Sy was ‘n onwaarskynlike leier, maar haar liefde vir Jesus het haar tot aksie gelei. Van die begin van haar lewe af was sy nie wat die wêreld “sterk” sou noem nie. Sy was ‘n vroeggebore baba; as volwassene was sy ‘n gewone vrou wat nooit getrou het nie en ook nie ‘n universiteitsopleiding gehad het nie. Sy het jare lank stil in die familiebesigheid gewerk en ‘n Christelike klub vir jong meisies in haar gemeenskap aangebied.
Gedurende ‘n tyd van chaos en benoudheid het haar toewyding aan Jesus haar gedra. Sy was amper 50 jaar oud toe die Nazi’s haar tuisland binnegeval het. Dit was op daardie stadium dat die deernis van haar liefdevolle God haar gedwing het om vorentoe te tree, haar eie sekuriteit op te offer en ‘n veilige hawe vir die onderdrukte Joodse mense in haar gemeenskap te bied. Corrie Ten Boom het ‘n leier in die Nederlandse versetbeweging geword; haar moedige leierskap het harder gepraat as die haat van haar goddelose teëstanders. Die opoffering wat sy gemaak het, het lewens gered en ‘n ewige nalatenskap nagelaat.
Ester was ‘n onwaarskynlike leier. Die weeskind wat in koningin verander is, was ‘n kwesbare vrou in ‘n bedenklike situasie. Sy het nie hierdie posisie van aansien vir haarself gekies nie. Sy is deur ’n diktator koning, wat totale onderdanigheid geëis het, in die paleis geplaas. Tot op hierdie punt in haar verhaal het sy haar in stilte aan gesag onderwerp. Nou het die oproep vir haar gekom om haar ware identiteit ten toon te stel en om namens die onderdruktes te praat.
Vir die wêreld het sy heeltemal magteloos gelyk om enigsins ‘n verskil te maak. Hoekom moet sy dit waag? Haar sagte, klein stemmetjie sal waarskynlik nie eers gehoor word nie. Miskien moet sy liewer net na haar eie lewe omsien en nie vir haar mense pleit nie? Die waarskynlikheid dat die gevolge negatief sou wees, was baie groter as die moontlikheid van ‘n positiewe uitkoms.
Vriendin, dalk het jy al gewonder of jy moet stilbly in ‘n situasie waarmee jy te doen het, want die risiko lyk veel groter as die beloning. Jy is dalk nie die koningin van ’n politieke koninkryk nie, maar as ek kan raai het jy dieselfde angs en verwarring ervaar wat Ester op daardie dag moes gevoel het. Miskien word jy geroep om namens jou mense te praat of op te tree — jou kinders, jou kerkgemeenskap of jou naaste het dalk jou hulp nodig. Die onreg in hierdie wêreld val die weerloses aan en die Gees van God in ons roep ons om op te tree en te veg vir hul beskerming.
Voel jy magteloos om ‘n verskil te maak? Herinner jouself dat jy nie alleen veg nie. Groter is Hy wat in jou is as die onregverdige aardse gesag wat in jou wêreld skreeu.
Corrie en Ester se verhale behoort ons onseker harte aan te spoor om nie in te gee vir vrees nie, maar om te vertrou dat God se getroue liefde vir ons as vaste fondament sal dien. Aardse gesag gee dalk nie gehoor aan ons petisies nie, maar as God se koninklike dogters het ons altyd totale toegang tot die liefdevolle oor van God, die Almagtige. Ek en jy kan vandag met vertroue sy troon van genade nader en die genade en hulp vind wat ons broodnodig het vir watter situasie ons ook al in die gesig staar.
God se lojale liefde en waarheid sal jou vir ewig onderhou en die krag verskaf wat jy nodig het om met moed te praat en met sy goedgunstigheid vorentoe te tree in hierdie wêreld. Jou Hemelse Vader het ‘n openlike uitnodiging aan jou gerig om te dien as ‘n onwaarskynlike leier wat voortdurend voorspraak maak namens sy kinders in nood. Neem vandag jou petisie reguit na die Koning van die Konings en weet dat Hy met deernis namens jou en jou mense sal optree.