakmaak nie, omdat niemand anders dit kan hoor nie. Dit is net jou “gedagtes,” watter skade kan dit werklik doen? Maar, met die verloop van tyd word skade berokken en wat eers ‘n onsigbare wond was, word sigbaar — jou selfvertroue kwyn. Jou angs versleg. Jy begin om tevrede te wees met minder as jou beste.
Ons moet ophou met hierdie negatiewe selfspraak. Wees jouself goedgesind. Begin om jou gedagtes gevange te neem (2 Korintiërs 10:5) en as jy dit nie vir jou beste vriend sal sê nie, moet dit definitief nie vir jouself sê nie.
Jesus vertel ons in Matteus 22:39 om ons naaste lief te hê soos onsself. Dink terug aan die woorde wat jy hierdie week vir jouself gesê het. Was dit liefdevolle woorde? Was hulle vol van genade en bemoedigend? Of was dit woorde van aantyging, bespotting en skaamte? As ons ons naaste soos onsself moet liefhê, moet ons onsself eerste liefhê. ‘n Goeie plek om te begin is om te leer om bemoedigende woorde te spreek en doelgerig die negatiewe selfspraak te stop.
As Jesus nie so met jou sal praat nie, hoekom doen jy dit? Wees goedgesind teenoor jouself. Moenie net ‘n punt daarvan maak om lewe-gewende woorde tot jou vriende, kollegas, familie en bure te spreek nie – maak ‘n punt daarvan om dit teenoor jouself ook te spreek.
Kom ons maak ‘n ooreenkoms. Ek moet groei in hierdie area van my lewe, en ek dink dat ek nie die enigste een is nie. Sal jy dit saam met my doen? Ek gaan begin om met myself te praat as ‘n vriend. Ek gaan:
- Elke dag begin met ‘n gebed van dankbaarheid vir die manier hoe God my geskape het.
- Ek gaan 2 Korintiërs 10:5 memoriseer en dit in my lewe toepas. Ek gaan doelgerig die negatiewe gedagtes stop en dit met positiewe gedagtes vervang.
- Ek gaan uitreik na ‘n boesemvriendin en haar vra om vir my te bid vir hierdie area van my lewe. Ek dink om openlik te wees en te praat oor die stryd, help om die krag van die negatiewe woorde wat ek hoor, te verminder.
- Ek gaan fokus op die waarheid dat God my liefhet, altyd met my is en ‘n plan het vir my lewe. Daar is niks wat ek kan doen wat sal veroorsaak dat God meer of minder lief vir my sal wees as wat Hy reg nou is nie.
Wat van jou liewe vriendin? Sal jy dit saam met my doen?
Kom ons gesels: Watter ander items sal jy byvoeg by ‘n “praat met jouself soos ‘n vriend” lys?
Hê God Groots Lief,