Aangenaam tot Bitter
Deur Angela | Augustus 17, 2018
Dit voel onmoontlik om hoop te hê wanneer jy gevul is met pyn en verlies, en jou drome aan skerwe lê. Alhoewel dit moeilik is om te glo dat God naby is, slaap Sy soewereiniteit nooit nie. Wanneer ons pyn die diepste is en ons twyfel die grootste is, is God steeds met ons.
In hierdie stuk, staar Naomi ‘n krisis van geloof in die gesig. Baie mense in ons huidige tyd verstaan en deel die diepte van haar pyn. Sy het haar man en haar twee seuns verloor. Wat ‘n hoopvolle gevoel moet wees om na haar vaderland, Betlehem – die tuiste van haar God, haar geloof en haar mense – terug te keer, het haar leeg en in wanhoop gelaat. Naomi, wat aangenaam beteken, wil nou Mara genoem word, wat bitter beteken.
In haar hartseer, glo Naomi dat God haar straf. Wanneer ons wanhoop in die gesig staar, kan ons harte, net soos Naomi, na God toe uitroep.
Ek is bitter, Here, want U het bitterlik met my gehandel.
Hoe kan hierdie U plan wees, Here? Het ek U nie getrou gedien nie? Gee U selfs om?
Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? Hoe lank sal die vyand my nog oorheers? – Psalm 13:2-3
God reik nie net die volheid van Sy genade en oorvloedende liefde uit gedurende die goeie tye in ons lewens nie. God kan ons twyfel, ons vrede en ons pyn vir Sy glorie gebruik. Niks is gemors of doelloos nie. Ons kan seker wees dat al ons worstelinge en ons pyn in die liefdevolle hande van ‘n liefdevolle Vader is.
Naomi het haarself in haar pyn Mara genoem, want sy het nie God se genade raakgesien nie. Maar God het in Sy genade, haar geseën met ‘n liefdevolle man vir baie jare. In Sy genade, het Naomi en haar man twee sterk seuns gehad wat haar kon ondersteun en versorg na haar man se dood. In Sy genade, was haar seuns getroud met vrouens, haar skoondogters, wat haar geëer en gerespekteer het ten spyte van hulle Moabitiese opvoeding. In Sy genade was Naomi in staat om terug te keer na haar tuisland en haar geloof, in Betlehem, nadat God die land bevry het van ‘n erge hongersnood.
In God se genade, was Naomi nooit alleen nie. Sy het die liefde en die toewyding van haar skoondogter Rut gehad, wat dieselfde worstelinge met pyn en verlies as sy gehad het. In Sy genade, sou Naomi die ouma word van Rut se eersgeborene, Obed, en deel in die grootse afstamming van haar Messias, Jesus Christus. God se genade is uitermate meer oorvloedig as ons omstandighede, ons verlede of ons pyn.
God se genade stort liefde, goedheid, guns en vergifnis uit na almal wat hulle vertroue in Hom plaas. Sy genade verander alles. Ons plan vir ons lewe is dikwels drasties anders van God se doel vir ons lewens. Die uitdaging vir gelowiges is om elke ervaring van ons te filter deur die liefde van Jesus Christus en om Sy perspektief te vertrou, nie ons eie nie. Gelowiges moet versigtig wees om nie God se liefde vir ons te oordeel deur ons omstandighede nie. Wanneer ons ons lewens grond in God se beloftes in Sy Woord, gee dit ons die vertroue om Sy wil en Sy plan vir ons lewens te vertrou.
Ek hou vas aan U troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot die eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het. – Psalm 13:6
Naomi het gedink dat sy alles verloor het. Sy het gedink dat haar familie tot niet gegaan het. Sy het gedink dat God haar beproef het. Naomi was verkeerd. Alles wat sy gedink het verlore en vergane is, is herstel as ‘n deel van God se plan, vanweë Sy groot liefde. Daar is geen onbelangrike mense of omstandighede in God se verhaal nie. Selfs as ons daaraan twyfel, is God se liefde vir Sy mense ewig perfek, onvoorwaardelike en onvernietigbaar tot die einde van die eindes.
Het jou omstandighede jou geloof in God laat ontspoor? Hoe beperk jou emosies dalk jou vermoë om God se genade in jou lewe raak te sien? Hoe mag God dalk jou beproewings gebruik om jou geloof te versterk en Sy glorie te openbaar? Hoe kan ons vir jou bid soos jy God se genade in jou lewe raaksien?
Vrede en genade vir jou,